Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
JSE-storms: Bly kalm en hou aan belê
Die JSE het die afgelope week letterlik wipplank gery en beleggers is senuagtig. Moet jy nou jou aandele verkoop en ál jou geld in goud, die geldmark of onder jou kopkussing belê? Kenners gee raad.
Laat die daling van aandeelpryse jou sweet? Bly kalm en lees verder. Foto: iStock

Bly kalm en fokus op die Wêreldbeker-rugbytoernooi of wat ook al jou voorkeur-afleiding is. Wat jou beleggings betref, gaan (met enkele uitsonderings) bloot voort met jou langtermynplan.

Dít is kortom die raad van finansiële adviseurs en batebestuurders in die lig van die enorme wisselvalligheid op wêreldmarkte die afgelope week.

Die JSE se indeks van alle aandele het wel die afgelope jaar met meer as 5% gedaal, maar dit sluit álle maatskappye in en is moontlik nie die beste maatstaf van die opbrengs wat jy op die beurs kan behaal nie.

Sukses in die beleggings-omgewing al dan nie, hang grootliks af van die kwaliteit van die proses wat jy volg.
Andró Griessel

Kyk na jou proses

“Sukses in die beleggingsomgewing al dan nie, hang grootliks af van die kwaliteit van die proses wat jy volg,” sê Andró Griessel, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en Sake se gereelde rubriekskrywer.

“As jou fondsbestuurder en/of finansiële adviseur ’n gedissiplineerde proses volg en jy langtermyndoelwitte het, is daar géén rede om af te wyk van jou beplanning weens korttermyn-skommelinge of -dalings nie. Skommelinge is natuurlik en behoort te wagte te wees.”

Risiko vs. wisselvalligheid

“Dis die moeite werd om net weer uit te wys dat risiko en wisselvalligheid nie dieselfde is nie,” sê Doug Turvey, ’n portefeuljebestuurder van Cannon Asset Managers. “Prysbewegings maak ’n aandeel nie meer of minder riskant nie, dit maak dit meer wisselvallig.”

“As jy ’n korttermyn-beleggingshorison het, dan is wisselvalligheid wel vir jou ’n risiko. Maar as jy van plan is om die aandele vir ’n langer tyd te hou, verteenwoordig daardie wisselvalligheid nie vir jou ’n risiko nie.”

Algemene raad

  • Moenie net by een batebestuursfirma belê nie. Kies firmas met verskillende beleggingstyle om te help om jou risiko te versprei.
  • Onthou dat jy kapitaalwinsbelasting betaal as jy aandele, effektetrusts of enige ander belegging (ook ’n tweede eiendom) verkoop.

Batetoewysing

Alwyn van der Merwe, Sanlam se direkteur van beleggings, sê batetoewysing behoort met die oog op die lang termyn geneem te word.

Batetoewysing verwys na hoeveel van jou geld in die verskillende bateklasse belê is. Dit sluit in aandele, kontant (wat die geldmark insluit), effekte (hoofsaaklik staatseffekte) en eiendom.

’n Gebalanseerde portefeulje sal te alle tye ál die bateklasse bevat, maar hier is ’n kykie na hoe jy nou moet dink.

Aandele: Verkoop... of dalk koop?

Gesoute beleggers soek goeie aandele uit, selfs al daal die aandelebeurs. Foto: iStock

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, sê die daling op die beurs is nie ’n verrassing nie – dis iets waaroor al langer as ’n jaar gewaarsku word, veral omdat aandele baie oorgewaardeer is. “Mense moenie dieselfde opbrengs nou verwag as die afgelope paar jaar nie.”

Statistieke

Griessel sê die afgelope 20 jaar was daar nie minder nie as 18 gevalle waar die JSE se indeks van alle aandele met meer as 10% in ’n kort tydjie gedaal het. By vier geleenthede was die dalings meer as 20% en by drie was dit meer as 30%.

Onmiddellik ná dié skerp dalings het die mark met ’n kumulatiewe 224% (13,2% per maand) gestyg in 17 uit die 18 kere.

Dit beteken mense wat aandele verkoop het tydens die daalfase, sou nie voordeel getrek het uit die styging daarna nie.

