Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Groot vaardigheidstekort
Soek jy werk? Probeer een van dié 10 beroepe
Van ingenieurs tot drywers gesoek

Bekwame ambags- en ingenieursposte is steeds die moeilikste vir Suid-Afrikaanse maatskappye om te vul (sien grafika hieronder).

Dít blyk uit die werwingsgroep Manpower se jongste jaarlikse Talent Shortage Survey, wat pas uitgereik is.

In verlede jaar se opname, waaraan 41 lande deelgeneem het, is Suid-Afrika vierdelaaste geplaas, met slegs 8% van werkgewers wat dit moeilik gevind het om poste te vul.

Vanjaar bevind die land homself in die 30ste plek, met 31% van werkgewers wat meld dat hulle dit moeilik vind om poste te vul, wat baie na aan die wêreldwye gemiddeld van 38% is.

Opleiding is nie net belangrik vir diegene wat die arbeids-mark wil betree nie, maar ook vir bestaande werknemers, aangesien tegnologie in die werkplek vinnig verander.
Lyndy van den Barselaar

Volgens Lyndy van den Barselaar, besturende direkteur van Manpower Suid-Afrika, word Suid-Afrika se hardnekkige vaardigheidstekort vererger deur ’n tekort aan tegniese vaardighede, wat landwyd ’n negatiewe impak op indiensneming in verskeie sektore het.

“Armoede onder die Suid-Afrikaanse jeug is geweldig hoog, wat dit onmoontlik maak vir miljoene mense om sekondêre en tersiêre onderwys en opleiding te bekostig en dit belemmer ook hul vaardigheidsontwikkeling en vooruitsigte vir indiensneming.”

Vanjaar se peiling toon dat die soeke na bekwame ambagslui, verkoopsverteenwoordigers en ingenieurs amper onveranderd gebly het teenoor die 2013- en 2104-opnames, en steeds bo-aan die lys van mees gesogte werkers is.

Vakatures vir opgeleide ambagslui bly vir die vierde agtereenvolgende jaar die moeilikste pos om te vul.

Hierbenewens het tot 30% van Suid-Afrikaanse werkgewers die tekort aan bedryfspesifieke kwalifikasies vir sekere ambagsrigtings as ’n uitdaging bestempel. 

Dit lyk asof die tekort aan vaardighede boonop ’n taamlike impak op hul vermoë het om kliënte se behoeftes te vervul, met tot 22% wat aangedui het dat die tekort ’n hoë impak het en 46% wat meen die impak is middelmatig.

Al meer maatskappye wend hulle tot indiensopleiding van werknemers met potensiaal, met tot 25% wat gesê het dat hulle mense sal aanstel wat nie tans oor die nodige vaardighede beskik nie, maar die potensiaal toon om te leer en te groei.

“Dit is noodsaaklik dat provinsiale regerings, asook die res van die openbare en private sektore, aanhou steun verleen aan opleiding. Dit is nie net belangrik vir diegene wat die arbeidsmark wil betree nie, maar ook vir bestaande werknemers, aangesien tegnologie in die werkplek vinnig verander en konstante aanpassings in vaardighede verg,” sê Van den Barselaar.

Dié vaardighede is skaars.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.