Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: As pa nie meer met geld kan werk

Jy mag nie net jou ouer wat geestesongesteld is, verbied om hul eie geldsake te hanteer nie.
Hoe sorg jy vir ’n ouer wat nie meer sy of haar eie sake kan hanteer nie? Hoe beplan jy vir jou eie versorging sou jy weens ouderdom, of siekte, geestelik agteruitgaan?

Tensy ons tydjie op aarde vroeër kortgeknip word, is ouderdom iets wat ons almal gaan inhaal. En goeie geestelike gesondheid is nie noodwendig deel van hierdie pakket nie.

As vertrekpunt neem ek ’n brief van ’n leser die afgelope week. Hy wou weet of ek kan help met sy ma se beleggings. Hy noem toe ook dat Alzheimer se siekte by haar gediagnoseer is en sy nie self haar geldsake kan hanteer nie.

Ek kan nie opdragte van die familie oor die ma se geld ontvang nie. En as die ma nie handelingsbevoeg is nie weens Alzheimer se siekte, kan ek ook nie van háár opdragte ontvang nie.

Hoe graag ek ook sou wou help – beleggings is immers deel van wat ek doen – ek kan nie opdragte van die familie oor die ma se geld ontvang nie. En as die ma nie handelingsbevoeg is nie weens Alzheimer se siekte, kan ek ook nie van háár opdragte ontvang nie.

Hoe dan gemaak?

Volmag is nie vir altyd

Net eers ’n opmerking oor ’n wanopvatting oor volmagte wat ek gereeld teëkom.

Al het iemand anders, een van haar kinders, byvoorbeeld, ’n volmag van die ma gehad (wat sy onderteken het toe sy nog gesond was), sou ek nie daarvolgens kon handel nie. ’n Volmag is nietig as die persoon wat die volmag gegee het, doodgaan of nie meer handelingsbevoeg is nie.

Dit is gevestigde reg dat elke mens sy of haar eie sake hanteer. Maar soms moet iemand anders intree omdat ’n persoon onbevoeg is om dit self te doen, hetsy weens geestelike ongesteldheid of ’n ander gebrek.

’n Kurator

Die enigste uitweg in die leser se omstandighede is dat die familie ’n kurator laat aanstel om die ma se geldsake oor te neem.

Jy kan nie net stilbly en self Ma se sake wil behartig nie.

Die hooggeregshof kan ’n kurator (curator bonus) aanstel in die geval van iemand wat geestelik siek is. Of weens hoë ouderdom, ernstige siekte of ’n gebrek nie in staat is om sy of haar eie sake te hanteer nie. Dit kan ’n familielid wees.

Daar rus verpligtinge op ’n kurator. Die belangrikste vir ons doel vandag is dat hy of sy in goeie trou sal optree, met die nodige sorg en in die beste belang van die persoon wat onder kuratorskap is. Botsende belange moet vermy word.

Ek wil veral goeie trou uitsonder. En veral goeie trou waar dit kom by die aansoek om ’n kurator te laat aanstel. Ons howe blyk baie versigtig te wees. Die KwaZulu-Natalse hooggeregshof het pas in die saak Scott e.a. vs. Scott e.a. dit juis beklemtoon dat om eie besluite te neem ’n belangrike deel van die lewe is.

Dit het daar gegaan om kinders wat hul bejaarde pa onbevoeg wou laat verklaar om sy eie sake te hanteer en ’n kurator aan te stel.

Die hof het onder meer bevind selfs wanneer die persoon (die pa) aan “Alzheimer-tipe demensie” lei, dit nie genoeg rede is om te bevind dat hy nie die vermoë het om sy eie sake te hanteer nie.

Die vraag is ’n praktiese een. Is dit so erg dat dit die hof regverdig om hom sy vryheid te ontneem; die vryheid om soos enige individu met sy eiendom te maak soos hy wil.

In ’n ander onlangse saak, Vermaak v. Jacobs in die hooggeregshof in Johannesburg, waar dit gegaan het om ’n testament wat betwis is, het die hof oor die geestestoestand van die testatrise tydens die opstel van die testament beslis dat wat belangrik is, is die harde, waarneembare feite; nie aansprake deur getuies oor dit waarop die optrede (van die testatrise) dui nie.

Hierdie aansoek is eweneens van die hand gewys omdat daar nie bewys kon word dat die demensie in daardie tyd haar die vermoë ontneem het om oor haar boedel te kon besluit nie.

Ek noem dit om ’n rede. Ek sien baie keer hoe kinders wil beheer oorneem van ouers se lewe en goed. Die besluit oor jou goed is ’n reg wat deur ons howe afgedwing sal word.

Beplan self

Wat kan jy doen om te beplan vir sou jy eendag deur só iets getref word?

Jy kan vooraf ’n trust skep en geld daarheen oordra. Normaalweg sal dit skenkingsbelasting tot gevolg hê, maar as die omstandighede reg is en die trustakte is korrek opgestel, kan dit vermy word.

Die SA Inkomstediens het in 2018 ’n bindende beslissing gemaak in dié verband. Die aansoeker was iemand met ’n verswakkende toestand wat vir selfversorging uit die trust voorsiening wou maak. Die beslissing is slegs geldig vir drie jaar en net ten opsigte van hierdie aansoeker. Ek noem dit omdat dit die moontlikheid laat vir tydige beplanning, eerder as om te wag dat ander oor jou lot beslis.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijse

Meer oor:  Ouer Se Geldsake  |  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.