Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
1,55 miljard mense nou op Facebook

As jy vanoggend op Facebook aanmeld, dink bietjie daaraan dat jy een van nagenoeg 1 100 000 000 mense (oftewel 1,1 miljard) wêreldwyd is.

Dít is die getal mense – ’n sewende van die wêreldbevolking – wat deesdae élke dag op dié sosiale netwerk aanmeld.

Facebook het nou 1,1 miljard gebruikers wat elke dag aanmeld. Foto: Bloomberg

Mense wat minstens een keer per maand aanmeld, het met 14% tot 1,55 miljard gestyg vergeleke met dieselfde kwartaal van 2014.

Dit laat Twitter se 320 miljoen aktiewe maandelikse gebruikers na kleingeld lyk, of hoe?

Facebook het ook meer as 900 miljoen gebruikers op WhatsApp, 700 miljoen op Messenger en 400 miljoen op Instagram. WhatsApp en Messenger bring nog nie veel inkomste in nie.

Facebook het Woensdagaand laat sy resultate vir die derde kwartaal bekend gemaak en kan benewens sy getal gebruikers ook spog dat hy $4,5 miljard uit advertensieverkope verdien het. Die netwerk het nou 2,5 miljoen adverteerders.

Mobiele advertensies is ’n al hoe groter persentasie van dié inkomste – 78% vergeleke met 66% ’n jaar gelede.

Volgens EMarketer gaan Facebook vanjaar 17,4% van alle mobiele advertensies wêreldwyd lok. Google bly die grootste, met ’n 2014-markaandeel van 33,7%.

Facebook het ook die afgelope kwartaal vir die eerste keer advertensies op sy fotodiens Instagram moontlik gemaak, en al hoe meer adverteerders plaas video’s op Facebook self.

Dit het gehelp dat die inkomste wat Facebook per gebruiker verdien, met 24% tot $2,97 gestyg het. Die grootste inkomste per gebruikers - $10,49 – is in die VSA en Kanada, vergeleke met net $1,39 per gebruiker in Asië.

Inkomste per gebruiker

Facebook verdien gemiddeld wêreldwyd $2,97 per gebruiker.

In die VSA en Kanada is die gemiddelde inkomste per gebruiker egter $10,49, terwyl dit net $1,39 per gebruiker in Asië.

Die maatskappy se wins het met meer as 11% tot $896 miljoen of 31c per aandeel gestyg. Die wesensverdienste (wat eenmalige items uitsluit) was 57c per aandeel.

Sy uitgawes het egter ses keer vinniger – met 68% - gestyg soos wat Facebook bestee aan alles van kunsmatige intelligensie tot die voorsiening van gratis internet aan ontluikende lande in veral Afrika en Asië.

Die resultate is ná die sluiting van die Nasdaq in New York uitgereik, maar in na-uurse verhandeling het die aandeelprys met 1,3% tot $103,94 gestyg. Facebook se aandeelprys het vanjaar al met 33% gestyg.

Mark Zuckerberg en David Wehner, Facebook se finansiële hoof, sê hulle gaan voort om in wetenskapsprojekte soos skynwerklikheid en kunsmatige intelligensie te belê “om op die toekoms voor te berei”, maar verwag dat dit stadig sal groei.

Die eerste Oculus-kopstuk vir virtuele werklikheid is in die kwartaal bekend gestel en Aquila, die eerste onbemande vliegtuig wat internetverbinding moontlik maak, is voltooi.

Facebook het nou 12 000 werknemers nadat 1 000 mense die afgelope kwartaal aangestel is.

Presidentsverkiesing
Sheryl Sandberg, bedryfshoof, sê elke lid van die Amerikaanse kongres het nou ’n Facebook-rekening, en hulle verwag dat dié netwerk ’n belangrike rol in die 2016-presidentsverkiesing sal speel.

Facebook lok ’n groot persentasie advertensies in China. Hoewel die sosiale netwerk in dié land verbied word, wil Chinese maatskappye gerbruikers in die res van die wêreld deur Facebook bereik. Zuckerberg sê hy is vasbeslote om China uiteindelik ook te betree.

Bronne: Bloomberg, The Wall Street Journal, Mark Zuckerberg se Facebook-blad

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.