Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jong werksoeker: Só staan jou aansoek uit bo die res
Die CV, tesame met die dekbrief, gee aan die voornemende werkgewer ’n eerste indruk van die kandidaat. Foto: istock

Dit is weer tyd vir ’n nuwe groep jong gegradueerdes en skoolverlaters om die arbeidsmark te betree en kenners is dit eens dat die werkomgewing in 2016 besonder uitdagend sal wees.

Daarby is werkgewers kieskeurig oor wie hulle aanstel. As ’n mens in gedagte hou dat sowat 1,1 miljoen skoolverlaters elke jaar die arbeidsmark betree en net sowat 200 000 werk kry, besef jy die omvang van die uitdaging waardeur jong mense sonder werkondervinding in die gesig gestaar word.

Sake het raad en wenke van kenners gevra om ’n jong mens sonder werkondervinding te help om sy of haar eerste werkonderhoud los te slaan.

Al die kenners is dit eens dat jong werksoekers slegs bo die bondel sal uitstyg as hulle bereid is om meer moeite as die res te doen.

  • Begin by ’n foutlose, goed saamgestelde CV, sê Lindi Dlamini, uitvoerende hoof van mensehulpbronne by PPS.

“ ’n Bondige CV wat netjies aanmekaargesit is, is die eerste stap vir enige jong gegradueerde – selfs voordat hy of sy begin werk soek. Die CV, tesame met die dekbrief, gee aan die voornemende werkgewer ’n eerste indruk van die kandidaat. Selfs een klein spel- of taalfout, tabelle wat nie reg opgestel is nie of ’n verwarrende sin, kan die leser vies maak.”

  • Daar is maniere om die gebrek aan werkondervinding op jou CV te oorkom, sê Palesa Letaba, talentbeampte by die werwingsgroep NATIVE VML.

“Die persoon wat jou aansoek lees, wil die heel beste talent aanstel. Beskryf vir ons enige innoverende, praktiese werk wat jy op universiteit gedoen het, beskryf jou rol in enige projekte of uitreikaksies, kry verwysings van jou opsigters toe jy vakansiewerk gedoen het. As jy vir ’n werk in ’n skeppende sektor, soos reklame, aansoek doen, sit voorbeelde van jou werk op die internet, byvoorbeeld op ’n blog, sodat ons daarna kan gaan kyk.”

  • Stel ’n buitengewone dekbrief op.

Baie aansoekers begaan die fout om ’n dekbrief te skryf wat gegrond is op ’n voorbeeldbrief wat hulle op die internet kry en dan bloot aanpas. Dit beteken dat hul boodskap nie hul unieke bekwaamhede en eienskappe oordra nie, waarsku Dlamini.

“Die beste is om ’n brief te skryf wat die leser direk aanspreek en wat spesifieke inligting bevat wat die aansoeker bokant die res laat uitstaan. Die boodskap moet kort en bondig wees, maar ook buitengewoon. Dit moet presies omskryf waarom aansoekers om die pos aansoek doen en waarom hulle glo dat hulle die rol die beste sal vul, gegewe hul vaardighede en ervaring.”

  • Slyp jou talent om voor mense te praat. Dit is die raad van Niteske Marshall, besturende direkteur van Network Recruitment.
’n Voornemende werkgewer wil graag ’n sosiale-mediaprofiel sien wat die soort werknemer reflekteer wat die onderneming sou wou aanstel.

“Die kuns om goeie, professionele sake-Engels te praat en skryf is aan die uitsterf in ’n era van kitsboodskappe en SMS-taal. Daarom sal jy uitstaan bo die res as jy goeie, professionele kommunikasievaardighede het.”

  • Skep jou eie handelsmerk en beplan ’n strategie hoe jy jou aan voornemende werkgewers gaan bemark, sê Kay Vittee, uitvoerende hoof van Quest Staffing Solutions.

“Elke individu kan as sy of haar persoonlike handelsmerk-ambassadeur beskou word. Jou handelsmerk kommunikeer die passie en toewyding wat jy vir ’n werk het, en kan ’n deurslaggewende faktor word wanneer jy om ’n betrekking aansoek doen.”

Vittee sê ’n mens se opsies vir die skep van jou handelsmerk sluit nie net jou professionele voorkoms en CV in nie, maar ook die wyse waarop jy jou op sosiale media bemark. ’n Professionele en bygewerkte teenwoordigheid op sosiale media is in hierdie digitale era uiters belangrik.

Maak seker dat jou profiel op platforms soos LinkedIN en Twitter jou handelsmerk weerspieël, en verwyder enige inskrywings op Facebook of Instagram wat nie vleiend is nie.

Dit is ook noodsaaklik om nie lasterlike, opruiende of aanstootlike inligting aanlyn te pos nie, is Dlamini se raad. “ ’n Voornemende werkgewer wil graag ’n sosiale-mediaprofiel sien wat die soort werknemer reflekteer wat die onderneming sou wou aanstel.”

  • Doen aansoek om relevante werk. Baie nuweling-aansoekers is geneig om hul CV voor te lê vir werk wat nie met hul bedryf, spesifieke kwalifikasies of vaardighede verband hou nie. Indien ’n advertensie vir ’n pos byvoorbeeld bepaal dat die kandidaat agt jaar ervaring moet hê, behoort iemand sonder ervaring nie om die betrokke pos aansoek te doen nie, sê Dlamini.

“Dit maak nie saak hoe desperaat die aansoeker is nie – daar is sekere kwalifikasies en vaardighede wat nodig is om spesifieke werk te kan doen. Indien die aansoeker nie aan hierdie vereistes voldoen nie, is daar geen manier waarop die maatskappy die aansoeker kan oorweeg nie.”

  • Volgende: Hoe oorleef jy jou eerste werkonderhoud? Kenners gee raad.

Meer oor:  Werksoekers  |  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.