Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Saamblyers: Onthou die testament

Van lekker lag . . . “Baie jong mense vandag, lyk dit vir my, trek in en trek uit sonder dat daar veel van ’n waarneembare onderneming van wedersydse onderhoud is.”
Ek kyk vandag na saamblyverhoudings en veral die belangrikheid van ’n testament as jy in so ’n verhouding is.

Ek doen dit teen die agtergrond van die uitspraak deur die hooggeregshof in Kaapstad verlede maand in die saak Bwanya vs. Meester van die Hoë Hof en ander. Dit het hier gegaan oor die toepassing van art. 1 van die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987). Intestaat beteken jy sterf sonder om ’n geldige testament na te laat. En dan, sê hierdie wet, sal die oorlewende gade, as daar nie afstammelinge is nie, die hele boedel van die oorledene erf. En as daar afstammelinge is, sal die oorlewende gade ’n kindsdeel erf, of soveel as die bedrag wat die minister van justisie deur kennisgewing bekend maak.

Die wet brei heelwat uit oor wie waar in die ry staan om te erf as daar nie ’n gade of afstammelinge is nie, maar vir vandag hou ek by die oorlewende gade, synde dit al is wat hier relevant is.

Me. Bwanya was in ’n saamblyverhouding met die oorledene, maar kon nie erf uit sy intestate boedel nie, soos wat sy sou kon doen as sy wettig getroud was. Die hooggeregshof het toe beslis dat die wet ongrondwetlik is en dat dit gewysig moet word om toe te laat vir ’n lewensmaat (partner) in ’n permanente teenoorgesteldegeslag-verhouding (opposite-sex life partnership) waarin hulle onderneem het om mekaar wedersyds te ondersteun en te onderhou.

Nou, die agtergrond van hierdie uitspraak se klem op “teenoorgesteldegeslag-verhouding” is sowel interessant as relevant tot ons bespreking vandag. En hier moet ons kyk na ’n uitspraak van die konstitusionele hof in die saak Gory vs. Kolver in 2006. Die saak het gehandel oor iemand in ’n selfdegeslag-verhouding wat nie intestaat kon erf van sy lewensmaat nie. Hulle kon nie trou nie. Die hof het beslis dit is ongrondwetlik en soortgelyke woorde as nou in die Bwanya-saak moes in die wet ingelees word.

Die uitspraak in Gory het in werklikheid veroorsaak dat daar toe teenoor mense in heteroseksuele verhoudings gediskrimineer word. Vandaar nou die uitspraak in die hooggeregshof. Ek meen ons kan maar aanvaar dat die konstitusionele hof die uitspraak sal bekragtig.

Goed, dit nou die regsagtergrond en al wat dit sê, is dat as jy in ’n saamblyverhouding is en nalaat om ’n testament op te stel en jy gaan dood, dan het jou lewensmaat ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging die reg om van jou te erf, minstens ’n kindsdeel as jy kinders het.

Ek sien twee probleme

Eerstens, baie jong mense vandag, lyk dit vir my, trek in en trek uit sonder dat daar veel van ’n waarneembare onderneming van wedersydse onderhoud is of dat dit bedoel was om langtermyn te wees. Die vraag is nou, wat as een sterf kort ná so ’n intrekkery en hy of sy het nie ’n testament nie? Die oorlewende kan dan volgens hierdie twee hofuitsprake voor in die ry staan met die verdeling van die oorledene se boedel.

Ek glo as die intrek kort tevore was, kan daar verwag word dat die oorlewende party bewys sal moet lewer dat dit bedoel was om langtermyn te wees, ensovoorts. En dit gaan ’n besoek aan die hof beteken, wat geld kos.

Tweedens is baie ouer mense alleen weens egskeiding, of ’n vooroorlede gade, en gaan dan in ’n saamblyverhouding met iemand sonder dat hulle finansieel van mekaar afhanklik wil wees. Ek het al mense met hul finansiële beplanning gehelp wat presies in so ’n situasie is. As een sterf sonder ’n testament, staan die ander nou outomaties eerste in die tou om te erf. En met die ouer mense met wie ek werk, is daar gewoonlik kinders uit ’n vorige huwelik wat verwag om byvoorbeeld van Pa te erf. Dit kan ’n lastige affêre raak.

Wat’s die antwoord?

Ek meen lesers sal teen dié tyd met my saamstem oor die oplossing. Sorg dat jy ’n geldige testament het. Dan kan die wet nie op jou van toepassing wees nie. Dan kan jy bemaak soos jy wil.

En hoekom sal ’n mens nie hierdie reg om met jou goed te maak wat jy wil, gebruik nie? Doen dit net. Kry jou testament in orde. Die dood kom wanneer hy wil.

Maar daar is meer. Die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) bepaal dat ’n gade in ’n huwelik ’n eis om onderhoud het teen die boedel van ’n oorlede gade in sekere gevalle. En dit is in dié stadium nog slegte nuus vir die saamblyers.

In die saak Volks vs. Robinson e.a. het die konstitusionele hof beslis dat die wet net van toepassing kan wees op diegene wat gekies het om te trou.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.