Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Loopbane
Regte houding, regte werk
Berei jou goed voor: CV, ander eerste indrukke tel
Duisende matrikulante en gegradueerdes gaan, sertifikaat in die hand, in die volgende paar weke aan werkgewers se deure klop. Foto: Theo Jeptha

Duisende matrikulante en gegradueerdes, sertifikaat in die hand, gaan in die volgende paar weke aan werkgewers se deure klop. Die speelveld is uiters mededingend en werkaanbiedings is beperk – maar vir diegene met die regte ingesteldheid is daar verskeie opsies.

’n Mens kan werksoekery met ’n rugbywedstryd vergelyk, sê André Venter, hoof van strategiese beplanning van die vakbond Uasa. “As jy hoop om in die Superreeks of die Curriebeker te speel, het jy die regte vaardighede en genoeg oefening nodig. Maar as jy dit nie het nie, en ook nie die regte geestelike ingesteldheid nie, kan jy nie speel nie.”

Dieselfde geld ’n werknemer, sê Venter. ’n Mens moet jou vaardighede en ingesteldheid regkry voordat jy begin werk soek.

Ná die ekonomiese resessie van 2008 het werkgewers heelwat meer eise begin stel aan die mense wat hulle aanstel. Wêreldwyd het indiensneming afgeneem. Werkgewers is geneig om voorkeur te gee aan werkers met kwalifikasies én ’n positiewe ingesteldheid teenoor hul werk. Werksoekers moet dus die huidige ekonomiese situasie in gedagte hou en besef dat die werkplek baie mededingender geraak het.

“Leer om jou vaardighede met vertroue – en ’n bietjie moed – te verkoop. Werkgewers soek mense op wie hulle kan reken, mense met inisiatief en visie. Dit is jou as werksoeker se taak om jou voornemende werkgewer te oortuig jy is die regte kandidaat vir die werk,” sê Venter.

Hy sê ’n professionele, foutlose CV maak ’n groot verskil in hoe die eerste indruk oor jou ver­moëns gevorm word. Trouens, werksoekery gaan hoofsaaklik oor ’n goeie eerste indruk.

“ ’n Swak CV vol spelfoute beteken jy kry al vroeg in die wedstryd ’n rooikaart.”

Venter se raad is om ’n professionele kenner te raadpleeg om jou te help om jou CV op te stel. Werkgewers wil weet watter soort mens hulle in diens neem, waar die aansoeker in die verlede gewerk het en wat hy of sy as swak of sterk punte beskou.

Wanneer jy vir ’n onderhoud genooi word, is dit noodsaaklik dat jy jou goed voorberei. Wees in die onderhoud vol selfvertroue, maar nie arrogansie nie. “Onthou, goeie maniere bring ’n mens ver. Staan totdat jy gevra word om te sit, trek netjies aan en maak seker jy reageer samehangend en intelligent op die vrae wat aan jou gestel word,” is Venter se raad.

’n Universiteitsgraad is nie meer ’n waarborg om werk te kry nie, maar Venter sê daar is ook heelwat suksesstories van mense wat ’n vakleerlingskap doen of tegniese vaardighede aanleer wat hulle in staat stel om byvoorbeeld loodgieters of elektrisiëns te wees. Diegene in dié rigting wat ook met entrepreneuriese vaardighede geseënd is, kan hul eie onderneming begin.

Dit is belangrik om positief te bly en te volhard, selfs al kry jy nie met jou eerste of tweede probeerslag werk nie.

“Moenie dat negatiwiteit of die opinies van ander mense jou werksoekery beïnvloed nie. Gryp al die kanse aan, selfs al lyk hulle maar onbelangrik. Dit kan dalk die deur na iets beters oopmaak.”

Hy wys daarop dat enige ondervinding van onskatbare waarde is en dat die waarde daarvan om êrens in die werkplek jou voet in die deur te kry, nie onderskat moet word nie.

“Werkgewers soek ’n nuwe soort werknemer om hul maatskappy na sukses te lei. Maak seker jy staan bo die res uit.”


■ Meer besonderhede is beskikbaar by ​careerhelp.org.za/ of bel die beroepshulpsentrum tolvry by 0860 35 66 35.

 Google sleutelwoorde soos “apprenticeship 2015; South Africa” en kyk hoeveel geleenthede is by ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse maatskappye beskikbaar. As die afsnydatum verby is, sit jou naam op die 2016-waglys.

​Wenke vir werksoekers wat opleiding benodig:

■ As jy nie tersiêre opleiding kan bekostig nie, doen aansoek vir ’n leerlingskapprogram by een van die 21 sektorale opleidingsowerhede (setas), wat ten doel het om die vaardighede van Suid-Afrikaners te verbeter deur opleiding in ’n spesifieke sektor te verskaf. As jy byvoorbeeld belang stel in ’n loopbaan in die bankwese, kontak die bankseta vir ’n moontlike leerlingskap.

■ Kyk op die webtuistes van maatskappye watter leerlingskappe of indiensopleiding hulle aanbied. ’n Webtuiste soos latestlearnerships.com bied inligting oor indiensopleiding en beurse wat beskikbaar is vir opleiding.

■ Die departement van hoër onderwys en opleiding help werklose graduandi met internskapprogramme om werkondervinding op te doen.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.