Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Huisverband vs aandelebelegging
Geldkliniek: Waar sit ek my ekstra geld?
As jou rentekoers laer as prima is, is dit dalk beter om geld in aandele te belê as om dit jou huisverband vinniger af te betaal - maar dis nie 'n eenjaarplan hierdie nie. Illustrasie: iStock

’n Leser vra:

Ek betaal maandeliks ekstra geld in my huisverband. Sal dit wys wees om eerder die basiese paaiement op my huis te betaal en die ekstra geld in aandele te belê?

Andró Griessel antwoord:

Van al die vrae wat ons kry, is dit seker die algemeenste en waarskynlik een van die meer toepaslike vrae.

Ek verstaan lesers se frustrasie wanneer hulle ’n vraag soos hierdie een vra en die antwoord altyd met ’n “maar” kom. Ek sê dikwels vir my kollegas dat ­kliënte na ons toe kom vir advies, nie vir opsies nie. Die kort antwoord op die leser se vraag is dus, uit my oogpunt: Ja!

Dit behóórt (ek wens ek kon sê sál) beter te wees om slegs die verpligte verband te delg en die balans in aandele te belê. Die rede waarom ek dit sê, lê opgesluit in die onderstaande voorbeeld.

Gestel jou syfers lyk só:

■ Verband = R1 miljoen

■ Termyn = 20 jaar

■ Rentekoers = 8% (prima minus 1,25%)

■ Verpligte paaiement = R8 364 per maand

■ Ekstra geld beskikbaar = R2 000 per maand

Indien die leser onder dié voorwaardes die ekstra R2 000 per maand in sy verband sou stort, hy die afbetalingstydperk sal afbring van 20 jaar (240 maande) na ongeveer 13 jaar (155 maande). Dit is ’n groot verbetering.

Indien hy egter sy geld kon belê in aandele en 15%-groei verkry, sou hy sy verband (nadat kapitaalwinsbelasting op die aandele betaal is) in 134 maande (of bykans twee jaar vroeër) afbetaal.

Terloops, enige opbrengs op sy belegging beter as 9% behoort die leser in ’n beter posisie te plaas as om ekstra geld op sy lening af te betaal.

Diegene wat hou van kort (in plaas van volledige) antwoorde kan dus maar hier ophou lees en gaan gras sny of blare hark. 

Dié van julle wat egter deur ’n behoorlike besluitnemingsproses wil gaan, sal goed doen om van die volgende punte kennis te neem.

■ Opbrengste uit aandele, hoewel dit 15% gemiddeld oor die laaste 20 jaar opgelewer het, kan vir lang periodes lae en ook negatiewe opbrengste oplewer. Hierdie is dus nie ’n eenjaar- of selfs driejaarstrategie nie. As jy op kort termyn dink, kan jy jou vingers goed verbrand.

■ As jy in plaaslike aandele in die breë gaan belê, is die kanse dat jy jou verbandkoers wesenlik gaan uitpresteer oor die volgende jaar of drie waarskynlik nie goed nie.

■ Uiteraard is jou rentekoers belangrik. Ek sien dikwels mense wat prima -2%-verbande het. Dit is heelwat makliker om hierdie koers te klop as iemand wat ’n rentekoers van prima +0,5% het.

■ Ons is in ’n tydperk van laer rentekoerse en dit lyk asof dit nog vir ’n rukkie so sal wees. As rentekoerse drasties styg, raak die saak vir eerder in ’n belegging belê natuurlik heelwat swakker.

■ Jy behoort verder verskillend na verhuringseiendom as jou private woning te kyk, na my mening. Verhuringseiendom se rente is ’n belastingaftrekbare uitgawe. Jou effektiewe rentekoers is dus selfs laer nadat belasting in ag geneem is. Ek sou dus baie huiwerig wees om ekstra aan verhuringseiendom af te betaal.

■ Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en welvaartbestuurder van ProVérte Wealth Management (www.proverte.co.za) in Somerset-Wes. Sy e-posadres is ​andro@proverte.co.za. 

■ Stuur jou geldsakevraag na ons by ​geldsake@media24.com en ons sal ’n kenner op die gebied vra om dit vir jou te beantwoord.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.