Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Hoër rente: Moenie ál jou geld by bank parkeer
Die opbrengs op geld in die bank styg as rentekoerse styg - maar styg dit genoeg om inflasie gemaklik te klop? Foto: iStock

Baie bejaardes glimlag van oor tot oor omdat die rentekoers verhoog is en hulle dus meer geld in bankrekeninge en die geldmark verdien.

Maar hoe raak hoër rentekoerse al jou beleggings? Dís een van die vrae nadat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Donderdagmiddag die rentekoers met 0,5 persentasiepunt verhoog het. 

Die meeste aandele, eiendom en effekte gaan alles maar sukkel weens die hoër rentekoers en algemeen powere ekonomie.

Beleggers moet egter altyd hul langtermynplan in gedagte hou en nie nou net hul seile na die heersende ekonomiese wind span nie.

Francis Marais, ’n ontleder by Glacier van Sanlam, sê die meeste beleggers kan ontspan en dinge oorlaat aan hul batebestuursfirma, wat verwag het dat die rentekoers gaan styg en dus reeds hul portefeuljes herposisioneer het om die meeste voordeel daaruit te trek.

Hy sê die vraag is nie net watter bates ’n hoër of laer opbrengs gaan lewer nie, maar oor die reële opbrengs (nadat inflasie afgetrek is) en hoeveel risiko jy op kort termyn kan absorbeer.

Uiteraard is jou risiko in ’n bankrekening die laagste, maar selfs noudat die rentekoers styg, gaan jy inflasie kwalik klop as jy jou geld in die bank bêre - want inflasie is ook aan die styg. Dit beteken dat jy in reële waarde armer word.

Geldmark

Die geldmark is dalk nou ’n goeie plek om jou spaargeld te parkeer, sê Mark Appleton van Ashburton Investments in Johannesburg. Jy kan verwag om oor een jaar ’n opbrengs van sowat 8,5% te kry, wat inflasie sal klop, selfs al gaan inflasie waarskynlik vanjaar tot hoër as 6% styg.

Appleton beklemtoon die geldmark op sy eie is nie ’n langtermyn-beleggingstrategie nie, maar dit is dalk nou ’n goeie plan vir mense wat hul kapitaal wil bewaar.

Marais sê egter selfs bejaardes moet versigtig wees om al hul geld in die geldmark te sit – mense leef deesdae langer en reële groei (dus ná inflasie) van 2% is nie goed genoeg nie. Mense móét blootstelling aan groeibates kry.

Aandele

Wat aandele betref, is hoër rente in die algemeen sleg vir maatskappye se wins, maar alle aandele word nie ewe swaar getref nie.

Die meeste beleggers kan ontspan en dinge oorlaat aan hul batebestuurs-firma, wat verwag het dat die rentekoers gaan styg en dus reeds hul portefeuljes herposisioneer het.

Abri du Plessis, uitvoerende hoof van Gryphon Batebestuur in Bellville, sê die verwagte styging in rentekoerse word reeds in ’n mate in sekere aandeelpryse verreken – soos dié van kleinhandelaars en banke.

Dié aandele is baie sensitief vir hoër rentekoerse omdat dit mense se besteding onder druk plaas en maatskappye se wins dus onder druk kom. By banke is wanbetaling van skuld ’n hoër risiko.

Maar selfs binne die kleinhandelkategorie is daar aandele wat moontlik beter sal vaar as ander. Appleton sê meubelkleinhandelaars soos Lewis, wat baie van hul meubels op skuld verkoop, en dié kleinhandelaars wat op die laerinkomstemark gemik is, sal sukkel. Woolworths sal, deels danksy uitbreiding na Australië en deels omdat hy op die meer “veerkragtige” hoërinkomstemark fokus, dalk vir beleggers ’n beter opbrengs lewer.

Appleton sê “defensiewe” aandele, soos in gesondheidsorg, sal minder wisselvallig bly omdat mense steeds hospitaal toe moet gaan as hulle ernstig siek is – of hulle nou onder finansiële druk is of nié.

’n Groot aantal maatskappye op die JSE verdien boonop ’n groot gedeelte van hul inkomste in die buiteland en word dus nie deur die druk op Suid-Afrikaanse verbruikers geraak nie. Dié sogenaamde randverskansers sluit Naspers, British American Tobacco, Richemont en Aspen in, en deesdae ook Anheuser-Busch InBev.

Buitelandse beleggings

Buitelandse bates as deel van ’n gediversifiseerde portefeulje word alom aanbeveel en Marais sê navorsing wys dat Suid-Afrikaners nagenoeg 30% van hul geld oorsee moet belê.

Maar wat van die wêreldwye beermarkte en die risiko dat die rand eintlik oorverkoop is (en dus weer sal versterk)?

Du Plessis is van mening dat die rand nie nét deur die rentekoers beïnvloed word nie, maar eintlik meer deur die kommoditeitesiklus. “Ons het nog nie die bodem gesien nie,” sê hy oor reeds rekordlae hulpbronpryse. Dit is omdat die wêreldekonomie swak bly, met veral China “wat vinniger verlangsaam as wat die verwagting was”.

Appleton sê as jy deur ’n batebestuursfirma oorsee belê, sal hulle wel ook die portefeulje herposisioneer en dalk meer geld in kontant hou as in aandele, wat wêreldwyd onder druk is.

Koop om te verhuur klink vreeslik aanloklik - totdat die rentekoers styg, maar jou huur vir 'n jaar vasgepen is. Foto: iStock

Eiendom

Marais sê mense voel dikwels emosioneel oor koop-om-te-verhuur-eiendom, maar eiendom se waarde en die opbrengs wat jy uit huur kan verdien, kom kwaai onder druk as die rentekoers styg.

Huur is kontraktueel vasgestel vir ’n sekere tydperk, terwyl die koste van jou belegging, as jy dit met ’n verband finansier, dadelik duurder word.

Marais sê mense onderskat boonop die risiko’s (soos ’n huurder wat dalk ’n maand nie betaal nie of ’n buurt wat op lang termyn in onguns verval) van residensiële eiendom, terwyl hulle ook nie al die uitgawes van fisieke eiendom verreken nie.

Marais sê genoteerde eiendom bied aan jou baie groter diversifikasie van soorte eiendom én geografiese gebiede en jy het die voordeel van professionele eiendomsbestuurders. Dié bateklas sal na verwagting egter nie besonder goed vaar in ’n omgewing van hoër rentekoerse nie, sê Du Plessis.

Goud

Al drie ontleders met wie Netwerk24 gepraat het, is dit eens dat die bohaai oor goud op die oomblik misplaas is. “Die enigste rede waarom goud in 2015 in randwaarde goed gevaar het, is omdat die rand verswak het,” sê Du Plessis.

Appleton sê hoër rentekoerse is nie ’n goeie omgewing vir goud nie.

Marais sê jy sal beter vaar as jy sommer regstreeks in dollars belê – dis ook ’n tradisionele stoorplek van waarde en baie meer likied as goud.

Meer oor:  Rentekoers  |  Eiendom  |  Beleggings  |  Beleggers  |  Spaar  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.