Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
24 m. SA verbruikers se ID-, foonnommers uitgelek

24 miljoen Suid-Afrikaners se persoonlike inligting is op die lappe nadat ’n enorme aanslag op een van die land se grootste kredietburo’s geslaag het.

Die hoofkantoor van drie van die vier grootste banke in die land in Kaapstad. Foto: Reuters

Inligting wat banke benodig om kliënte te identifiseer – soos ID-nommers, selfoonnommers en adresse – tel onder die inligting wat ’n individu by die kredietburo Experian gesteel het.

Alle Suid-Afrikaners met ’n kredietgeskiedenis – dus enige lening, selfoonrekening of winkelkaart – word by kredietburo’s gelys. Experian is een van die grootstes in die land en word dus deur die meeste kredietverskaffers gebruik.

Banke was Woensdagaand in rep en roer om hul kliënte te probeer paai oor die moontlikheid dat hul bankbesonderhede ingesluit is in die inligting wat Woensdag uitgelek het.

Die Suid-Afrikaanse Bankrisikosentrum (Sabric) sê in ’n verklaring verbruikers hoef nie regstreeks oor hul bankrekening besorg te wees nie. Die aanval is ernstig, maar regstreekse bankbesonderhede en wagwoorde is nie onder die data wat deur die oortreder bekom is nie.

Die inligting wat wel bekom is, is kan egter gebruik word om kliënte na te boots, aangesien dit alles oor hul persoonlike identiteit bevat.

Sabric waarsku dit beteken bedrieërs kan moontlik toegang tot bankbesonderhede bekom deur banke te kontak en hulself as die kliënte voor te doen.

Bykans die helfte van die land se bevolking is geraak deur die lekkasie.

Sabric sê banke is besig om hul kliënte te kontak om hulle in kennis te stel indien hulle inligting uitgelek is.

Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) sê saam met Sabric dat verbruikers waaksaam moet wees indien hulle geraak is deur die lekkasie.

“Dink aan jou identiteitsinligting op dieselfde manier as wat jy aan kontant dink,” sê Manie van Schalkwyk, uitvoerende hoof van die SAFPS.

“Hou dit ten alle tye veilig en sekuur, want as dit eers gekompromitteer is, kan dit deur enigiemand gebruik word om hulself voor te doen as jy.”

FNB sê in ’n verklaring hy is bewus van die lekkasie en doen alles in sy vermoë om kliënte se kuberveiligheid te verseker. Kliënte van FNB word aangeraai om die voorgestelde sekuriteitsmaatreëls na te gaan op die FNB-app.

African Bank het ook kennis geneem van die lekkasie.

“Die lekkasie van persoonlike inligting beïnvloed ons kredietkliënte, want ons moet volgens wetgewing alle besonderhede van kliënte wat krediet by ons het, aan drie kredietburo’s bekend maak, waarvan Experian een is,” het Piet Swanepoel, risikohoof van African Bank, in ’n verklaring gesê.

Standard Bank het kliënte in ’n SMS in kennis gestel dat hy regstreeks sal kommunikeer met individue wat geraak word.

Sabric sê 793 749 ondernemings is ook geraak deur die lek.

Die SAFPS raai verbruikers aan wat ingelig word dat hulle wel geraak is deur die lekkasie, om van sy dienste gebruik te maak. Hy kan banke en ander kredietverskaffers inlig om meer sorg aan die dag te lê wanneer hulle probeer om jou digitaal of telefonies te identifiseer.

Individue wat belangstel in die diens, kan die SAFPS kontak vir sy sogenaamde Protective Registration deur ’n e-pos aan protection@safps.org.za te stuur.

In ’n vorige weergawe van die berig is na ’n kuberaanval verwys. Experian het sedertdien bekend gemaak dit was nié ’n kuberaanval nie, maar dat die inligting wederregtelik bekom is. 

LEES OOK: Diefstal van 24 m. se data: Experian weet wie skelm is

Meer oor:  Fnb  |  Experian  |  African Bank  |  Standard Bank  |  Kuberkrakers  |  Kredietburo  |  Tegnologie  |  Persoonlike Inligting  |  Kuberaanval  |  Banke  |  Krediet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.