Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
1,5 mjd. mense besoek Facebook daagliks
Facebook, wat ook WhatsApp en Instagram besit, het miljarde daaglikse gebruikers. Foto: Getty Images

Daar is geen keer aan Facebook se groei nie, al worstel die sosiale netwerk met die een privaatheidskandaal ná die ander.

Luidens die maatskappy se jongste kwartaalverslag het Facebook nie net inkomsteverwagtinge oortref nie, maar ook sy getal daaglikse gebruikers.

Altesame 1,52 miljard mense het daagliks Facebook in Desember besoek. Dit is 9% meer as dieselfde tydperk ’n jaar gelede. Sy getal maandelikse besoekers is ook 9% meer op 2,32 miljard.

Dit is verstommende groei vir ’n maatskappy wat etlike skandale deur die loop van 2018 moes trotseer.

Facebook het in Maart erken dat die omstrede konsultasiefirma Cambridge Analytica toegang tot soveel as 87 miljoen gebruikers se profiele verkry het in die aanloop tot die Amerikaanse verkiesing in 2016.

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof en medestigter van Facebook, het in April voor die Amerikaanse kongres om verskoning gevra dat kwaadwillige karakters gebruikers se data kon misbruik.

In Oktober het Facebook erken dat nóg byna 50 miljoen gebruikers se inligting weens ’n veiligheidsprobleem onthul is. Kuberkrakers het ’n swak plek in die Facebook-kode gebruik om toegang tot gebruikers se profiele te kry.

Facebook se inkomste verdien uit advertensies het met ’n enorme 30% toegeneem tot $16,6 miljard vir die laaste drie maande tot einde Desember.

Adverteerders blyk min gepla te wees hierdeur. Facebook se inkomste verdien uit advertensies het met ’n enorme 30% toegeneem tot $16,6 miljard vir die laaste drie maande tot einde Desember. Die maatskappy het in 2018 meer as $55 miljard net uit advertensies verdien – 38% meer as in 2017.

Altesame 93% daarvan is afkomstig van advertensies op sy slimfoonapps, veral Instagram. Facebook besit dié fotoplatform, sowel as WhatsApp. Hoewel WhatsApp tans nog nie ’n inkomste uit advertensies verdien nie, het Chris Daniels, visepresident, in November gesê die kletsdiens wil eersdaags begin om advertensies in WhatsApp-stories te wys.

Facebook se netto inkomste vir die jaar tot einde Desember beloop $22 miljard – 39% meer as in 2017.

Die vreugdevure gaan dalk nie te lank brand nie, want Facebook word deur etlike boetes in die gesig gestaar, hoofsaaklik van Europese reguleerders.

Nadat 50 miljoen gebruikers se inligting deur kuberkrakers bekom is, kan Facebook onder die nuwe algemene databeskermingsregulasie (GDPR) met tot 4% van sy wêreldwye jaarlikse inkomste beboet word. Die GDPR geld vir enige maatskappy wat in of buite die EU gesetel is wat persoonlike data van enige EU-inwoner verwerk.

Aangesien Facebook se internasionale kantoor in Ierland, ’n EU-lidland, is, word dit deur die Ierse databeskermingsowerheid onderskryf.

Die maatskappy se aandeelprys het Donderdag met meer as 11% tot $168,20 gestyg.

Meer oor:  Facebook  |  Tegnologie  |  Advertensies  |  Internet  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.