Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Beskerm jouself só teen Ponzi-skemas, ander bedrog
Bedrog: Enorme opbrengs altyd n rooi vlag
Moenie belê in iets wat jy nie verstaan nie, moenie jou ore om die braaivleisvuur uitleen nie en moenie probeer vinnig ryk word nie. Dít is kortom die beste maniere waarop jy keer dat jy die slagoffer van 'n Ponzi- of ander bedrieër word. Luister ook na die klankgreep wat 'n Ponzi-skema maklike verduidelik.
As jy belowe word jy kan vinnig baie geld maak, stap jy in 'n lokval in. Spaar en belegging is 'n langtermynspel.

Moenie belê in iets wat jy nie verstaan nie – selfs al ís dit ’n goeie belegging. As jy dit nie verstaan nie, weet jy nie wat die risiko van ’n belegging behels nie.

Moenie luister na kroegpraatjies nie – iemand wat besig is om geld te maak, kan beslis nie vir jou ’n objektiewe mening gee nie. Dis dalk nou net die ou wat nog betyds in ’n Ponzi-skema belê het om enorme opbrengste te behaal. Jy’s dalk die arme drommel wat belê wanneer die skema in duie begin stort.

Maar die belangrikste van alles is: Moenie onrealistiese verwagtinge oor opbrengste hê nie.

Dít is kortom die raad van Gavin Came, voorsitter van die komitee oor finansiële beplanning van die vereniging vir finansiële tussengangers van Suid-Afrika (FIA), na aanleiding van die nuutste beweerde bedrogspul wat oopgevlek is in die Suid-Afrikaanse beleggingswêreld.

’n Geoktrooieerde rekenmeester van Welgemoed in Kaapstad, Cobus Kellerman, word betrek by ’n beweerde Ponzi-skema wat via Mauritius sake gedoen het en na verneem word R200 miljard se bates onder bestuur het. Kellerman het na bewering bande gehad met Herman Pretorius, wat homself om die lewe gebring het toe sy bedrog aan die lig gekom het.

Lees nog: 

■ ​#topstories: Wie is ware Ponzi-slagoffers?

Luister na die SoundCloud: 

■ ​Só werk ’n Ponzi-skema


Duisende mense verloor jaarliks miljarde rande – dikwels hul aftreegeld – in twyfelagtige en bedrieglike “beleggings”. Hoe keer jy dat jy ’n slagoffer raak?


VERSKILLENDE SOORTE BEDROG

Geen swendelaar gaan jou ooit nooi om in sy Ponzi- of piramideskema of ander soort skelmspul te belê nie. Hulle gaan jou intrek met indrukwekkende syfers en woorde wat klink of dit wettige beleggingsinstrumente is.

In die geval van ’n Ponzi- én ’n piramideskema word jou geld egter nooit regtig in ’n werklike onderneming, eiendom of ander beleggingsinstrument belê nie. Die geld wat jy belê, word gebruik om die belegger voor jou se beloofde opbrengs te betaal. Net só word jou “opbrengs” betaal uit die geld wat die volgende belegger belê.

■ In ’n Ponzi-skema hoef jy net geld te belê – jy hoef niks verder te doen nie. In die geval van ’n piramideskema kry jy die kans om self ook geld te maak. Jy moet byvoorbeeld ’n franchise of onderneming “koop” of ander mense werf, waarop jy kommissie kan verdien. In ’n Ponzi-skema vorder die meesterbrein al die geld self in.

Die oomblik as genoeg nuwe beleggers nie gewerf word om bestaande beleggers se opbrengs te betaal nie, begin albei dié soort skemas inplof. Die kans is goed dat die skelms skielik die hasepad kies en nie hul fone antwoord nie of hul webwerf skielik nie beskikbaar is nie.

■ In sogenaamde 419-skemas word jy, gewoonlik uit die bloute uit, deur SMS, e-pos of telefonies genader as die wenner van ’n prys, lotery of “erfporsie”. Jy moet net eers ’n “administratiewe heffing” betaal voordat die geld oorbetaal kan word, waarna jy natuurlik nooit weer van die skelms hoor nie.