As mense hulle nie aan die daaglikse wisselvalligheid steur nie, maar dalk kwartaalliks of selfs net jaarliks na hul beleggings kyk, sal hulle ’n baie meer eweredige prentjie kry en dus “aansienlik minder geneig sal wees om emosioneel op te tree en moontlik beleggingsfoute te begaan,” volgens Griessel – raad wat selfs Warren Buffett al gegee het.

Tydsberekening

Vorster sê op lang termyn bly aandele ’n “groeibate”. Mense wat nou verkoop met die oog om weer te koop wanneer die mark op sy laagtepunt is, probeer die tydsberekening regkry – en daar is statisties gesproke omtrent glad nie ’n kans dat mense op presies die regte punt verkoop of weer koop nie.

“As jou portefeulje baie swaar is in aandele of jy in die volgende paar maande geld gaan nodig hê, kan dit wys wees om ván jou aandele te verkoop. Maar as dit oor 10, 20 of 30 jaar jou pensioengeld is, moenie verkoop nie.”

Kyk wel na individuele aandele

Griessel sê dit beteken nie mense moet belê en dan die kop in die sand steek nie. “As jy in ’n enkele aandeel belê is met ’n sikliese aard (soos sekere hulpbronaandele) of jy het ’n baie groot blootstelling aan een of twee aandele wat wesenlik oorgewaardeer is, dan sal die handhaaf van die status quo heel moontlik nie die gewenste uitkoms hê nie.

“Dit is baie belangrik om te verstaan dat aandeelpryse oor tyd groei in die tempo waarin die verdienste van die maatskappye groei. In ’n maatskappy soos SABMiller of British American Tobacco is hierdie groei stelselmatig en voorspelbaar en behoort jy dan ook te verwag dat hul aandeelpryse ’n soortgelyke tendens sal volg as die JSE se algehele indeks.

“Sekere hulpbronaandele se winste en verliese kom egter met rukke en stote. By tye maak hulle rekordwinste en by ander tye ly hulle rekordverliese weens faktore soos vraag en aanbod na kommoditeite en wisselkoersskommelinge.”

Totale opbrengs

Turvey sê beleggers moet koop met die oog op die totale opbrengs (die langtermynstyging in die aandeelprys tesame met die deurlopende dividende). Dan sal hulle hulle nie blind staar teen die daaglikse skommeling van aandeelpryse nie.

Turvey beaam dis baie belangrik dat mense na die gehalte kyk van die aandele waarin hulle belê. Dit help nie jy koop ’n maatskappy nét omdat sy dividend hoog is nie – dis ook iets wat maatskappye soms doen as hulle in die moeilikheid is of nie groeivooruitsigte het nie.

“Identifiseer maatskappye met ’n robuuste balansstaat, sterk kontantvloei en gesonde korporatiewe beheer.”

Koopgeleenthede

’n Dalende aandelebeurs bied boonop puik koopgeleenthede, mits jy kyk na maatskappye wat kerngesond is.

Effektetrustfondse: Hoe gemaak met debietorder?

Jy moet eenvoudig ontspan en die mense aan wie jy die geld toevertrou het, toelaat om hul werk te doen
Andró Griessel

Vorster sê mense wat maandeliks per debietorder in effektetrustfondse belê, moet doodeenvoudig daarmee voortgaan. As die mark daal, kan hulle dit selfs oorweeg om méér geld te belê – “jy koop dan meer bates vir jou geld”.

Daar is al baie geskryf oor die voor- en nadele van aktief bestuurde effektetrustfondse teenoor passiewe fondse wat bloot ’n indeks volg en in 2014 het passiewe fondse baie beter presteer. Wanneer dit goed gaan op die aandelebeurs, lewer ’n indeksvolgfonds uiteraard ook ’n stewige opbrengs teen ’n gewoonlik laer koste.

As dit egter minder goed gaan op die aandelebeurs, is dít juis waar ’n aktief bestuurde fonds dalk tot sy reg kan kom.

As jy in ’n gebalanseerde effektetrustfonds belê is, het jy die voordeel van ’n batebestuurder wat heeltyd self die portefeulje herbalanseer. Elke fonds het ’n maksimum persentasie wat in elke bateklas belê mag word, maar daar is nooit ’n minimum nie. Dus sal ’n versigtige batebestuurder dalk soms van die geld wat in aandele belê is, na effekte, kontant of eiendom verskuif. Boonop sal daar ’n verskuiwing tussen aandele wees.

