Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Vat só raak met jou spaargeld
Om raak te skiet met beleggings, moet jy eers die regte vraag vra.

Die een onderwerp wat vir my uitstaan in briewe van lesers, is beleggings. Dis heeltemal te verstane. ’n Mens wil tog die beste doen met jou spaargeld. Ek kyk vandag na ’n paar misvatte oor beleggings en daarna (hopelik) kan ek ’n paar raakvatte voorstel.

  

1. Moenie fokus op rente

Een van die mees uitstaande misvattinge, wat ek aflei uit lesers se briewe, begin by die vraag wat hulle vra. En jy kan tog dink, as die vraag verkeerd is, gaan die antwoord verkeerd wees, of hoe?

En dié vraag? “Watter rente kan jy vir my kry?” Dit is vir my duidelik dat die mense soek na ’n beter opbrengs as wat hulle by die bank kry.

Maar beleggings gaan oor veel meer as rente. Kyk gerus weer na my rubriek Pastore, rente nie maats vir ’n meer omvattende bespreking van rente.

Ongelukkig is alle makelaars en raadgewers nie ewe veel geseën met integriteit nie. En dit is dan wanneer jy getakel kan word met kleurgrafieke oor hoë opbrengste, met groei van tot 30%. En baie mense val daarvoor.

Ongelukkig is alle makelaars en raadgewers nie ewe veel geseën met integriteit nie. En dit is dan wanneer jy getakel kan word met kleurgrafieke oor hoë opbrengste, met groei van tot 30%. En baie mense val daarvoor.

Ek dink dit was Piet Cillié, ’n voormalige redakteur van die Die Burger, wat gesê het joernaliste sondig meer deur wat hulle nie sê nie as wat hulle sê. Dieselfde geld makelaars.

Jy hoef nie te lieg oor die 30% nie, bly net stil oor die risiko – dat dit uitsonderlike groei was en niks beteken vorentoe nie.

   

2. ’n Mens spaar vorentoe, nie agtertoe nie

Die volgende misvatting gaan oor wat ons noem risikoprofiel. Sommige mense beskou dit as ’n manier om te bepaal hoe gemaklik jy as kliënt is met aandele. En as jy skrikkerig lyk, dink hulle hulle doen die regte ding deur jou geld net in rentedraende instrumente te belê.

Of, veral as jy ou kant toe staan, meen hulle jy het nie blootstelling aan groeibates nodig nie, want jy moet jou kapitaal beskerm.

Wat sulke pogings tot ’n risikoprofiel uit die oog verloor, is dat inflasie ’n groter risiko is as die bewegings in die aandelemarkte. Aandele beweeg, soms af, maar gewoonlik boontoe. Inflasie vreet heeltyd aan jou geld. En as inflasie nie die uitklophou plant nie, kom belasting en hamer jou op die knieë totdat jy val.

Dit is van die misvatte wat my pla. Hoe kan jy raakvat met jou spaargeld?

  

3. Is jou risiko gedek?

My eerste vraag is, hoeveel geld het jy beskikbaar? Of hoeveel per maand kan jy spaar?

Vir jonger mense sal ek voorstel dat hulle eers kyk na risikodekking, lewens-, ongeskiktheids- en siektedekking.

Dit help nie jy het ’n paar duisend rand gespaar, maar jy kort miljoene rande om byvoorbeeld aan die lewe te bly as jy ongeskik raak en nie ’n inkomste kan verdien nie.

Maar vandag fokus ons op beleggings.

  

4. Hoeveel tyd het jy?

Die volgende vraag is, vir hoe lank wil jy belê? Jong mense met baie jare wat voorlê kan bekostig om markskommelinge te trotseer omdat hulle tyd aan hul kant het. Hulle kan dus redelik swaargewig gaan met groeibates, soos aandele en eiendom.

Vir diegene wat al by aftrede is, is dié vraag ewe belangrik, want die belegging moet so saamgestel word dat die geld gaan hou tot die dag van jou dood. Die een ding wat jy nie wil hê voor jou moet doodgaan nie, is jou geld.

  

5. Wat is jou doelwit?

En dan die vraag wat logies hiermee saamhang, is of jy wil kapitaal bou en of jou neseier aan jou ’n inkomste moet bied? Weer eens gaan dit bepaal hoe jou beleggingsportefeulje saamgestel gaan word. Byvoorbeeld vir kapitaalbou op lang termyn kan jy meer aandeleblootstelling bekostig.

Vir inkomste moet minstens ’n deel van die kapitaal beskerm wees teen markskommelinge, sodat jy nie hoef geld te onttrek as die mark in ’n daalfase is nie.

Dit alles saamgevat beantwoord ’n ander vraag wat ek ook byna elke week van lesers kry. “Ek het (noem ’n bedrag), hoe kan ek dit die beste belê?”

Wat my bring by die kernpunt vandag. As jy wil raakvat met jou beleggings, begin deur die regte vrae te vra. Die bespreking hierbo behoort dit duidelik te maak, daar is nie een belegging-skoen wat almal pas nie.

Die sleutel tot ’n goeie belegging is soos ons almal teen dié tyd weet, diversifikasie. Jy het blootstelling nodig in verskeie bateklasse, meer ook as darem net een ekonomie (nee, nie al jou geld in die buiteland nie!). Verkieslik ook meer as een batebestuurder, want elkeen skiet soms te kort hier en daar en jy wil nie alles hier of daar hê as dit gebeur nie.

’n Laaste belangrike punt. As jy gesien het jou belegging het (soms erg) gedaal, kyk gerus na jou diversifikasie.

Die totale groei, of gebrek aan groei, beteken nie noodwendig dat jy ’n swak beleggingsamestelling het nie.

Dit kan bloot beteken dat jou groeibates ’n hobbel in die pad getref het, terwyl die fondse wat beskerming bied in sulke tye hul werk heel goed gedoen het.

Wees dan net geduldig.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.