Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Minder stres, meer wins
Geldslim werknemers is ’n bate
Finansiële opvoeding help motiveer personeel
Geld is nie altyd ’n motiveerder vir goeie werkgedrag nie, maar daar is bewyse dat ’n werkgewer wat in die finansiële opvoeding van sy werknemers belê, wel sukses behaal om hulle te motiveer om verstandige finansiële beslu

Dit is nie net Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers van 24,3% wat die land se ekonomie knou en maatskappye terughou nie.

“Een van die belangrikste uitdagings in die volgende paar jaar is hoe maatskappye personeellede sal werf, behou en ontwikkel, want dit raak die prestasie van die onderneming en uiteindelik die ekonomie,” sê prof. Llewellyn van Zyl, ­nuwe president van die vereniging vir bedryfsielkundiges ­(Siopsa).

Dié uitdaging geld deesdae vir alle maatskappye in elke sektor, en navorsing oor welstand en geluk in die werkplek dui daarop dat byna die helfte van die wêreld se bevolking betreklik ongelukkig is by die werk.

Daarom is dit belangrik dat maatskappye wat hul prestasie wil verhoog, ook na die welstand van hul werknemers omsien, waarsku Van Zyl.

“Daar is voldoende bewys dat ongelukkige werknemers laer vlakke van produktiwiteit en motivering handhaaf, hoër afwesigheidskoerse het en dat die organisasie se personeelomset hoër is as wat dit behoort te wees.

“Die situasie kan selfs lei tot onetiese gedrag wat finansiële verlies vir die organisasie tot gevolg kan hê.”

Sy aanbeveling is dat maatskappye moeite doen om in hul werknemers se individuele en profes­sionele ontwikkeling te belê.

“Geluk in die werkplek is die uitkoms van ’n individu se subjektiewe ondervinding van persoon­like welstand, hetsy op sosiale, emosionele of finansiële gebied.

Ons is intens bewus daarvan dat ’n groot getal Suid-Afrikaners erg in die skuld is en dit het beslis ’n uitwerking op hul werkprestasie.
Frank Lenisa, direkteur van Compuscan

Finansiële welstand

Oor finansiële welstand sê Van Zyl dit is ’n samestelling van ’n hele aantal eienskappe en faktore. Dit sluit in persoonlikheid, persoonlike ontwikkeling, die stadium waarin jou loopbaan is, jou aptyt vir risiko, finansiële gedrag (insluitend die manier waarop finansiële hulpbronne bestuur word) asook finansiële stresfaktore soos onverwagse mediese uitgawes.

Die doeltreffende en strategiese bestuur van jou persoonlike finansies bepaal dus die mate waartoe jy finansiële welstand ervaar.

Dat finansiële welstand toenemend ’n probleemgebied word, sien Frank Lenisa, direkteur van Compuscan, een van Suid-Afrika se groot kredietburo’s, elke dag.

“Ons is intens bewus daarvan dat ’n groot getal Suid-Afrikaners erg in die skuld is en dit het beslis ’n uitwerking op hul werkprestasie.”

Dwase besluite

Lenisa wys op navorsing van die ekonoom Dawie Roodt waarin hy aantoon dat daar Suid-Afrikaners is wat tot 107% van hul maandelikse inkomste gebruik om skuld te probeer delg.

“Dié kommerwekkende toedrag van sake weerspieël ook die feit dat baie Suid-Afrikaners nie finansieel geletterd is nie en dat hulle ’n voortdurende stryd het om die stygende lewenskoste baas te raak. Dit lei daartoe dat hulle dwase finansiële besluite neem.”

Lenisa wys daarop dat dié probleem twee kante het. Nie net is werknemers se finansiële welstand noodsaaklik vir hul maatskappy se prestasie asook vir die land se ekonomiese groei nie, maar hul eie gebrek aan insig in hoe om hul skuld te bestuur, beteken dat die probleem aanhou uitkring.

Compuscan het ’n oplossing bedink in die vorm van ’n program, My Credit Check Manag­er.

Dit bied aan werknemers hul volle kredietverslag en die stand van hul kredietwaardigheid. Daarby kry hulle wenke oor hoe om hul skuld te beheer en hul kredietreputasie te verbeter. Ander groot kredietburo’s, soos TransUnion, bied ’n soortgelyke diens.

“Die maatskappy kan nou op ’n praktiese manier ’n gevestigde belang in sy werknemers toon.”

Geld nie ’n motiveerder

Hy wys daarop dat wanneer op dié manier in die finansiële welstand van werknemers belê word, dit nie beteken dat salarisverhogings of bonusse nou nie meer betaal hoef te word nie. Mense moet net besef dat geld nie ’n motiveerder vir goeie gedrag is nie.

“Daar is bewyse dat ’n werkgewer wat in die finan­siële opvoeding van sy werknemers belê deur gestruktureerde programme oor skuldbeheer, die opstel van ’n persoonlike begroting en die bestuur van finansiële stresfaktore, dikwels meer sukses behaal om werknemers te motiveer om goeie finansiële gedrag te openbaar.” 

– Verwerk deur Vida Booysen

Persoonlike lenings

Gapings in die Nasionale Kredietwet het meegebring dat persoonlike lenings die afgelope vyf jaar skerp gestyg het – en daarmee saam swak skuld.

Ongesekureerde lenings het van 2008 tot 2014 van R40 miljard tot R172 miljard gestyg.

Volgens Lyndy van den Barselaar, besturende direkteur van Manpower Suid-Afrika, word daar bereken die gemiddelde werknemer bestee tot 15 uur per maand daaraan om sy skuldprobleme te probeer ontrafel. “Hulle kry selfs ’n tweede werk om uit die skuldstrik te probeer kom, wat beteken dat hulle soms nagskofte moet werk en dus hul werkprestasie in die dag belemmer.”

Die onlangse Nasionale Kredietwysigingswet bevat nou nuwe regulasies wat kriteria stel waarvolgens bekostigbaarheid bepaal moet word, maar die strenger kriteria laat ook ’n gaping vir geldskieters wat nie gereguleer is nie en geld onwettig en teen hoë koste voorskiet aan mense wat nie vir lenings kwalifiseer nie.

Van den Barselaar sê die gevaarligte moet flikker vir die werkgewer wanneer die loonbeslagleggingsbevel wat hom beveel om skuld van sy werknemer se salaris te verhaal, nie ’n amptelike stempel het nie, of as die saaknommer nie daarop verskyn nie.

“Kyk ook of die bevel die handtekening van die klerk van die hof of die skuldeiser se prokureur op het.

“Die duidelikste teken dat die beslaglegging onwettig is, is as die rente wat op die skuld gehef word meer is as die uitstaande gedeelte van die skuld – dit word duidelik deur die Nasionale Kredietwet verbied.” 

– Vida Booysen

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.