Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Kommer oor ‘aftrede-apatie’
Ál meer betaal skuld met pensioengeld
Leer uit die foute van ander afgetredenes...

Suid-Afrikaners is kommerwekkend apaties oor hul aftreebeplanning en al hoe meer mense gebruik hul pensioengeld om skuld te betaal wanneer hulle van werk verander of afgelê word.

Net een uit elke vier Suid-Afrikaners sal hul leefstyl kan handhaaf wanneer hulle aftree.

Dit is van die hoofbevindinge van die 2015 Sanlam Benchmark-peiling, wat Donderdag bekend gemaak is.

Dié peiling (nou in sy 34ste jaar), is ’n omvattende jaarlikse hersiening van die Suid-Afrikaanse aftreebedryf. Meer as 1 000 lede van aftreefondse, trustees en werkgewers is hiervoor ondervra.

Volgens die peiling het die persentasie pensioentrekkers wat as werkendes geld uit hul aftreefondse onttrek het as hulle bedank het of afgelê is, van 21% in 2014 tot 25% in 2015 toegeneem. 57% van pensioentrekkers wat vroeg geld uit aftreefondse onttrek het, het dit gedoen om skuld te betaal en 43% van pensioentrekkers het stééds skuld om te betaal terwyl hulle afgetree is.

“Om geld uit jou aftreespaargeld te onttrek, is soos om ’n lening by jou toekomstige self te maak, teen ’n baie hoë rentekoers en met geen voorneme om jouself ooit terug te betaal nie,” sê Mayuri Reddy, bemarkingshoof van Sanlam-werknemersvoordele.

Boonop moet 66% van pensioentrekkers steeds ’n kind of kleinkind finansieel ondersteun.

Om geld uit jou aftreespaargeld te onttrek, is soos om ’n lening by jou toekomstige self te maak, teen ’n baie hoë rentekoers en met geen voorneme om jouself ooit terug te betaal nie.
Mayuri Reddy van Sanlam

“Ons moet begin om meer selfgedissiplineerd met ons finansies te wees ten einde ’n selfstandige en genotvolle aftrede te hê,” sê Reddy.

Hy sê mense moet baie vroeër begin spaar en vroeër beplan vir aftrede as hulle hoop om hul lewenstyl te handhaaf wanneer hulle aftree.

Volgens hom is mense se apatie rakende hul aftreespaargeld baie kommerwekkend. “Die opname wys dat baie mense nie die belastinggevolge of die gevolge van die nie-bewaring van hul aftreegeld verstaan nie.”

Die gemiddelde pensioentrekker kry eers finansiële raad oor aftrede 10,5 jaar voor aftrede.

Net 2 uit elke 10 pensioenfondslede weet wat hul pen­sioenfonds se teikens is, hoewel 60% van pensioenfondse sulke teikens het.

36% van pensioenfondslede het geen ander spaargeld benewens hul aftreespaargeld nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.