Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Lesse vir jou oudag

Moenie laat geld op jou oudag ’n wig tussen jou en die kinders indryf nie. Foto: istock
Ek wil vandag gesels oor oud word. Tensy die noodlot anders bepaal, is dit ons almal se voorland.

Ons lees baie oor aftrede. Ons hoor baie van aftrede. Hoe om te beplan, hoe en waar om te spaar, hoeveel geld jy nodig het om te kan aftree, ensovoorts. En tog kan net sowat 10% van ons mense bekostig om af te tree.

Ek wil vandag anders wees en gesels met die ander 90%. Of liewer met ’n deel van daardie 90%, want so tragies as wat dit is, as jy niks geld het nie, is daar regtig niks waarmee ek en mense soos ek kan help nie. Dan is jy ’n staatsgeval.

Les 1 en 2

Dit bring my by les een vandag: As jy nog jonk is, spaar dat dit klap, sodat jy nie ’n staatsgeval raak nie.

Die probleem waarmee baie ouer mense vandag sit, is dat hulle gedink het hulle het voorsien vir aftrede, maar baie gou agterkom hoe inflasie jou inhaal. Soveel so dat jy sukkel om die pot aan die kook te hou.

En daarom les twee: Vergeet van vroeg aftree, werk solank jy kan en spaar soveel jy kan (kyk les een).

Jou regte . . . en die ouma-woonstel

En dan is daar die ander ding wat kom met ouderdom, anders as jou geld wat sy waarde verloor. Jou krag raak minder. Jy raak alleen. Jy het versorging nodig.

Dit is dan dat daar gekyk word na tehuise vir bejaardes, oftewel ouetehuise. Of daar word by kinders ingetrek. En dit is hierop wat ek vandag (weer) wil fokus.

Ek het heelwat reaksie gekry op my onlangse rubriek hier oor die sogenaamde ouma-woonstel (“Loop lig vir die ouma-woonstel”, 11 April 2021). Een hiervan wil ek vandag graag uitlig, want dit vat vir my die hele probleem saam.

Die leser skryf sy ouers het ’n ouma-woonstel by sy huis laat aanbou, waarvoor hulle betaal het. In ruil daarvoor het hy aan hulle ’n lewenslange “habitatio” belowe. Niks is op skrif nie (wie sluit dan nou kontrakte met jou kinders, nè?).

Intussen is sy ma oorlede en sy pa is nog ouer. Pa wil nou die woonstel verkoop en in ’n ouetehuis gaan woon. Seun sê nee, as jy die “habitatio” prysgee, is dit sy (seun se) eiendom en kan hy daarmee maak wat hy wil.

Ek het vir die seun ’n paar goed uitgewys, onder meer dat as die pa ’n “habitatio” het, soos wat hy in sy brief aan my erken, die pa ’n beperkte reg daarop het. Die seun was duidelik ongelukkig oor “ou mense wat ’n houvas op jou eiendom het, maar geen reg daarop nie”.

Ek sê weer, Pa het die reg daarop, Pa kan dit selfs verhuur en die geld in sy sak steek, of dit gebruik om sy huur by die ouetehuis te betaal.

Les 3: Weet waartoe jy instem

En nou les drie: Moenie ooreenkomste sluit met tegniese regsbegrippe soos “habitatio” as jy nie weet wat dit beteken nie.

In ’n gesprek wat my vrou die afgelope week met ’n ander het, sê die persoon vir haar sy sal “nooit toelaat dat my ouers na ’n ouetehuis toe gaan nie”. Op my vrou se vraag of haar ouers by haar inwoon, antwoord sy nee, by haar skoonsuster. Nou ja, toe . . .

Kyk, elkeen se omstandighede is anders en vir sommige werk dit dalk, maar ek is nie ’n voorstander dat ouers by kinders intrek nie. Kinders moet kans gegee word om hul eie lewe te lei, hulle is nie daar om na ouers om te sien nie.

Maar kom ons aanvaar daar is nou nie veel van ’n ander opsie nie, hoe gemaak? Ma sit alleen in ’n huis wat te groot is vir haar, haar geldjies is al skraps en sy voel ook nie meer so sterk en vol energie soos toe sy 30 was nie.

My eerste punt vir oorweging sou wees om te kyk na wat jy het.

Jy het ’n kapitaalbate, die huis, jy het nie niks nie. Is dit nie ’n beter opsie om die huis te verhuur en die huurgeld te gebruik om jou verblyf in ’n ouetehuis te betaal nie? Dan bly jy darem finansieel onafhanklik. Finansiële onafhanklikheid is vir my die fondament vir selfrespek.

Of verkoop die huis en belê jou geld. Daar is ’n groot keuse van produkte wat vir jou ’n inkomste kan bied en dan hoef jy nie met huurders belas te wees nie. Die punt in die vorige paragraaf oor finansiële onafhanklikheid en selfrespek is eweneens geldig hier.

En laastens, les vier: Pas dit wat jy het op, jy kan dit dalk vorentoe nodiger kry as wat jy dink. Jy wil nie later ’n las vir jou kinders word nie. Vergeet die mooi woordjies en beloftes van “nooit sal Ma ’n las wees nie”. Realiteit is ’n blikskottel.

As jy nie geld het nie, het jy ook geen keuses nie. Hou jou opsies oop.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.