Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Musiek in jou ore vir beter werk

Oorfone by die werk is meer as net die universele ‘Moenie my steur nie’- teken.

Dis ’n moet-hê-bykomstigheid vir diegene wat soveel produktiwiteit as moontlik uit die dag wil wring.

In ’n uitvoerige lys navorsingstukke word nou bevestig wat oorfoongebruikers al jare lank weet: Wanneer oorfone op die regte manier ingespan word, kan die musiek in jou ore jou flukser laat werk en die werkdag vinniger laat verbysnel.

Wanneer oorfone op die regte manier ingespan word, kan die musiek in jou ore jou flukser laat werk en die werkdag vinniger laat verbysnel. Foto: Thinkstock

Navorsing oor dekades heen toon reeds dat musiek herhalende, vervelige take meer genotvol kan maak – en die werkers wat hierdie take aanpak meer produktief maak.

In ’n studie wat in 1995 deur navorsers aan die Universiteit van Illinois onderneem is – lank voordat die iPod sy opwagting gemaak het – is bevind dat werknemers meer doeltreffend raak wanneer hulle na musiek op oorfone luister.

Die grootste verbetering is gesien in eenvoudige, herhalende take soos om data in te voer, waar produktiwiteit met tot 14% verbeter het, terwyl werknemers se bui ook verbeter het wanneer hulle na musiek luister terwyl hulle werk.

Dit klink dalk ooglopend, maar navorsing bewys inderdaad dat musiek ’n diepgaande invloed op jou emosionele toestand het, en dit kan dus ingespan word om jou te kalmeer as jy angstig voel.

Dr. Costas Karageorghis, ’n sportsielkundige by die Brunel-universiteit in Londen, het die uitwerking van musiek op prestasie bestudeer en gevind dat werkers wat wil kalmeer, na musiek met eenvoudige ritmes van tussen 70 tot 90 slae per minuut moet luister.

Hy stel Enya se swewende sang voor as jy wil kalmeer ná ’n spanningsvolle vergadering.

Maar as jy byvoorbeeld daardie vaakvoel-tydperk ná middagete wil teenwerk, stel Karageorghis musiek met ’n lewendige tempo van tussen 120 tot 140 slae per minuut voor.

Sy voorkeur is The Black ­Eyed Peas se “Boom Boom Pow”, wat die regte tempo van 130 slae per minuut handhaaf, of Curtis Mayfield se “Move On Up”, wat 136 slae per minuut handhaaf en ’n lekker gesinkopeerde ritme het wat gevoelens van beweging en lewenslus stimuleer.

Karageorghis se navorsing dui ook daarop dat lirieke ’n wesenlike impak op jou prestasie het.

Hy stel voor dat ’n mens voor ’n groot aanbieding of onderhoud na positiewe, bevestigende lirieke en opgewekte, polsende musiek luister.

“Dit het ’n kragtige uitwerking om jou identiteit te herbevestig en jou ego ’n hupstoot te gee,” sê Karageorghis.

Wanneer jou brein wegbreek van ’n probleem, is jy geneig om meer kreatief te dink.
Dr. Ravi Mehta

As jy musiek soek wat jou gemoed ophelder terwyl jy byvoorbeeld programmering of ander brein-intensiewe take doen, is die keuse eenvoudig: Luister na die soort musiek waarvan jy hou.

Navorsing deur prof. Teresa Lesiuk van die Universiteit van Miami se Frost-musiekskool het gevind dat werkers wat ingewikkelde take verrig, beter gepresteer het en beter gevoel het as hulle na hul gunstelingmusiek luister terwyl hulle werk.

Maar die musiekvoordeel was groter vir party mense as vir ander. Die navorsing het geen verbetering gevind in die geval van beginner-werknemers wat na musiek luister terwyl hulle werk nie. Diegene wat die topvlak in hul werk bereik het, was ook nie meer produktief met musiek nie. Dit was die gemiddelde werkers wat die grootste verbetering getoon het.

’n Stukkie raad vir enige baas wat dalk dink dis beter om werknemers te verbied om oorfone by die werk te dra: Dis die een gebied waar jy dalk nie wil ingryp nie. In ’n studie wat gedoen is oor musiek en rekenaarprogrammeerders (’n groep wat veral geneig is om na musiek oor hul oorfone te luister terwyl hulle werk) het Lesiuk bevind dié groep se bui het aansienlik versleg toe die musiek weggevat is nadat hulle weke lank toegelaat is om te luister net wat hulle wou.

“Ek het een deelnemer aan die studie gehad wat gesê het hy kan nie langer deel van die groep wees nie want hy het ’n belangrike projek wat daardie week moet klaarkom, en hy kan dit nie sonder sy musiek voltooi nie.”

Die krag van klank strek egter verder as net ’n mens se speellys. Matige agtergrondgeraas, soos dié van ’n besige koffiewinkel of ’n oopplankantoor, byvoorbeeld, het mense meer kreatief gemaak. Dit is wat dr. Ravi Mehta van die Universiteit van Illinois se sake-kollege in ’n studie bevind het.

Interessant genoeg is dit juis die afleiding van die geraas wat ons help om beter te werk.

“Ons dink wat hier gebeur, is dat hierdie matige vlakke van geraas wat die aandag aftrek, jou gedagtegang onderbreek. En wanneer jou brein wegbreek van ’n probleem, is jy geneig om meer kreatief te dink,” verduidelik Mehta.

Maar hy waarsku dat hierdie agtergrondgeluide wat jou gedagtegang versteur nie juis help wanneer jy take verrig wat diepe konsentrasie vereis nie.

En, soos enigeen van ons wat in ’n oopplankantoor werk, vir hom kan sê: Te veel geraas help nie om ’n mens meer produktief te maak nie. – Bloomberg

Meer oor:  Musiek  |  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.