■ Ander skelmstreke is kuberkrakers wat toegang tot jou bankbesonderhede kry deur jou in ’n e-pos te laat klik op ’n skakel waar jy jou bankbesonderhede verklap, of iemand wat jou na bewering van Microsoft af bel en jou wil help om ’n fout op jou rekenaar reg te maak. ’n Skakel of wat later en jy het ook jou bankbesonderhede verklap.

’n Baie groter probleem is moontlik skemas wat op die oog af wettig is en wat geregistreerde finansiële raadgewers of makelaars bedryf, maar waar hulle óf buitensporige risiko’s met jou geld aangaan óf bloot nie die geld belê waar hulle sê hulle doen nie.


HOE LYK ’N SLAGOFFER?

Absoluut enigeen kan die slagoffer van ’n bedrogspul word. Die skemas word nie noodwendig op bejaardes gemik nie, maar baie bejaardes wat oor hul kwynende spaargeld bekommerd is, belê soms uit desperaatheid in sulke skemas.

Nog ’n groep wat kwesbaar is, is mense wat vinnig wil ryk word – dus eintlik gierig is.

Maar dis nie net desperate of gierige mense wat slagoffers word nie. Jy’s ook nie dom as jy jou geld só verloor nie. Die skelms is gewoonlik net baie gaaf en oortuigend – en dís waarom jy jou oë moet oophou en die truuks moet ken.


13 ROOI VLAE OOR BELEGGINGSKEMAS

Came stel dit só: “Enige skema wat ’n hoër opbrengs bied as wat die bank jou aanbied, maar terselfdertyd jou kapitaal waarborg, moet die alarms laat afgaan.”

Op die oomblik is die rentekoerse by banke betreklik laag, tussen 5% en 7%. Enigiets wat meer is as dít, is nie noodwendig ’n skelmspul nie, máár dan moet jy seker maak jy verstaan waarin jy belê en wat die risiko’s is.

Came sê historiese opbrengskoerse is nooit ’n waarborg van huidige opbrengskoerse nie. Dus, ’n belegging wat in 2014, sê maar, 14% opbrengs gelewer het, kan -3% in 2015 oplewer.

Loop lig as jy die volgende sien:

1. Loop lig as die beloofde opbrengs baie hoër is as die heersende rente- en opbrengskoerse.

Neem die langtermynopbrengs van verskillende bateklasse in ag om te bepaal of ’n opbrengs ongewoon hoog is. Die heersende rentekoers op ’n vaste deposito by banke wissel tussen 5% en 7%. Die aangehegte grafiek, wat inligting van Investec uitbeeld, wys onder meer die gemiddelde jaarlikse groei van aandele, effekte, kontant en genoteerde eiendom – sowel plaaslik as buitelands – oor die afgelope 20 jaar uit. Daarvolgens het SA aandele oor die afgelope 20 jaar gemiddelde groei van 15% per jaar behaal en genoteerde eiendom 20%.

As iemand jou dus 30%, 300% of iets belagliks aanbied, moet jy lont ruik.

2. Loop lig as jou kapitaal gewaarborg word. Dis ’n aanvaarde konsep in die beleggingswêreld dat hoër opbrengs met hoër risiko of, beter gestel, groter wisselvalligheid gepaardgaan. Net die bank kan jou kapitaal waarborg (en in ruil daarvoor bied hulle jou so 6% rente aan, as jy gelukkig is). Let wel dat jy nie van alle wisselvalligheid moet wegskram nie, maar Came sê jy moet dit verstaan en aanvaar. En ja, soos beleggers danksy die African Bank-drama geleer het, nie eens die veilige, laeopbrengs-geldmark kan jou geld “waarborg” nie

3. Loop lig as die opbrengs altyd dieselfde is. Met die uitsondering van ’n bankrekening met ’n gewaarborgde opbrengs, is daar wisselvalligheid in alle ander soorte beleggings, van aandele tot eiendom. As ’n konstante opbrengs gewaarborg word, is daar ’n sterk vermoede dat jou opbrengs betaal word uit nuwe beleggers se beleggings en nie uit die werklike opbrengs op die belegging nie, sê Came.

