Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: ’n Hele klomp slaggate hiér

Wees versigtig vir lewende annuïteite in ’n trust, want dit kan jou belasting laat hoes.
Ek kyk vandag na lewende annuïteite en trusts. Ek meen hier is ’n hele klomp slaggate wat die voorstanders van lewende annuïteite wat deur trusts gehou word, nie mooi deurdink het nie.

Ek het twee weke gelede geskryf oor die belastingwet-wysigings met betrekking tot aftreegeld en wat môre (1 Maart) in werking tree. Een daarvan het te doen met die definisie van ’n lewende annuïteit wat deur ’n trust besit word. Wat dit sê is dat waar ’n trust beëindig word, moet die volle waarde van die lewende annuïteit na die trust se bankrekening oorgedra word. En dat belasting dan gehef sal word ingevolge die belastingskaal op kontantbedrae by aftrede.

Ek kom verderaan terug hierna toe. Ons kyk net eers weer wat is ’n lewende annuïteit en wat gebeur met die geld daarin as jy die dag doodgaan.

Wat dit is

’n Lewende annuïteit is ’n (verpligte) pensioen wat jy aankoop met jou pensioengeld, of ’n uittree-annuïteit by aftrede. Van môre af is dit ook verpligtend vir lede van voorsorgfondse om ’n annuïteit aan te koop. Uitgesluit die “gevestigde voordele” in ’n voorsorgfonds waaroor ek twee weke gelede hier geskryf het.

’n Lewende annuïteit is niks anders nie as ’n pensioen wat jy koop. Die groot verskil tussen dit en byvoorbeeld ’n werkgewer-pensioenfonds, of ’n gewaarborgde lewensannuïteit, is dat jy jou pensioen self besit, jy die volle beleggingsrisiko op jou neem en self kan besluit oor hoeveel pensioen jy jaarliks of maandeliks wil trek. Dit is tussen 2,5% en 17,5% per jaar.

Die annuïteit (jou pensioen wat jy onttrek uit die lewende annuïteit) is belasbaar in jou hande as ’n annuïteit. Kortom, asof dit ’n salaris is en wel ingevolge die heersende inkomstebelastingskaal.

Dit ter agtergrond.

Die skreeuende belasting-nadeel

Wat gebeur by jou dood? Jy kan, omdat die lewende annuïteit ’n private pensioen is, begunstigdes aanwys. Jou begunstigdes kan dan na jou dood óf voortgaan om ’n pensioen te onttrek (soos wat jy gedoen het), óf die volle waarde van die lewende annuïteit in kontant neem.

Die annuïteit wat aan die begunstigde betaal word, is belasbaar in die hande van die begunstigde ingevolge die inkomstebelastingskaal vir natuurlike persone. As die volle bedrag in kontant geneem word, geld die belastingskaal vir kontantbedrae by aftrede, ’n glyskaal met ’n maksimum van 36% op die bedrag bó R1 050 000.

As jy ’n trust aanwys as die begunstigde op jou lewende annuïteit ná jou dood, geld dieselfde basiese reëls. Behalwe die inkomstebelastingskaal ter sake.

Waar ’n individu as begunstigde belas sou word op sy of haar annuïteitsinkomste uit die lewende annuïteit op ’n skaal tussen 18% en 45%, word trusts belas teen ’n vaste koers van 45%. Die belasting-nadeel deur ’n trust aan te wys as begunstigde op ’n lewende annuïteit moet tog skreeuend wees.

Om hierdie nadeel te omseil, het enkele versekeraars nou met die foefie vorendag gekom om die trust te registreer as werkgewer by die Ontvanger van Inkomste. En dan ’n belasting-aanwysing verkry wat ’n nul belastingkoers hef vir die trust. Die annuïteitsinkomste word dan aan die trustbegunstigdes oorbetaal en betaal hulle (die trustbegunstigdes) dan belasting teen die belastingskaal op inkomste wat geld vir individue.

Die reg

Ek het twee probleme hiermee. Vanuit ’n inkomstebelastinghoek en vanuit ’n trust­reghoek.

Die trust kan nie die deurvloeibeginsel wat geld vir trusts, gebruik om die annuïteit aan die begunstigdes uit te betaal as ’n annuïteit nie. Dit is omdat die trustbegunstigdes nie die begunstigdes op die lewende annuïteit is nie. Die trust is. (Dit is eintlik die kern van die probleem en die motivering vir die foefie.)

’n Annuïteit kan ook nie sy vorm verander nie. Dit word altyd belas as ’n annuïteit. Ná die belasting betaal is, kan jy natuurlik met die geld maak soos jy wil. Net so kan die trust dan die geld aan begunstigdes uitdeel – ná die trust 45% belasting betaal het. Maar dis wat hulle nie wil doen nie.

Nou die trustreg. ’n Trust is ’n kontrak tussen die oprigter, die trustees en die begunstigdes. Jy kan nie goedsmoeds, selfs met behulp van iemand by die Ontvanger van Inkomste, die trust eenvoudig as ’n werkgewer gaan registreer net om jou uit ’n belasting-penarie te wikkel nie.

Jy kan nie sommer van ’n trustbegunstigde nou ’n werknemer van die trust gaan maak, sodat jy die annuïteitsinkomste van die trust kan uitkeer in ’n ander vorm as waarin dit aan die trust uitbetaal is nie. Terloops, dit klink vir my asof min of niemand by die Ontvanger van Inkomste bewus is van hierdie werkgewer-foefie nie. Daar is glo net ’n sekere vrou wat hiermee kan help. Maar dalk mis ek iets.

En die laaste punt, die wetswysiging van toepassing van môre af. As die trust beëindig word, moet die lewende annuïteit in kontant in die trust se bankrekening inbetaal word. En ek kan nie sien hoe die Meester van die Hof ’n trust gaan sluit met geld in sy bankrekening nie.

Eers alles aan die begunstigdes uitkeer? Is daar dan enigiets te bereik deur nie uit die staanspoor jou begunstigdes direk aan te wys nie? Hoekom die trust-beslommernis met belastingfoefies?

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.