Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Opleiding: Belegging in jou personeel is goud werd
Die opleiding van personeel kan op lang termyn 'n onderneming help om te floreer. Maar hoe lyk ’n goeie werk-studie-program?
Tot 25% van maatskappye sê hulle sal mense aanstel wat die potensiaal toon om te leer en te groei. Foto: iStock

Daar ís duisende poste in Suid-Afrika beskikbaar, maar werksoekers het nie die nodige vaardighede om dié poste te vul nie.

Lees ook: ​Soek jy werk? Probeer​ een van dié 10 beroepe

Volgens ’n peiling deur die werwingsgroep Manpower wend al hoe meer maatskappye hulle daarom nou tot indiensopleiding. 

In die peiling, wat die afgelope week bekend gemaak is, het tot 25% van maatskappye gesê hulle sal mense aanstel wat nie tans oor die nodige vaardighede beskik nie, maar die potensiaal toon om te leer en te groei. Tot 15% het genoem dat bedryfspesifieke kwalifikasies en sertifisering van professionele personeellede ’n uitdaging is.

Opleiding is dus die enigste manier om te verseker dat meer mense wat die arbeidsmark betree, gekwalifiseerd en bevoeg is om die werk te doen wat maatskappye verlang. Die druk neem dus toe op die onderwys- en opleidingsektor om ’n gehalte-arbeidsmag te lewer.

In sy begrotingstoespraak vroeër vandeesmaand het dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, gesê dit is steeds noodsaaklik vir vaardigheidsontwikkeling dat onderwys in ooreenstemming gebring word met die arbeidsmark se behoeftes.

Die private sektor het ook ’n verantwoordelikheid om hul werkers se opleiding reg te bestuur in ooreenstemming met hul strategiese doelwitte.

Korttermynbesluite

Ongelukkig, wanneer die maatskappy geldelike druk beleef, is dit gewoonlik die maklikste vir die bestuur om opleiding laer af te skuif op die onderneming se prioriteitslys totdat dit weer beter gaan. Hoewel onmiddellike koste sodoende bespaar word, word dit nie as ’n volhoubare oplossing beskou nie.

Ná die resessie in 2009 het verskeie Afrikalande se ekonomieë sterk gegroei en ondernemings wat op die vasteland sake doen, het nou ’n enorme aanvraag na vaardige personeel, sê Anja van der Beek, mensehulpbronbestuurder vir Sage VIP.

“Heelwat mensehulpbron-afdelings in Suid-Afrika en ander dele van Afrika is nie goed voorbereid daarop dat mense met skaars vaardighede nou kan kies en keur tussen werkaanbiedings nie.”

Van der Beek sê baie mensehulpbronpraktisyns is so vasgevang in rompslomp dat hulle nie veel tyd aan strategiese talentbestuur en vaardigheidsontwikkeling kan bestee nie.

“Dit plaas hul onderneming in ’n swak posisie om op ’n veranderende werkplek en arbeidsmag te reageer,” sê Van der Beek. Vandag se werknemers is ambisieus en heg byna net so veel waarde aan opleiding- en ontwikkelingsgeleenthede as aan hul vergoedingspakket.


Só moet ’n vaardigheidsplan lyk

Ongelukkig, wanneer die maatskappy geldelike druk beleef, is dit gewoonlik die maklikste vir die bestuur om opleiding laer af te skuif op die onderneming se prioriteitslys.

Waar begin ’n maatskappy om sy opleidingsbehoeftes te vervul? Die eenheid vir voortgesette onderrig aan die Universiteit van Pretoria (VO aan UP), glo beplanning is die wagwoord.

“Dit is baie belangrik om jaarliks ’n opleidingskedule of vaardigheidsplan vir die werkplek (work-study programme of WSP) op te stel,” sê dr. Louis Naudé, strategiespesialis van Shared Services Investment. Naudé bied kursusse aan die VO aan UP aan oor hoe om so ’n plan te ontwikkel en werkers se prestasie te bestuur.

’n WSP help ’n maatskappy om sy vaardigheidsbehoeftes behoorlik te bepaal sodat hy sy strategiese doelwitte kan bereik. Die plan neem ook werknemers se professionele ontwikkeling in ag.

“Sulke vaardigheidsplanne kan organisasies help om talent en vaardigheid onder hul eie personeellede te ontdek.”

Wetlike verpligting Ingevolge die Wet op Vaardigheidsontwikkeling en sy toepaslike wysigings is ’n instelling verplig om ’n jaarlikse WSP in te stel. Dié plan word dan by die betrokke sektorale opleidingsowerhede (setas) geregistreer sodat hulle op ’n gestruktureerde wyse die tekort aan vaardige werkers kan verlig. “Die uiteindelike doelwit van ’n WSP is om vaardigheidsontwikkeling op sektorale en nasionale vlak te ondersteun,” sê Naudé.

Beplan doeltreffend

’n Vaardigheidsplan vir die werkplek behoort ’n strategiese prioriteit in die organisasie te wees, en daarom vereis dit die volle ondersteuning van die uitvoerende bestuur.

Planne moet nie net die behoefte aan generiese vaardighede weerspieël nie, maar ook sorgvuldige aandag gee aan skaars vaardighede wat verband hou met die maatskappy se kerndoelwitte.

Vandag se werknemers is ambisieus en heg byna net soveel waarde aan opleiding- en ontwikkelingsgeleenthede as aan hul vergoedingspakket, sê Anja van der Beek, mensehulpbronbestuurder vir Sage VIP. Foto: iStock

Voordele vir werknemers

Vaardigheidsbeplanning en verdere opleiding stel werknemers in staat om nasionaal erkende kwalifikasies deur professionele ontwikkelingskursusse te verwerf. Dít lei tot waardevolle werkondervinding en persoonlike groei, terwyl werknemers ook die geleentheid kry om hul vaardighede volgens hul spesifieke loopbaanbehoeftes op te skerp.

Lees ook: ​Geldslim werknemers is ’n bate

Verseker sukses

’n WSP is net so goed soos die begrip waarmee die plan ontwikkel en ingestel word, sê Naudé. “Die uitgangspunt om vaardigheidsbehoeftes te bepaal, is om eers die vaardig­hede wat reeds beskikbaar is deur middel van ’n deeglike vaardigheidsoudit te bepaal.”

Faktore soos inligting wat swak bestuur word, onnoukeurige posbeskrywings of behoeftes vir sleutelvaardighede wat nie behoorlik aandag kry nie, is maar enkele van die uitdagings waarmee organisasies te kampe het.

Naudé sê deur ’n erkende diensverskaffer met erkende standaarde te gebruik, sal maatskappye goeie samewerking met die setas verkry en vaardigheidstoelae vir beplande leer-ingrypings gebruik.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.