Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Vakansiewerk is ’n gulde geleentheid
Studente kan in hul vakansie geld verdien met produkbekendstellings of promosies. Dit help jou om ondervinding in ’n veld in die sakewêreld op te doen.

Die afgelope weke het studentebetogings landwyd uitgekring. Een van die studente se griewe is die finan­siële druk wat die verhoging van klasgeld plaas op ouers wat minder welaf is. Dié druk sal ook gevoel word deur die duisende matrikulante wat hoop om tersiêre opleiding te kry.

Iets wat hulle moet oorweeg, is dat die vakansietyd ’n gulde geleentheid bied om hul toekomstige loopbaangeleenthede te versterk terwyl hulle ook ’n bietjie geld verdien. Só sê Nritika Singh, besturende direkteur van Isilumko Staffing & Activate, ’n nasionale werwingsmaatskappy van tydelike en permanente personeel.

“Dit maak nie saak watter vlak van opleiding ’n jong mens bereik het nie, indien hy of sy bereid is om vakansietyd op te offer, kan hulle geld verdien in Desember en Januarie wanneer daar heelwat deeltydse werk beskikbaar raak.”

Sy sê seisoenswerk is veral in die klein- en groothandel asook in die oproepsentrumbedryf beskikbaar. “Desember is dikwels een van die besigste maande en hulle word erg geraak deur die afwesigheid van personeel weens siekte of omdat hulle Kerstyd by hul gesin wil wees.”

Hierdie gapings kan gevul word deur jong mense wat deeltyds werk of indiensopleiding ontvang.

Singh sê vakansiewerk is dalk die beste manier om werkondervinding op te doen of te besluit wat jou loopbaan moet wees.

“Dink byvoorbeeld aan die oproepsentrumbedryf, wat die afgelope tyd geweldig gegroei het, of om as kassiere in die kleinhandel te werk, of om as ’n pakker in ’n groot supermark of pakhuis te werk. Oorweeg ook algemene administratiewe werk.”

Nritika Singh

Sy sê dikwels open ’n werk aan die onderpunt van die beroepsleer deure wat tot ’n vervullende loopbaan kan lei, terwyl die geld wat jy verdien vir jou universiteitsopleiding kan help betaal.

Maar hoe vind ’n mens vakansiewerk of selfs voltydse indiensopleiding as jy matriek geskryf het?

“Een van die beste opsies is ’n werwingsagentskap met ’n goeie reputasie, want dié soort ondernemings fokus uitsluitlik daarop om geskikte poste vir die regte kandidate te vind.”

Sy wys daarop dat Isilumko Activate se sake-eenheid Studentwise die enigste nasionale indiensnemingsagentskap vir studente is. Studente kan geld verdien vir deelname aan produkbekendstellings, promosies, of ander sakebedrywighede.

“Die eenheid het uitstekende verhoudings met kliënte om aan studente tydelike, kontrak- of permanente werk te voorsien.”

Soos enige ander werksoeker, moet ’n mens ook jou CV agtermekaar kry vir ’n vakansiewerk. Besonderhede soos jou opvoedkundige kwalifikasies, of jy oor ’n rybewys beskik, jou kontak­besonderhede of enige sterk punte wat in jou guns sal tel, behoort op jou CV te verskyn.

“Bring ook afskrifte van enige sertifikate, getuigskrifte en jou ID na die werkonderhoud, want dit sal die werwingsproses gladder laat verloop,” sê Singh.

“Dit kan jou hele loopbaankeuse verander deur net ’n paar weke uit jou vakansie te benut en in ’n sekere veld te gaan ondervinding opdoen.”

Pasop vir swendelaars

Dis moeilik genoeg om ’n werk te vind, maar as jy boonop moet oplet of die advertensie nie dalk ’n slenter is nie, raak dit selfs moeiliker. Let op die volgende gevaartekens wanneer jy op ’n werkadvertensie reageer:

  • Moet nooit betaal om ’n werk te kry nie – dit is ’n duidelike teken dat die advertensie ’n slenter is.
  • Wees baie versigtig vir e-posse wat oorsese werkgeleenthede belowe, veral as dit van ’n obskure e-posadres kom sonder ’n opspoorbare straatadres en telefoonnommer.
  • Advertensies wat werk-van-die-huis-geleenthede of enige geldoordrag belowe: Moenie jou bankrekeningbesonderhede verskaf nie.
  • Gewaarborgde kommissie of beloftes van groot wins – let op dat die werkbeskrywing hierby doelbewus vaag is en net ontwerp is om ’n desperate werksoeker te vang met beloftes van ’n baie groot verdienste.
  • Gou-ryk-word-skemas wat jou nooi om ’n “passiewe inkomste­geleentheid” te gebruik. Hoe ongeloofliker die aanbod, hoe groter die kans dat dit ’n slenter is.
  • Swak taalgebruik en spelfoute in ’n advertensie is ’n teken dat alles nie pluis is nie.


Meer oor:  Beroepe  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.