Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Mans en vroue: Kloof in salarisse krimp nie

As dinge nie vinniger begin verander nie, sal dit nog 118 jaar duur voordat mans en vroue dieselfde geld vir dieselfde werk verdien.

Die betalingskloof tussen mans en vroue het die afgelope week weer skerp in die soeklig gekom toe die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) sy jongste verslag uitgereik het wat die vordering meet om die betalingskloof tussen mans en vroue uit te wis.

Die verslag is kommerwekkend, aangesien 250 miljoen méér vroue deesdae die arbeidsmark betree as tien jaar gelede, maar die vordering om hulle dieselfde te betaal as hul manlike eweknieë, het die afgelope tien jaar verlangsaam.

Die strewe na gelyke betaling vir dieselfde werk vorder stadig.

Intussen het Donna Rachelson, skrywer van een van Suid-Afrika se blitsverkoper-sakeboeke, Play to Win: What Women Can Learn from Men in Business, ’n beroep op Suid-Afrikaanse ondernemings gedoen om bekend te maak hoe groot die kloof tussen mans en vroue se salarisse in hul maatskappy is.

Dit volg op onlangse stappe wat ingestel is vir maatskappye in Brittanje met meer as 250 werknemers om hul betalingskloof aan die groot klok te hang. Brittanje voeg hiermee sy stem by ’n handjievol lande wat die kloof tussen mans en vroue se betaling begin verklein.

Donna Rachelson, skrywer van een van Suid-Afrika se blitsverkoper-sakeboeke, Play to Win: What Women Can Learn from Men in Business.

“Dit klink net belaglik dat ’n land soos Suid-Afrika, met sulke gevorderde arbeidspraktyke, steeds sukkel met ongelyke betaling vir mans en vroue. As salariskwessies deursigtiger word, kan enige ongelykheid aktief en openlik aangepak word in plaas van in die geheim soos tans die geval is.”

’n Oudit van die betalingskloof in Suid-Afrika beteken daar is ’n stel syfers wat gestaaf kan word, verduidelik Rachelson.

“Daarby is daar ook bewyse dat minder geheimhouding oor vergoeding tot hoë vlakke van lojaliteit en ’n kleiner omset van personeel lei. Direksies van maatskappye behoort meer aandag aan die genderkloof in vergoeding te gee, want daar is moontlike wetlike implikasies.”

Mans verdien tot 17% meer

In Suid-Afrika verdien mans na raming tussen 15% en 17% meer as hul vroulike eweknieë op dieselfde posvlakke, volgens die Suid-Afrikaanse Raad vir Mensepraktisyns se jongste verslag oor vroue in die werkplek. Dit beteken dat vir elke een rand wat ’n man verdien, kry ’n vrou net sowat 85c. Of, anders gestel: ’n Vrou moet sowat twee maande langer werk om dieselfde salaris as ’n man te verdien. Dit het implikasies vir die lang termyn, want vroue kry ook ’n kleiner pensioen en ander basiese voordele wat deel van ’n salarispakket is.

In Suid-Afrika word die beginsel van gelyke betaling vir gelyke werk in die Wet op Diensbillikheid uiteengesit. Dus behoort mans, vroue, mense van verskillende rasse en diegene met gestremdhede nie verskillende salaristjeks vir dieselfde werk te ontvang nie.

Rachelson wys egter daarop dat hierdie beginsel eerder in ­teorie as in die praktyk geld. Daar is ’n historiese vooroordeel wat daartoe lei dat mans meer betaal word en vroue se vaardighede en bydrae in die arbeidsmark onderwaardeer word.

As salaris-kwessies deursigtiger word, kan enige ongelykheid aktief en openlik aangepak word in plaas van in die geheim soos tans die geval is.
Donna Rachelson

Vroue vra nie - of vra te min

In Women Don’t Ask verduidelik die ekonoom Linda Babcock een van die redes vir die kloof is dat mans vier keer meer geneig is om vir ’n verhoging te vra as vroue. En wanneer vroue die moed bymekaarskraap, vra hulle tipies vir 30% minder as wat ’n man sou. Dan kry hulle boonop minder, selfs al is die uitvoerende hoof van die maatskappy ’n vrou.

Amy Pascal, destyds president van die vermaaklikheidsreus Sony, het die situasie soos volg aan Babcock verduidelik: “Ek bestuur ’n onderneming. As mense bereid is om vir minder geld te werk, dan betaal ek hulle minder. Hulle behoort te weet wat hulle werd is. Vroue behoort nie minder te aanvaar as mans nie.”

In ’n salarisgesprek sal vroue eerder hul prestasies onderbeklemtoon en probeer om op ’n niebedreigende wyse te kommunikeer. Dit is nie bevorderlik om vir jou ’n hoër salaris te beding nie. Navorsing het ook bevind dat 66% van vroue ’n salarisaanbod aanvaar sonder om oor enige aspek te onderhandel.

Wanneer ’n vrou haar loopbaan onderbreek om kinders te kry, het dit ook ’n negatiewe uitwerking op haar vergoeding. Sy moet dikwels op ’n laer salarisskaal inval as sy ná ’n tydperk uit die arbeidsmark terugkom. Mans wat pa’s word, daarenteen, word as broodwinners beskou wat nou ’n gesin moet onderhou. Gevolglik word hulle meer betaal soos hul loopbane vorder.

“Dis taboe om inligting op ’n salarisstrokie te deel, so dis baie moeilik vir vroue om hul vergoeding met hul eweknieë te vergelyk. Vroue moet vra, hulle moenie skimp of wag om raakgesien te word nie,” sê Rachelson.

Meer oor:  Wef  |  Vroue  |  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.