Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Byt vas en moenie bontspring nie
Só sal 'n soeke na die 'beste' effektetrustfonds jou eintlik armer maak.
Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner.

Die afgelope week se nuus oor aandelemarkte wat wêreldwyd die dieptes in tuimel, het baie mense bekommerd.

Die vraag op baie se lippe is: Hoe nou gemaak met my geld?

Ons sien hoe beleggers paniekbesluite neem, gegrond op emosie. Die emosie word aangejaag deur “raadgewers” wat self nie weet watter kant toe nie en nou met alle geweld wil geld skuif na kontant, kwansuis ’n toevlugsoord of “veilige hawe”.

Lees ook:

■ ​JSE-storms: Bly kalm en hou aan belê

■ ​Sien die geleenthede in regstelling raak - kenners

Ek glo in vasbyt. Soms is die berg steiler as wat jy gedink het en gaan dinge stadiger. Soms moet jy hoogte prysgee om deur ’n kloof te kan kom wat jy nie voorsien het nie. 

Maar as jy die berg wil uitklim, moet jy jou oë boontoe rig en fokus op jou doelwit. Vergeet die geraas en die negatiewe praatjies om jou. Babbelbekke is geneig om die negatiewe te beklemtoon, dis al hoe hulle kan saamgesels.

My boodskap aan lesers vandag is: Moenie paniekerig raak nie. Moenie dat emosies jou beleggingsbesluite kelder nie. Byt vas. 

Fynskrif: Die plan is alles

Die enigste “fynskrif” wat ek wil inbring, is dat my boodskap net geldig is as jou beleggings deur ’n kundige finansiële beplanner gedoen is en bestuur word en dat dit die gevolg is van ’n finansiële plan met gestelde doelwitte waarvan jy die risiko’s verstaan.

Ons is almal senuagtig. Ek lê soms wakker oor my en my kliënte se beleggings. Maar daar is werklikhede wat my help om die negatiewe te verwerk.

Markwisselvalligheid is normaal. Elke nou en dan moet die mark ’n regstelling kry. Dit is wanneer die vasbyters begin geldmaak en ander verloor.

Ek troos my ook daaraan dat die verliese papierverliese is totdat jy dit werklik maak deur jou geld te skuif – gegewe dat jy in die eerste plek in ordentlike fondse belê het, bygesê.

Ek glo in vasbyt. Soms is die berg steiler as wat jy gedink het en gaan dinge stadiger.

Jy gaan pak kry

Daar is drie groot foute wat mense maak met beleggings: Hulle probeer die mark speel, hulle skuif tussen fondse en jaag hoë opbrengs.

Vergeet daarvan. Pak gaan jy kry. Ek onthou in 2008 het die aandelemark met meer as 23% geval. Baie mense het paniekerig hul beleggings in kontant omgesit. Drie jaar later was hulle steeds in kontant belê. Wat het hulle verloor? Die 32%-groei in 2009 en die 19%-groei in 2010, terwyl kontant toe onderskeidelik opbrengste van 9% en 6% gelewer het.

Toe skrik hulle wakker en belê weer in aandele. Maar in 2011 bied aandele net 2,6% groei, terwyl kontant 5,7% oplewer. Toe skuif hulle weer uit aandele uit. En hulle verloor die 26% aandele-opbrengs van 2012, die 21% van 2013 en 10% van 2014, terwyl kontant heeltyd om en by 5% lewer.

En hier aan die einde van 2013 laat waai almal weer aandele toe, op grond van die hoë opbrengssyfers (onthou die kleurgrafieke waarna ek gereeld hier verwys?) en noudat die mark deur sy boom val, wil hulle weer kontant toe skuif. Onnosel herhaal homself.

Versprei jou risiko

Kry vir jou ’n kundige beleggingsraadgewer. Stel ’n duidelike plan op.

Belê dan in verskeie bateklasse om jou risiko te versprei volgens jou plan se doelwitte. Jy wil as een bateklas, byvoorbeeld aandele of eiendom, een jaar die spreekwoordelike ligte uitskiet, die voordeel daarvan hê. Maar jy wil ook nie al jou geld daaraan blootgestel hê as die mark die jaar ’n regstelling ondergaan nie.

Dissipline is die wagwoord, nie rondspring nie.

■ Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@fi​nlac.com; Twitter: @Nicovangij​sen.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.