4. Loop lig as jy belowe word dat jy in ’n baie kort tydperk baie geld kan maak. Spaar en belegging is ’n langtermynprojek.

5. Loop lig as jy vertel word dis maklik om vinnig geld te maak of daar ’n geheime resep is. Dis veral waar van sogenaamde beleggingsghoeroes wat jou hul “geheim” van rykdom wil leer – jy moet net eers ’n kursus volg, ’n boek of CD koop of ’n “gratis” bekendstelling bywoon.

6. Loop lig as daar ’n amper evangelistiese, kultusagtige of klubatmosfeer om die sleutelfigure van die beleggingskema heers, sê Came. Dit word dikwels aangevoer deur uiters sjarmante mense van wie niemand ooit iets slegs kan sê nie – hulle word as ghoeroes beskou en hul aanhangers is amper soos dissipels (totdat die borrel bars).

7. Sien deur die goeie bemarking. Dikwels word groepsbyeenkomste gehou waar baie gesê word oor die “aspirasies van rykdom”, maar waar die besonderhede van hoe die skema werk, nie altyd uiteengesit word nie. “Daar’s baie oor die sizzle, maar min oor die steak,” sê Came.

8. Loop lig as begrippe wat indrukwekkend klink, gebruik word, maar die besonderhede wollerig is. Dit kan insluit hefboom-termynverhandeling, hoë-opbrengsbeleggingsprogramme, buitelandse investering, waagkapitaal, oorbruggingsfinansiering en so meer.

9. Loop lig as jy aangemoedig en beloon word om ander mense vir die beleggingskema te werf. Jy kan byvoorbeeld kommissie verdien deur ander beleggers te lok, of jy kry 10% terug vir elke 12 beleggers wat jy lok. (Let net daarop dat die konsep van aansporingskemas op sigself nie die probleem is nie. As jy ’n werklike produk soos Tupperware of Herbalife verkoop, verdien jy ook kommissie op jou verkope, maar dit beteken nie dis ’n piramideskema nie.) Wees gewaarsku: ’n Piramideskema is onwettig. As jy deel word daarvan, kan jy strafregtelik vervolg word én daar kan van jou verwag word om jou kommissie en ander inkomste terug te betaal.

10. Loop lig as slegs eenmalige beleggings (dikwels boonop gewoonlik ’n aardige minimum bedrag) aanvaar word. Met die uitsondering van 419-skemas, soek min skelms jou R200-belegging of wat per maand. Een twyfelagtige skema het byvoorbeeld aanvangsgelde van R50 000 en ’n minimum belegging van R1 miljoen gevra.

11. Loop lig as jy gedruk word om dadelik te belê. Jy word vertel dis ’n “beperkte aanbod” wat net ’n kort tydjie geld – jy moet gou spring of jy gaan hierdie goue geleentheid verloor! Skelms weet as jy tyd vat om eers oor iets te dink en ’n kenner se mening in te win, gaan jy moontlik van plan verander. Die Reserwebank beveel juis aan dat jy eers oor ’n belegging slaap – en verkieslik eers die menings van kenners inwin.

12. Loop lig as jou finansiële tussenganger ’n aardige kommissie op die beleggingsproduk verdien. 

Lees nog:

Só kies jy 'n ​finansiële beplanner

13. Loop lig as die maatskappy nie lank bestaan nie, al van naam verander het of die eienaar van die maatskappy verskeie maatskappye het of gehad het. Gaan na of die maatskappy as ’n finansiëlediensteverskaffer (FSP) geregistreer is. “Hoewel nie alle maatskappye móét registreer nie, is die kans groter dat dié wat wel registreer, ’n legitieme beleggingsproduk bemark,” sê Came.


