Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Moenie die beer met vrees voer nie

“Die enigste ding wat ons moet vrees is vrees sélf – naamlose, blinde, ongeregverdigde angs wat die pogings wat nodig is om ons aftog in opmars om te skakel, verlam.”

Franklin D. Roosevelt, wat in 1932 tot Amerikaanse president verkies is. Foto: Amerikaanse kongresbiblioteek

Dié aanvangswoorde (vryelik vertaal) van Franklik D. Roosevelt se inhuldigingstoespraak as president van die VSA op 4 Maart 1933 is dalk presies waaraan beleggers hulself nou weer moet herinner. (Dis die moeite werd om die hele toespraak te lees by The Presidency Project.)

Teddy Roosevelt is te midde van die grootste ekonomiese en finansiële krisis in die Amerikaanse en Westerse geskiedenis verkies. Die New Yorkse Aandelebeurs was nog in ’n dramatiese beermark, banke het in duie gestort, Amerikaanse werkloosheid het op 24,5% gestaan en weens armoede en wanvoeding het siektes soos griep en tuberkulose derduisende lewens geëis.

Die aandelebeurs het einde September 1929 al begin daal, maar Donderdag 24 Oktober 1929 staan as Swart Donderdag bekend en 29 Oktober 1929 as Swart Dinsdag. Op Swart Donderdag is 16 miljoen aandele verkoop – ’n rekord wat 40 jaar lank gestaan het – en die beurs het in daardie week met tussen 10% met 13% per dag gedaal. 

Die beermark het drie jaar geduur voordat hy op Julie 1932 gedraai het. Altesame het die New Yorkse Aandelebeurs 89% van sy waarde verloor.

Al het dit toe begin styg, is die hoogtepunt van 29 September 1929 eers 22 jaar later, op 23 November 1954, bereik. (Lees meer oor dié interessante tydperk in Wikipedia.)

Gierigheid vs. vrees

So ’n beermark het hom nog nooit herhaal nie, en dis ook nie die verwagting dat dit weer gaan gebeur nie. Dié dramatiese scenario is nie die groot les van Swart Donderdag nie – die les is dat die ineenstorting van Wall Street veroorsaak is éérs deur “ekstreme gierigheid” wat die bul sommer boontoe laat bokspring het, en toe is die val deur “ekstreme vrees” aangeblaas soos wat paniekbevange beleggers aandele probeer verkoop het.

“Gierigheid” en “vrees” word hier gekies omdat dit die begrippe is wat CNNMoney gebruik vir sy indeks van sentiment op die beurs. Dié week is die indeks in die terrein van “ektreme vrees” op tussen 9 en 13 punte. Die indeks beweeg van 0 (ekstreme vrees) tot 100 (ekstreme gierigheid).

Die beermarkte wêreldwyd is in ’n mate nie irrasioneel nie omdat trae ekonomiese groei maatskappye se potensiaal om wins te maak, onder druk plaas.

Sewe faktore word gebruik om die indeks te bereken, onder meer die volume aandele wat verhandel word; die momentum van aandele (hoe ver die Standard & Poor’s 500-indeks van sy bewegende gemiddelde van 125 dae beweeg); die wisselvalligheid van aandeelpryse; en die aantal aandele wat hul 52-weke-hoogtepunt of -laagtepunt bereik.

Op die hoogtepunt van die finansiële krisis van 2008-’09, op 17 September 2008, was dié indeks op 12 punte – dus omtrent waar dit tans is.

Dié vrees onder beleggers kweek verdere vrees en, soos Roosevelt tereg uitgewys het, moet dié vrees gevrees word. Paniekverkope wêreldwyd kan aandelebeurse verder afdruk as wat geregverdig is deur fundamentele ekonomiese faktore.

Daar is baie ontleders, ook in Suid-Afrika, wat aandele as “duur” beskryf, wat beteken aandeelpryse is té hoog in verhouding tot maatskappye se verdienste. ’n Regstelling – totdat maatskappye se verdienste kan inhaal by die mark se verwagting, soos in die aandeelprys weerspieël word – word al jare lank verwag.

Die beermarkte wêreldwyd is ook in ’n mate nie irrasioneel nie omdat trae ekonomiese groei maatskappye se potensiaal om wins te maak, onder druk plaas. Die Internasionale Monetêre Fonds het verlede week sy verwagting vir wêreldgroei afgeskaal tot 3,4% vir 2015, vergeleke met 3,6% voorheen.

Veral China se verwagte groei van net 6,3% maak die wêreld, wat op dié land se groeimomentum staatmaak, bekommerd.

Die lengte en diepte van die beermark kan egter deur die vreesfaktor vererger word.