“Jy moet eenvoudig ontspan en die mense aan wie jy die geld toevertrou het, toelaat om hul werk te doen,” sê Griessel.

Eiendom: Is koop-om-te-verhuur die antwoord?

Eiendom in die een of ander vorm is altyd deel van ’n gebalanseerde portefeulje, maar geen portefeulje moet nét uit eiendom bestaan nie.

Die opbrengs op koop-om-te-verhuur-eiendom is “redelik en stabiel”, maar Turvey sê daar is ’n al hoe groter risiko dat huurders wanbetaal weens finansiële probleme. Daarby groei heelwat eiendomspryse nie op die oomblik in reële waarde nie, sê Turvey.

Wat genoteerde eiendom betref, is die verwagte opbrengs vanjaar nie so hoog soos vorige jare nie, maar dis ’n stabiele belegging op lang termyn.

Effekte en kontant: Moet ek bank of geldmark toe met al my geld?

Werklike inflasie het nie saam met die rentekoerse gedaal nie, wat beteken inflasie vreet die opbrengs weg.
Doug Turvey

Weer eens moet iets soos ’n vastedeposito-spaarrekening of geldmarkfonds deel wees van jou finansiële beplanning, en danksy die verwagte styging in rentekoerse al jou opbrengs in dié bateklas wel styg oor die volgende paar jaar. Maar...

“In die verlede kon beleggers hoë en stabiele inkomstevlakke uit stabiele bateklasse soos kontant en effekte verdien,” sê Turvey. 

“Die afgelope paar jaar het rentekoerse wêreldwyd egter aansienlik gedaal en dit lyk asof dit betreklik laag gaan bly, selfs al sou groot ekonomieë (soos Brittanje en die VSA) dalk koerse begin verhoog.

Werklike inflasie het nie saam met die rentekoerse gedaal nie, wat beteken inflasie vreet die opbrengs weg, sê Turvey. 

Jy sal dalk aan die einde van die vaste termyn jou oorspronklike kapitaalbedrag terugkry, maar as inflasie in ag geneem word, is jou kapitaal baie minder werd as toe jy dit belê het.

Van der Merwe beaam op lang termyn is daar steeds ’n groot waarskynlikheid dat beleggers se kapitaal gaan krimp in dié bateklas.

Oorsee - is dít die antwoord op swak rand?

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, en aanbieder van die program Sakegesprek met Theo Vorster, wat voorheen op kykNET was.

Oorsese diversifikasie behoort deel te wees van jou langtermynstrategie, nie ’n paniekbesluit omdat die rand verswak het nie.

Vorster sê op die oomblik is die wisselkoersrisiko baie hoog (en daarmee bedoel hy die kans dat die rand gaan versterk ook).

Sy advies is indien jy nog nie oorsese blootstelling het nie, jy dit oor die volgende 12 tot 18 maande infaseer en dan die geld daar hou, selfs al versterk die rand weer.

Vorster sê so lank as wat hulpbronpryse swak is, sal die rand onder druk bly. Hulpbronsiklusse kan jare lank duur, maar die daling in hulpbronpryse duur nou reeds drie jaar lank.

Goud: Wat van iets soos Krugerrande?

Om [goud] te koop, is spekulasie, nie ’n belegging-strategie nie – nes ’n belegging in haaitande of eksotiese potte.

Fisieke goud is in die verlede as ’n toevlugsoord beskou en baie mense dink daarom weer daaraan om gedenkmunte of Krugerrande te koop. 

Daar is selfs finansiële adviseurs wat dit aanbeveel, veral omdat die rand tans swak is.

“Nee, goud is nie ’n produktiewe bate nie,” sê Vorster. Dit beteken goud kan nie geld verdien of inherent groei soos ander bates nie.

“Goud is iets waarin jy belê as jy regtig glo dis die einde van produktiewe bates – soos ’n belegging in besighede (aandele). Produktiewe bates groei dalk stadiger, maar dit groei steeds. Om gedenkmunte of Krugerrande te gaan koop, is spekulasie, nie ’n beleggingstrategie nie – nes ’n belegging in haaitande of eksotiese potte.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.