Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Ses stappe om ’n effektetrust te kies
Of jy nou oorsee belê of op die plaaslike aandelebeurs, moet jy sorg aan die dag lê wanneer jy ’n effektetrust kies. Meer as 1 000 effektetrusts is in Suid-Afrika te koop – en internasionaal nóg derduisende. Hier is ’n paar wenke.
Sewe redes waarom effektetrusts goeie beleggings is - maar jy moet steeds mooi kies in wátter effektetrusts jy belê.

1. Verstaan jou doelwitte en risikoprofiel

Jy is self altyd die beginpunt. Almal wil uiteraard puik opbrengste teen die minste moontlike risiko hê, maar dis ’n mite.

Groter opbrengste gaan gewoonlik met ’n groter risiko van kapitaalverlies gepaard, maar met “laerisiko”-beleggings loop jy die risiko dat jou opbrengs nie inflasie sal klop nie.

Wanneer jy vir die eerste keer by ’n finansiële beplanner aanklop, moet die eerste stap wees om ’n volledige ontleding van jou ­finansiële situasie te doen, te kyk na jou doelwitte en beleggingshorison en ook ’n ontleding van jou risikoprofiel te doen.

Jy kan nie effektetrusts kies voordat jy na hierdie groter prentjie gekyk het nie.

Leigh Köhler, hoof van navorsing van Glacier van Sanlam, sê ander vrae wat jy jou moet afvra voordat jy ’n fonds kies, sluit in:

  • Wat is jou beleggingshorison? Dus, spaar jy byvoorbeeld vir ’n nuwe motor of vir jou aftrede oor 20 jaar?
  • Het jy vinnig toegang tot jou geld nodig (likiditeit)?
  • Het jy ’n gereelde inkomste uit jou belegging nodig?

2. Doen navorsing oor die fondsbestuurders

’n Fondsbestuurder het dalk die afgelope jaar of drie goed gevaar deur ’n paar goeie keuses op die aandelebeurs te doen, maar Köhler beveel aan dat jy na die langer termyn kyk. “Wie is die fonds se kernpersoneel en watter ervaring en kwalifikasies het hulle? Dis ook nuttig om te kyk of hulle fondse deur sowel bul- as beermarkte bestuur het.”

Jy hoef nie ’n blitskenner van die derduisende effektetrusts te word nie – jou finansiële raadgewer behoort sulke inligting te kan gee. Indien nie, moet jy dalk ’n tweede mening inwin.

3. Verstaan elke fonds se doelwitte en die fondsbestuurder se beleggingsfilosofie

Elke effektetrust het ’n stel feite op die betrokke maatskappy se webwerf. Dit wys jou wat die fondsbestuurder se mikpunt is (byvoorbeeld ’n opbrengs van inflasie plus 2 persentasiepunte), wat die koste en natuurlik die minimum belegging is en wie die kernpersoneel is.

“Daar is geen regte of verkeerde filosofie nie, maar dit is belangrik om te weet hoe die bestuurder wat jy kies, risiko sal bestuur en kapitaal sal beskerm wanneer die markte daal,” sê Köhler. Hy beveel ook aan dat jy vra of die fonds deur ’n span bestuur word of om ’n “ster”-bestuurder wentel – dit is beter as daar ’n sterk span is wat nie net op een mens se ge­nialiteit staatmaak nie.

4. Verstaan die fondskategorieë

Die vereniging van spaar en beleggings (Asisa) het in 2013 nuwe fondskategorieë ingestel wat dit makliker maak om te sien waarin jy belê. As jy blootstelling aan ’n spesifieke sektor, soos kleinhandel of finansiële dienste, wil hê, moet jy na spesialisfondse kyk, sê Köhler.

5. Verstaan die koste

Die tersaaklike koste is die totale kostekoers (total expense ratio, TER) van die fonds. “Gelde kan ’n beduidende uitwerking op jou uiteindelike beleggingsopbrengs hê, so maak seker jy betaal gelde wat billik is vergeleke met ander fondse in dieselfde kategorie,” sê Köhler.

Jou finansiële raadgewer of makelaar moet ingevolge wetgewing ook aan jou bekend maak watter koste hy hef, gewoonlik as ’n persentasie van jou belegging.

Dié inligting word aangebring op die dokumente wat jy onderteken wanneer jy in ’n fonds belê. Moet nooit dokumente onderteken met leë plekke wat later, wanneer jy nie daar is nie, ingevul word nie. En moet nooit net dokumente parafeer of onderteken sonder dat jy weet en verstaan wat daarin vervat is nie.

6. Monitor die fonds

Ideaal gesproke moet jy ’n medium- tot langtermynbelegging alleen los en jou nie aan korttermyn-wisselvalligheid in die mark steur nie.

“Jy moet egter kennis neem van veranderinge wat jou belegging kan beïnvloed, soos veranderinge aan die fondsbestuurder of gelde,” sê Köhler.

As jou lewensomstandighede verander, moet jy ook weer kyk na jou beleggings en seker maak dat jou doelwitte, risikoprofiel en beleggingstrategie nog ooreenstem.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.