Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Hoekom jy die Bokke kies

Moenie altyd op die All Blacks wed nie, jy sal lang trane huil. Foto: Getty Images
Ek is regtig aangegryp deur die onlangse TV-reeks Chasing the Sun, oor die Springbokke se pad na die Wêreldbeker verlede jaar. Dit het my laat wonder of ’n mens nie die lesse daarin ook op beleggings kan toepas nie. Kom ons kyk.

Vanuit ’n finansiële beplanningsoogpunt is daar vir ons talle lesse, of dan raakpunte, in. Soos om jou risiko’s reg te bestuur, om vooraf goeie beplanning te doen, om ’n noodfonds te hou as die kole uit die vuur gekrap moet word – die wat die storie gevolg het, sal weet van Rassie (Erasmus, Bokafrigter) se “bomb squad”. En so meer.

Waarop ek vandag wil fokus, is op wie sou jy jou geld verwed het om daardie beker te wen? Die All Blacks, die Engelse, Wallis, Ierland? Ek glo min mense het die Bokke veel van ’n kans gegee, veral nadat ons in die groepfase teen Nieu-Seeland verloor het. Dit wat rugby aanbetref. Kom ons praat nou beleggings.

Toe sit All Blacks voor die TV . . .

Een en ander skreeu van die dakke af oor die beleggingsprestasie van ’n belegging in ’n buitelandse fonds. Dit is skeef. Dit is krom. En dit is misleidend.

Dit is so goed as om te sê die All Blacks het die Bokke gewen, daarom gaan hulle die Bokke weer klop. En toe die eindstryd gespeel word? Toe sit die All Blacks voor die TV.

Wees verseker, jy gaan geld verloor as jy elke keer in verlede jaar se wenfonds belê. Daar is al stukke navorsing hieroor gedoen wat dit bewys. Jy doen beter, veel beter, deur eenvoudig elke keer in verlede jaar se verloorder te belê (nie dat ek dit aanbeveel nie, daar is veel meer op die spel).

Ek het al voorheen hier gewaarsku teen diegene wat alles in ons land slegmaak net om hul eie produkte te smous. Ek wil vandag liewer fokus op wat dan wel belangrik is in jou besluite oor waar en hoe om te belê.

grafikaa
Les 1: Diversifiseer

Die eerste les is om te sorg vir diversifikasie en nie alles in daardie een wenfonds, een bateklas, of een ekonomie te gaan belê nie. Jy wil nie al jou eiers in een mandjie hou nie – dié ou gesegde ken almal tog. Jy het blootstelling nodig in plaaslike én buitelandse aandele, eiendom, effekte en kontant.

Oorsese markte is soms meer sensitief as hier by ons. Hier is ’n voorbeeld oor die onmiddellike gevolg van die Covid-19-paniek. Die waarde in een buitelandse portefeulje van ’n kliënt van my was op 22 Februarie vanjaar R10 621 860. Toe kom Covid-19 en op 19 Maart staan hy op R9 130 480. ’n Verlies van R1 491 380 in ’n maand.

Die verlies is intussen uitgewis, maar die vraag is of jy so ’n skielike verlies op jou neseier sommerso sal wil aanvaar. Wat as jy die geld in Maart nodig gehad het? Dan moes jy onttrek met daardie verlies. En dis die tweede punt by die eerste les, ’n belegging in aandele is vir die lang termyn.

Les 2: Wisselkoers is ’n risiko

Die tweede les is dat met buitelandse aandele jy ’n bykomende risiko aanneem. En dit word baie keer misgekyk, of doelbewus valslik gepropageer. Die wisselkoers is ’n addisionele risiko wat jy aanneem, dit is nie net ’n geleentheid of randverskanser nie.

Hier is ’n voorbeeld. In April vanjaar, toe sommige die hele land wou afskryf en almal aangeraai is om al hul geld in die buiteland te belê, was die wisselkoers R18,60 teen die dollar. Vandeesweek is dit R15,26. En dit ná al die bohaai oor hoe sleg dit gaan wees vorentoe. ’n Verlies van byna 18% op jou belegging in net sewe maande. Net weens die wisselkoersverandering.

Kom ons kyk na ’n voorbeeld in die grafiek hier bo. Ek neem as voorbeeld die werklike groei van ’n belegging in ’n wêreldwye lewensfonds. Ek rond net die aanvanklike beleggingsbedrag af na ’n lekker ronde R1 miljoen.

Die rooi lyn verteenwoordig die groei sedert 2010. In randwaarde het dit gegroei tot R3 680 638. Dit is groei van 13,9% gemiddeld per jaar. Uitstekend.

Kyk nou die blou lyn, dit is groei in dollarwaarde. In 2010 was dit $148 844 en nou $241 190. Dit is groei van gemiddeld net 4,95% per jaar in die onderliggende bates van die belegging. Die res is opgemaak deur die rand se waarde wat gedaal het oor die tyd.

In 2010 was ons geldeenheid R7,05 werd teenoor die dollar. Oor net die volgende jaar het hy 17% in waarde verloor. Maar as ons oor die tien jaar kyk, dan sien ons ’n verlangsaming en is die rand gemiddeld met 8% per jaar swakker daaraan toe. En ons weet die rand is onderwaardeer.

Nou, dit alles gesê, as jy glo die rand gaan bly verswak en die wenfondse gaan bly wen, dan kan jy gerus daarin belê. Maar wees ook voorbereid vir trane vorentoe. Net soos die All Black-ondersteuners.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.­com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Chasing The Sun  |  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.