Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Oorleef jou eerste onderhoud
’n Werkonderhoud is waar jy jouself aan jou potensiële werkgewer moet bemark en verkoop. Foto: istock

Jou CV het die kortlys gehaal en jy word genooi vir jou eerste werkonderhoud. Hoe verseker ’n mens dat jy ’n goeie indruk op jou voornemende werkgewer maak?

In die tweede artikel met raad en wenke vir skoolverlaters of gegradueerdes wat vir die eerste keer werk soek, gee ons wenke van kenners oor hoe ’n mens daardie gevreesde eerste werkonderhoud hanteer. 

’n Werkonderhoud is waar jy jouself aan jou potensiële werkgewer moet bemark en verkoop. Jy moet dus nie só op jou senuwees raak dat jy die kans verspeel nie.

Doen vooraf jou huiswerk 

“Die grootste fout wat mense maak, is om te dink hulle hoef nie voor te berei vir ’n werkonderhoud nie,” sê Kay Vittee, uitvoerende hoof van die personeelgroep Quest Staffing Solu­tions.

“Hoe meer vertroud jy met die maatskappy is en die spesifikasies vir die betrokke pos, hoe meer selfvertroue gaan jy in die onderhoud hê en hoe beter is die indruk wat jy skep,” sê Vittee.

Sy raai werksoekers aan om vooraf navorsing op die internet oor die maatskappy en jou posbeskrywing te doen, en antwoorde voor te berei oor hoe jou vaardighede en sterk punte waarde tot die maatskappy kan toevoeg. 

Maak dus vooraf ’n lysie van jou sterk punte, jou suksesstories en jou doelwitte.

“Doen ’n oefenlopie met ’n vriend of met iemand wat ondervinding het van werkonderhoude,” sê Tasneem Mohamed, ’n voormalige bestuurder van die gegradueerde afrigtingsprogram by die leierskapsontwikkelings- en werwingsgroep Landelahni. “Hierdie persoon kan jou ook wys op enige hinderlike gewoontes (byvoorbeeld deur met jou pen te vroetel terwyl jy praat) waarvan jy dalk nie bewus is nie.” 

Watter soort vrae kan jy verwag? 

Dit is die moeite werd om ter voorbereiding vir ’n onderhoud deur ’n lys algemene onderhoudsvrae te werk, sê Lindi Dlamini, uitvoerende hoof van mensehulpbronne by die onderneming PPS.

Hierdie vrae sluit gewoonlik in: “Vertel ons bietjie oor jouself”; “Waar sou jy graag oor tien jaar wou wees?”; en “Wat is jou sterk- en swakpunte?”. Daar sal ook vrae wees oor vorige werk­ervaring of die vaardighede wat jy bied wat beter as dié van ander kandidate is. 

Die vrae is daarop gemik om ’n onderhoudvoerder te wys hoe jy jou werk benader, hoe jy in die werkplek optree en wat jou ambisie vir die toekoms is.

“Wys die onderhoudvoerder hoe toepaslik jou vaardighede en kwalifikasies vir die werk is waarvoor jy aansoek doen, en probeer in jou antwoorde ’n verband trek tussen jou prestasies, vermoëns of belangstellings en die pos waarvoor jy aansoek doen,” sê Karen Ekron van Sage VIP Payroll & HR.

Sommige vrae is daarop gemik om vas te stel hoe jy sal inpas by die maatskappy se kultuur, visie en die span waarin jy gaan werk. Daarom is dit noodsaaklik dat jy vooraf navorsing doen oor die maatskappy, sodat jy hierdie vraag gemaklik kan antwoord.

Dit spreek vanself dat ’n mens nie laat vir jou werkonderhoud opdaag nie.
 

Eerste indruk gee die deurslag

Dit spreek vanself dat ’n mens nie laat vir jou werkonderhoud opdaag nie. “Wanneer jy betyds is, toon jy respek vir die onderhoudvoerders se tyd en bewys jy ook dat jy jou eie tyd kan bestuur,” sê Ekron. 

Maak ook seker dat jy die maatskappykultuur reg verstaan wanneer jy ’n uitrusting vir die werkonderhoud kies. Wees eerder te formeel as informeel, is die konsensus.

“Persoonlike voorkoms is baie belangrik en die kandidaat moet netjiese klere dra wat professioneel by die posbeskrywing pas,” sê Dlamini. 

Jy moet gewaarmerkte afskrifte van jou kwalifikasies byderhand hou, asook alle dokumente wat benodig word, soos jou ID of bestuurderslisensie. Bel vooraf en maak seker wat benodig word.

Kommunikeer doeltreffend in die onderhoud 

’n Mens kommunikeer nie net met woorde nie. Jou nieverbale kommunikasie praat net so hard, waarsku Mohamed.

“Nieverbale kommunikasie sluit in jou postuur, handgebare, en die manier waarop jy met die onderhoudvoerder kontak maak deur met die hand te groet en oogkontak te maak.”

Algemene foute om te vermy, sluit in om agteroor te lê in jou stoel, met jou hare of iets anders te vroetel, jou selfoon te antwoord tydens die onderhoud of om nie aandag te gee aan die vrae nie.

“Ontspan, al is dit hoe moeilik. As ’n mens op jou senuwees is, begin jy vroetel of jy vergeet heeltemal wat jy wou sê,” waarsku Vittee.
Hou jou antwoorde kort genoeg sodat die onderhoudvoerder tyd het om opvolgvrae te vra.

Mag ’n mens jok in ’n werkonderhoud? 

Dít kan jou ’n werk kos, waarsku die kenners. 

Dis belangrik om jou prestasies in die beste moontlike lig te plaas, maar jy moet hou by die feite, sê Anja van Beek, mensehulpbronbvestuurder vir Sage VIP.

“Moenie aanspraak maak op kwalifikasies en vaardighede wat jy nie het nie. Werwers sal jou inligting verifieer.”

’n Mens moet ook eerlik wees oor verpligtinge soos deeltydse studie wat dalk vereis dat jy soms studieverlof sal moet neem.

Wat as jy nie weet wat die antwoord op ’n vraag is nie? 

As jy die vraag nie mooi verstaan het nie, vra die onderhoudvoerder om te herhaal en luister aandagtig. 

Onderhoudvoerders weet dit is jou eerste werkonderhoud, en sal nie die onmoontlike van jou verwag nie – maar hulle wil sien dat jy oopkop dink en gewillig is om te leer of verantwoordelikhede te aanvaar. As daar byvoorbeeld ’n vaardigheid is wat jy nie het nie, sê dat jy gewillig is om opleiding daarin te ontvang.

Wees gereed met ’n vraag of twee van jou eie 

Dit sal onderhoudvoerders help oortuig dat jy werklik belangstel in die pos, sê Ekron.

Vra wat die maatskappy se verwagtinge vir die pos is en wat die bevorderingsmoontlikhede is. Maar wag vir die regte oomblik om vrae oor geld of spesiale vereistes te vra. 

Meer oor:  Cv  |  Werksoekers  |  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.