Lees ook: Geldraad: Maak só sin van swak aandelebeurs

        

6 dinge wat jy vir jouself moet sê

             

Die beer maak niemand gelukkig nie, maar paniek is ook nie die antwoord nie. Grafika: iStock

The New York Times het die volgende ses wenke vir beleggers saamgestel, wat grootliks ooreenstem met die raad wat Netwerk24 voorheen gegee het. Ons wei daarop uit:

1. “Jy is nie die aandelebeurs nie.”

Jou beleggings bestaan waarskynlik uit ’n mengsel van aandele, kontant, effekte en eiendom (selfs jou eie huis word in dié konteks as ’n belegging beskou). En selfs wat jou aandele betref: Al daal die aandelebeurs, daal al jóú aandele nie noodwendig nie.

2. “Jy het dalk eintlik goed gevaar met aandele.”

Hier is die vraag wanneer jy belê het. As jy al donkiejare lank (of minstens sedert 2009) aandele koop, het jy al minstens een beermark oorleef, maar ook ’n baie sterk bulmark sedert 2009.

Gaan kyk na die prys waarop jy gekoop het teenoor die huidige aandeelprys om jou langtermynopbrengs te sien, eerder as om te kyk na die huidige daling.

Ontleders waarsku almal dat jy gaan sukkel om presies op die regte punt te verkoop (dis reeds te laat as die mark begin daal het) of om presies op die regte punt te koop (die mark val dalk nog verder) – selfs batebestuurders wat dit vir ’n lewe doen, kry dit nie reg nie. ’n Baie beter benadering is om in die mark te bly deur dik en dun en na die langtermynlyn (oor minstens vyf jaar) te kyk, pleks van die daaglikse of selfs jaarlikse skommelinge.

3. “Jou doelwitte het waarskynlik nie verander nie.”

Tensy jou behoeftes dramaties anders is, moet jy ook nie aan jou beleggingsplan torring nie – hoe moeilik dit ook al is!

Daar is ’n goeie rede – en dis nié “gierigheid” nie! – waarom jy in aandele begin belê het. As jou finansiële raadgewer sy sout werd is, het julle al ’n gesprek oor risiko teenoor opbrengs gehad en het julle ’n langtermynplan uitgewerk wat al jou behoeftes aanspreek. Tensy jou behoeftes dramaties anders is, moet jy ook nie aan jou beleggingsplan torring nie – hoe moeilik dit ook al is!

As jy nog nie ’n finansiële beplanner gaan sien het nie of nie tevrede is dat jou raadgewer wel al jou behoeftes en vrese verstaan nie, is dit tyd dat jy ’n afspraak maak by ’n professionele, onafhanklike (dus een wat nie net een maatskappy se produkte aan jou sal probeer verkoop nie) finansiële beplanner.

4. “Die meeste beleggers het baie tyd om te herstel.”

Wat opgaan, moet afgaan – maar wat afgaan, styg weer. As jy vir jou aftrede oor tien of 15 jaar spaar, of vir jou kind se studies oor so min as agt jaar, moet jy jou nie te veel aan die beer steur nie. Beermarkte duur gemiddeld tussen ’n jaar en 18 maande en die langtermynlyn loop altyd opwaarts, dus styg dit met meer as wat dit daal.

Selfs al is jy nou 65 jaar oud, is die kans baie goed dat jy nog tien jaar of langer sal leef en jou aandele dus weer sal herstel.

5. “Party mense kan nie die stres van ’n belegging in aandele hanteer nie.”

Om kalm te bly, is nogal moeilik as aandele val, en baie beleggers wêreldwyd gryp nou na “veilige hawens” – of hul persepsie van wat veilige hawens is – soos goud, staatseffekte, geldmarkfondse en, les bes, bankrekeninge.

Van dié beleggings het inderdaad nie die groot risiko van aandelebeurse – wisselvalligheid – nie, maar daar is risiko’s wat mense dikwels buite rekening laat, soos dat dit dikwels nie inflasie klop nie en jy dus tóg kapitaal verloor, nes in ’n beermark.

Dit is dus nie ’n goeie plan om aandele heeltemal te vermy nie, maar ’n mens kan jou portefeulje só struktureer dat jy gemaklik voel met die hoeveelheid blootstelling wat jy aan aandele het.

Jou finansiële beplanner móét ’n risiko-ontleding met jou doen voordat hy jou geld belê om te bepaal hoe sensitief jy vir risiko is – maar, selfs belangriker, moet julle saam gesels oor hoe ’n mens sin moet maak van markskommelinge én ander risiko’s.

6. “Dis net wat aandelebeurse doen.”

Dís veral goeie raad vir nuwe beleggers en beklemtoon weer dat jy na die langtermynpotensiaal van aandele moet kyk.

Meer oor:  Jse  |  Beleggings  |  Beermark  |  Aandele  |  Geldsake  |  Aandelebeurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.