Gebruik dié gids oor 20 jaar om te bepaal of die opbrengs wat aan jou beloof is, onrealisties is of nie.
Vermy die desperate besef dat jy te min gespaar het vir jou aftrede deur reeds van jonk af versigtig te leef en baie te spaar.

4 MANIERE OM JOU GELD TE BESKERM?

“Jy is jou eie beste beskerming,” skryf die Reserwebank op sy webwerf. Anders gestel: Skeptisisme is jou beste vriend.

Vra jouself byvoorbeeld af: As dit dan so ’n goeie belegging of sakegeleentheid is, waarom raap die mense wat dit aan my wil verkoop, dit nie alles self op nie?

’n Voorbeeld van ’n soort belegging waaroor finansiële joernaliste jare lank gewaarsku het, is wanneer die belegger die skuld van ander mense “koop” deurdat hulle eintlik belê in loonbeslagorders. Noudat die onderneming Bridge, wat opbrengskoerse van 19% en hoër belowe het, in sakeredding geplaas is, is dit duidelik hoe riskant sulke beleggings eintlik is.

Ander advertensies waarvoor ons persoonlik sal lig loop, is die belofte: “Verdien tot R30 000 per maand, vinnig en maklik!” Gewoonlik moet jy net eers betaal vir ’n handleiding, CD of kursus – en dit is eintlik al wat hulle doen, ’n produk verkoop. Vra jouself af: As dit so maklik was om so baie geld te maak, sou baie meer mense al ryk geword het, nie waar nie? Let op, hier word niks onwettigs gedoen nie, maar die bemarking, met die beloofde verdienste, is beslis misleidend.

Hier is nog riglyne (met hul uitsonderings):

1. Moenie al jou geld in een mandjie sit nie.

Die goue reël van belegging is dat jy in verskillende bateklasse (kontant, eiendom, aandele en effekte) belê. Dit beskerm jou teen wisselvalligheid – verskillende bateklasse vaar in seker markomgewings beter en as jy gediversifiseer is, is jy in ’n mate verskans teen wisselvalligheid. Die gewone, klein beleggers kan dié soort diversifikasie deur onder meer ’n gebalanseerde effektetrust bereik.

Uitsondering: Iemand wat jonk is, geld lank wil belê en die beste moontlike langtermyngroeikoers wil hê, kan met ’n betreklik geruste hart al sy geld in aandele belê. Dit beteken egter steeds nie al sy geld moet in een maatskappy belê word nie – selfs op die beurs kan jy in verskillende sektore en verskillende maatskappye diversifiseer.

2. Moenie geld leen om te belê nie. 

Wanneer beleggingskemas en -skelmspulle inplof, kom dit dikwels aan die lig hoeveel mense ’n tweede verband op hul huis uitgeneem het om geld daarin te belê in die hoop dat hulle vinnig ryk sal word. ’n Goue reël is dat ’n mens nie skuld maak om geld te maak nie – jy belê jou “ekstra” geld.

Uitsondering: Daar is ’n verskil tussen skuld en hefboomfinansiering. Laasgenoemde is as jy byvoorbeeld eiendom koop om te verhuur in die hoop dat jou huurinkomste die verband en ander uitgawes sal dek. As jy nie hefboomfinansiering verstaan nie, wees versigtig, maan Came. Vra jouself af: “As ek nou dadelik al die geld moet terugbetaal, of as ek al die geld wat ek geleen het, verloor, hoe diep in die sop is ek?”

3. Moenie by jou vriende, familielede of bure geld belê of in ’n skema belê omdat hulle “almal” dit doen nie. 

As jy mense vertrou en vir hulle lief is, is jy te emosioneel betrokke om werklik ’n objektiewe oordeel te vel. Kry eers onafhanklike raad (en luister daarna!). Daar is geen uitsondering op dié reël nie!

4. Begin vroeg en spaar hard. 

Vermy die desperate besef dat jy te min gespaar het vir jou aftrede deur reeds van jonk af versigtig te leef en baie te spaar. Ook geen uitsondering hier nie!


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.