Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Kan jy nog op trusts vertrou?
As jy 'n trust het of beoog as deel van jou belasting- en boedel-beplanning, moet jy regop sit.
Andró Griessel

Die belastinggaarder is ’n bok en ’n bok is ’n jy weet wat!

Die minister van finansies het in 2013 ’n komitee in die lewe geroep om sekere belastingaspekte te hersien.

Die komitee onder leiding van regter Dennis Davis het in Julie sekere aanbevelings vir bespreking ter tafel gelê.

Van hierdie aanbevelings laat die hare (dié wat ek nog nie weens beurtkrag uitgetrek het nie) op my kop regop staan. Die volledige verslag is beskikbaar by ​www.taxcom.org.za, maar ek wil graag net ’n paar van die – kan ek dit waag om te sê, omstrede – aanbevelings uitlig:

■ Die afskaffing van die geleibuisbeginsel. Dit is die gebruik dat winste en inkomste wat in ’n trust verdien word, reguit deurvloei na die begunstigdes.

Dit was ’n baie doeltreffende belastingvermydingsmaatreël wat trustees toegelaat het om byvoorbeeld die belastingbasis van minderjarige kinders of begunstigdes sonder ’n inkomste te gebruik om kapitaalwins en inkomste teen af te wentel. As hierdie voorstel aanvaar word, en ek vermoed dit sal, sal dit wesenlike inkomstebelastingimplikasies vir baie mense inhou.

■ ’n Hoër kapitaalwinskoers op die verkoop van trustbates. Geen melding word gemaak van hoeveel hoër nie.

■ Uitkerings uit buitelandse trusts moet as inkomste belas word.

■ Die verhoging van die huidige art. 4a-vrystelling van R3,5 miljoen tot R6 miljoen, maar die algehele verwydering van art. 4q – bemaking aan ­gades of die beperking daarvan tot ’n sekere limiet.

Daar is wel sprake van ’n toegewing dat die langslewende se vrystelling van R6 miljoen ook benut kan word by die eerssterwende, wat dan die belastingvrye eerste boedel sal opstoot tot R12 miljoen.

Alles bo dít sal egter dan twee keer belas word. Om dit teen te werk, is die voorstel dat daar dalk ’n tienjaartydperk ná die afsterwe van die eerste gade moet wees waarin die boedel vrygestel is van verdere boedelbelasting.

■ Die insluiting van alle bydraes tot ’n aftreefonds ná 1 Maart 2015, wat voorheen nie toegelaat is in die bepaling van belasbare inkomste nie, in die berekening van boedelbelasting.

Dié was ’n slim skuiwergat waarby ’n persoon kort voor sy dood ’n groot bedrag kon belê in ’n uittree-annuïteit, dan daaruit aftree en die bydrae wat hy gemaak het tot die annuïteit (en nog nie in sy jaarlikse inkomstebelasting teruggeëis het nie) as ’n aftrekking kon gebruik in die berekening van belasting op enkelbedrae.

Die uiteinde van hierdie struktuur was dat die bedrag nie net uitgesluit was vir boedelbelasting nie, maar dat die erfgename die kontant, vry of feitlik vry van belasting, kon ontvang.

■ Bemakings tussen gades bly steeds vry van skenkings­belasting, behalwe die skenking van eiendom of aandele. Dit is onduidelik uit die verslag of hulle met aandele ook bedoel kollektiewe beleggingskemas (effektetrusts). Skenkings om inkomste te verdeel asook boedelgroeibeperking word deur hierdie aanbeveling teengewerk.

■ Wat ook onder hierdie afdeling in die slag gaan bly as die Davis-komitee sy sin kry, is donatio mortis causa oftewel bemakings in afwagting van dood wat tans spesifiek vrygestel is kragtens art. 56(1)(c). In kort sou dit dus baie moeilik wees om boedelbeplanning kort voor jou dood te probeer doen.

Net aanbevelings

Voordat jy egter besluit om jou gesin se erfporsie te gaan uitgee of jou trust te gaan ontbind omdat die belastinggaarder sy kloue op alles gaan kry, is dit belangrik om te noem dat hierdie aanbevelings slegs dit is, aanbevelings. Daar is nog heelwat water wat in die see moet loop voor dit ’n realiteit word en die publiek het ’n geleentheid om op die voorstelle te reageer.

Die beplanning is egter om veranderings van 1 Maart 2016 effektief te maak, wat beteken daar is nou ’n mate van dringendheid hieroor.

Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat, indien die meeste van hierdie voorstelle goedgekeur word, daar wesenlike veranderinge aan baie mense se beplanning aangebring sal moet/behoort te word.

Jy en jou beplanners sal met ’n nuwe bril na alles van die bedoeling agter jou trust tot testamente, begunstigdeklousules op polisse en tipe beleggingsprodukte wat benut word, moet gaan kyk.

■ Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte W​ealth and Risk Management. Hy skryf tweeweekliks vir Sake. Volg hom op Twitter by @Andro720​911.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.