Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Polisse en klomp kommissie vooruit

Laat my toe om ’n lig te skyn op die donker kant van wat ons ken as finansiële raad.

Ek, en ek glo die meeste van my kollegas in die finansiëledienstebedryf, beklemtoon gereeld die nodigheid van goeie finansiële raad voordat jy besluite neem oor jou eie en jou naasbestaandes se finansiële toekoms. Verskeie stukke navorsing het al gewys dat mense wat in vertroue met ’n goeie finansiële beplanner werk, op die lange duur beter daaraan toe is as die wat dit nie gedoen het nie.

Die werklikheid is egter dat die finansiëledienstebedryf, ondanks wetgewing en ’n versmorende spul regulasies, steeds ’n produkgedrewe bedryf is.

Die werklikheid is egter dat die finansiëledienstebedryf, ondanks wetgewing en ’n versmorende spul regulasies, steeds ’n produkgedrewe bedryf is. Die geskreeu van die dakke af oor superhoë opbrengste op beleggings, belastingbesparings en wie weet watter ander foefies, is ’n teken hiervan.

En as ek dit só stel, besef ek dat baie mense geneig sal wees om almal oor dieselfde kam te wil skeer. Moenie. Daar is baie, ek glo dalk selfs die meeste, raadgewers en makelaars wat opreg en eerbaar is in die hantering van hul kliënte se behoeftes.

En juis om dié rede wil ek fokus op enkele slaggate, wanopvattings en wanvoorstellings, sodat lesers met meer kennis in hul gesprekke met finansiële raadgewers en makelaars kan tree.

Kom ek begin by ’n e-pos van Marius Smith die week na aanleiding van my rubriek verlede week en die voorbehoude wat ek het teen sekere polisse. Ek het kwansuis vergeet om te noem, sê hy, dat “polisse van vyf jaar en meer is belastingvry”. Ek weet die storie word deur polissmouse die wêreld ingestuur. Dis grootliks snert.

Die opbrengs op beleggings, enige belegging (uitgesonderd die belastingvrye spaar- en uittree-annuïteite), is belasbaar. Ek weet daar is diegene wat op hierdie stelling antwoord met ’n ja, maar “die versekeraar betaal die belasting, nie jy nie”. Dis eweneens snert.

Die verskil tussen spaar in ’n polis en doodgewone spaar direk in effektetrustfondse, is dat eersgenoemde belas word in die polishouersfonds en nie direk in jou hande nie. Dit word steeds betaal uit die opbrengs op die beleggings en dit verminder steeds jou opbrengs.

Die voordeel van in die polis spaar, lê bloot daarin dat jy in die polishouersfonds op rente en huurinkomste (uit die beleggingsopbrengs) belasting betaal teen 30% en kapitaalwinsbelasting (KWB) teen 12%. Om ’n polis te kies vir belastingdoeleindes sal dus net sin maak as jou marginale koers meer is as 30%.

In die polis het jy ook nie die jaarlikse vrystelling op rente van R23 800 (vir diegene bo 65 is dit R34 500) nie. Of die jaarlikse vrystelling op kapitaalwins van R40 000 nie. En laat ek sommer die ander belasting-mite ook nekomdraai, ’n polis is nie vrygestel van boedelbelasting nie.

En die sogenaamde belastingvrye inkomste ná vyf jaar? In ’n doodgewone belegging in effektetrustfondse kan jy dit ook doen, sommer van dag een af. Hoekom eers vyf jaar in ’n polis belê?

Jy kan “belastingvrye onttrekkings” maak, omdat die belasting op die groei reeds betaal is. Jy onttrek eintlik maar net jou eie nabelaste geld, dis al. Niks spesiaals hieraan nie. ’n Polis is ’n goeie produk as jy in ’n hoë belastingkategorie val en jy het vyf jaar waarin jou geld vas is. Dit is ’n goeie produk as jy die familietrust se geld belê, want die inkomstebelastingkoers in ’n trust is 45%, teenoor die 30% in die polis.

Maar dan ook, jy kry polisse en polisse. Jy het nie nodig om in ’n polis te belê waar daar ’n klomp kommissie vooruit betaal word wat dan as ’n skuld teen jou belegging staan nie. Of waar jy beboet word as jy die premies staak nie. ’n Raadgewer met integriteit behoort dit aan jou uit te wys.

Ek het die week ook ’n brief gekry van Ben van Deventer wat wou weet oor ’n ander tipe polis waaruit hy ’n inkomste kry, genoem, soos ons kan raai, ’n inkomsteplan. Dit werk so: Jy gee vir die versekeraar jou geld en dan vir vyf jaar lank kry jy ’n gereelde inkomste. Ná die vyf jaar kry jy jou kapitaal terug en belê dit dan weer vir vyf jaar.

Ek het twee probleme met die “plan”. Daar is weer eens vet kommissie betaalbaar, wat op sigself nie die probleem is nie. Die probleem is dat jy ná elke vyf jaar weer kommissie betaal vir die volgende vyf jaar se belegging. En so meer. Saam met inflasie is dit ’n seker manier om jouself arm te spaar.

Ek het dit sien gebeur met iemand wat nie wou luister na my raad nie. As jy aftree-inkomste wil hê met jou diskresionêre geld (nie pensioenfondsgeld nie), oorweeg gerus ’n lewenslange, gewaarborgde vrywillige annuïteit. Die uitbetalings is veel beter en jou kapitaal is by jou dood beskikbaar vir ’n naasbestaande.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Kommissie  |  Nico Van Gijsen  |  Polisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.