Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Belê slim: Hiers ’n paar waarhede

Ons kyk vandag na ’n paar belangrike punte oor beleggings. Dis ’n wêreld vol grys gebiede, finansiële slaggate en selfs lokvalle as jy nie versigtig is nie.

Die doel met enige belegging is om eerstens jou kapitaal te beskerm en tweedens dit te laat groei. Dis behoorlik ’n bekvol gesê in een sin. Kom ons kyk.

As die beskerming van jou geld nie belangrik is nie, is die beste “belegging” wat jy kan maak waarskynlik om te gaan dobbel. Óf jy verloor alles óf jy wen die boerpot. As dit jou ding is, moenie verder lees nie.

Op die keersy van dié munt, as beskerming vir jou alles is en jy gee nie om vir groei nie, is die beste opsie waarskynlik om dit onder jou bed te versteek (of verkieslik in die brandkluis) – daar waar niemand dit kan bykom nie. Maar jou geld “werk” nie vir jou nie, terwyl die inflasiemonster gulsig daaraan vreet.

Op die keersy van dié munt, as beskerming vir jou alles is en jy gee nie om vir groei nie, is die beste opsie waarskynlik om dit onder jou bed te versteek (of verkieslik in die brandkluis) – daar waar niemand dit kan bykom nie. Maar jou geld “werk” nie vir jou nie, terwyl die inflasiemonster gulsig daaraan vreet.

Goed, albei is bietjie laf, want nie een is ’n belegging nie. Die waarheid van beleggings lê tussenin. Jy wil nie geld verloor nie. Jy wil groei op jou geld hê. Dit moet meer word. En dit is waar beplanning en risiko inkom.

Beantwoord eers dié vrae

Hier is ’n paar vrae waarop jy moet antwoord voordat jy geld belê. Vir hoe lank is die geld beskikbaar vir belegging? Het jy ander geld wat jy kan gebruik in ’n noodgeval? Moet jy ’n inkomste trek uit die belegging of kan jy alles belê vir langtermynkapitaalgroei?

Dis die vertrekpunt van ’n sinvolle beleggingsplan. Nie “Hoeveel rente kan jy vir my kry?” nie.

Die antwoorde op dié vrae sal jou lei na die mees gepaste produk en ander faktore wat ’n rol speel, soos belasting.

Moenie toelaat dat die belastingstert die beleggingshond swaai nie, maar terselfdertyd moet jy belasting in ag neem.

As jy spaar vir aftrede, is dit ’n belastingaftrekbare geleentheid, terwyl jou geld ook belastingvry groei. In ’n diskresionêre belegging is rentegroei, ná die jaarlikse vrystelling, belasbaar teen jou marginale koers, wat tot 45% kan wees.

Kapitaalwinsbelasting vir ’n individu is ’n maksimum van 18% as jy aandelebeleggings verkoop. Aandele bring ook dividende, wat belasbaar is teen net 20%.

Só begin jou plan vorm aanneem.

Nou moet jy begin kyk, of jou raadgewer moet vir jou raad gee hieroor na gelang van die risiko. En hier is die belangrikste punt oor beleggings (buiten dat jy moet seker maak met wie jy sake doen).

Risiko en opbrengs loop hand aan hand. Hoe groter groei jy verwag, hoe meer risiko moet jy “aanneem”.

En die een wat hiermee saamloop, is: As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit.

Om risiko te verstaan, moet ons onderskei tussen die risiko om jou geld te gee aan kansvatters – wat jou die wêreld belowe en dan loop jy die gevaar om alles te verloor (dit is te goed om waar te wees) – en die beleggingsrisiko wat jy aanneem met ’n verantwoordelike beleggingsplan waarin jy blootstelling het aan aandele.

Aandele beweeg (nie altyd boontoe)

Aandele beweeg, dis die basiese waarheid oor aandelebeleggings. En nie altyd boontoe nie. Maar, as jou geld reg belê is, in die regte fondse, sal dit oor tyd beter groei gee as kontant in die bank.

Die risiko lê dus eintlik daarin dat jy nie in die situasie beland waar jy geld moet onttrek wanneer die mark pas gedaal het nie.

Wat my bring by bateverspreiding, of diversifikasie. Belê só dat as die mark val, nie al jou geld daarmee saam val nie.

Só beperk jy risiko.

Ter afsluiting, net een en ander oor buitelandse beleggings. Dit is bloot nog ’n manier om jou risiko te versprei deur diversifikasie. Jy stel jou geld bloot aan ander ekonomieë en ander aandele.

Om al jou geld in die buiteland te belê, is eenvoudig onnosel.

Diversifikasie is die sleutel tot sinvolle groei en kapitaalbeskerming. Jy wil nie alles in een bateklasmandjie hê nie. As jy groei in die buiteland soek, moet jy basies alles in aandele belê. Renteopbrengs (die veiliger bateklasse) in die buiteland is nul, of naby aan nul.

Al jou geld in buitelandse aandele is ’n hoë risiko. Moet jou nie laat insleep by opbrengste van 30% of 40% die afgelope jaar nie. Een van die eerste lesse wat ek geleer het met beleggings, is ’n fonds wat vanjaar vir jou ’n 40%-opbrengs gee, het ’n goeie kans om volgende jaar ’n 40%- verlies te ly. Kan jy dit hanteer? Veral nadat jy ingekoop het pas ná die groei?

Die rand is nou onderwaardeer. Loop lig vir emosie en galbrakers oor Suid-Afrika. Die wisselkoers is net nog ’n risiko; dis nie ’n waarborg vir opbrengs nie.

Kry liewer verantwoordelike beleggingsraad voordat jy enige besluit oor jou geld neem.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak­tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Beleggings  |  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.