Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Laat staan die ewige sittery by die werk
Al meer moderne werkplekke word deesdae met lessenaars toegerus waarvan die hoogte verstel kan word soos hierdie werkstasies deur die meubelverskaffer Steelcase.

Daar was ’n tyd toe staanlessenaars as ’n gier beskou is wat deur eksentrieke mense ingespan is.

Skrywers soos Ernest Hemingway, Charles Dickens en Virginia Woolf het glo graag gestaan en werk – ook die Deense filosoof Søren Kierkegaard en die Renaissance-skilder en -uitvinder Leonardo da Vinci.

Toe kom die waarskuwing van die Amerikaanse navorser dr. ­James Levine, ’n direkteur van die Mayo-kliniek en die Universiteit van Arizona se vetsugnavorsingskliniek dat “sit die nuwe rook is”. Hy het onder meer bevind dat die daglange gesit op jou kantoorstoel skadeliker as rook is, meer mense as MIV/vigs doodmaak en selfs gevaarliker as valskermspronge is.

“Ons sit ons dood,” sê Levine.

As jy vyf uur aaneen stilsit, is die risiko’s vir kanker, hartsiektes en diabetes dieselfde as om ’n pakkie sigarette te rook.

Sy bevinding word deur die kankerspesialis, dr. David Agus, beaam. As jy vyf uur aaneen stilsit, is die risiko’s vir kanker, hartsiektes en diabetes dieselfde as om ’n pakkie sigarette te rook, het dié voorstander van trapmeullessenaars gewaarsku.

Skielik is staanlessenaars ’n “ding” en volgens Richard Andrews, besturende direkteur van die kantooruitlegmaatskappy Inspiration Office, raak lessenaars waarvan die hoogte kan verstel, ook in Suid-Afrika gewild. Hy wys daarop dat die gemiddelde kantoorwerker sowat vyf uur en 41 minute elke dag sit.

“Dit het die outomatiese keuse geword om te sit en werk. Ter wille van ons gesondheid behoort ons dit eerder na staan en werk te verander.”

Hy sê heelwat plaaslike korporatiewe maatskappye begin nou die internasionale neiging volg om die werkplek só in te rig dat die hoeveelheid tyd wat mense agter hul lessenaars sit en werk tot die minimum beperk word.

“Die klemverskuiwing na lessenaars waarvan die hoogte verstel, beteken dat jy jou kantoorwerk ook met ligte oefening kombineer wat uiteraard gesondheidsvoordele inhou en tot groter produktiwiteit kan lei.”

Voordele van staan en werk

Navorsing toon dat indien ’n mens net een uur elke dag staan en werk, verbrand jy meer kalorieë, handhaaf jy beter energievlakke en behou jy jou fokus beter.

“Dit lyk ook asof werkoppervlakke wat maklik van sit- na staanposisies verander werknemers se behoefte verminder om hul werkplek te verlaat wanneer hulle ’n blaaskans neem. Dus is dit ’n manier om jou produktiwiteit deur die dag te verhoog.”

Wenke
  • Staan elke 20 minute op om jou bene te rek. Jou liggaam vind heelwat baat daarby om kort-kort die spiere te rek. Dink daaraan as ’n “herstelknoppie” vir jou liggaam waarmee jy die negatiewe uitwerking van die lang sittery teenwerk.
  • Deur bloot op te staan, trek die grootspiere in jou bene en rug saam wat die vlak van ensieme wat vet in die bloedstroom opbreek, verhoog. Jy hoef nie op en af te spring of rond te trippel nie – staan net op en rek, dan verbrand jy klaar kalorieë.
  • Onthou ook dat rekenaarwerk behels dat jy lang tye stip na die skerm staar, dikwels sonder om jou oë te knip. Dit lei tot seer oë, moegheid en hoofpyn. As jy elke 20 minute wegkyk van jou skerm en ’n paar sekondes na ’n voorwerp verder as ses meter kyk, sal jy hierdie vermoeidheid teenwerk.
  • As jou werkplek dit toelaat, wissel jou werkstasies af. Loop uit as jy ’n oproep kry of gaan sit ’n halfuur lank met jou skootrekenaar in die kafeteria.


Ander voordele van hoogteverstelbare lessenaars sluit in dat jy jou liggaamshouding voortdurend aanpas en dus spier- en rugpyn kan verminder. Daarby word dit makliker om kantoormeubels aan te pas vir mense van verskillende lengtes, dus hoef daar minder nuwe meubels gekoop te word.

Internasionale voorbeelde van werkgewers wat ’n strategie van meer staantyd by die werk volg, begin ook vrugte afwerp.

Só het die internasionale kantoormeubelverskaffer Steelcase ’n groot voorstander van beweging in die werkplek geword. Vergaderings word gehou terwyl daar gestap word en hoogteverstel­bare lessenaars met laespoedtrapmeulens word ook aangebied. Die maatskappy beskryf die invloed van hierdie veranderinge as “positief” op die welstand van sy werkplek en die gesondheid van sy werknemers.

Andrews sê organisasies besef nou al hoe meer wat die uitwerking van swak postuur en lang tydperke van stilsit op hul werknemers is.

“Plaaslik vervaardigde werkstasies soos AngelShack bied ’n reeks hoogteverstelbare lessenaars om die lang sittydperke te onderbreek.”

Hy gee toe dat daar ook ander situasies behalwe in die kantoor is waar mense lang tydperke aaneen sit, maar glo steeds dat ’n hoogteverstelbare lessenaar een van die regstreeksste oplossings vir die probleem is.

Meer oor:  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.