Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
3 nuwe, beter – en vir ’n slag goedkoper – iPhones

Apple se nuwe iPhones is hier.

Die iPhone 11 Pro spog met die mees gevorderde kamerastelsel tot dusver in ’n slimfoon in 2019. Hy is in vier kleure beskikbaar vanaf 27 September in Suid-Afrika. Foto: Apple

Benewens ’n monumentale verbetering in sy (nou) talle kameras, het Apple uiteindelik agtergekom dat hy dalk weer meer fone kan verkoop as hulle goedkoper is.

Die drie modelle wat Apple Dinsdag bekend gestel het is, in volgorde van goedkoopste tot duurste: die iPhone 11, iPhone 11 Pro en die iPhone 11 Pro Max.

Dié slimfone breek weg van verlede jaar se modelle, ook wat name betref. Waar Apple in 2018 sy beste fone as “die nuwe iPhone” bemark het en dan ’n ander naam-formaat benut het vir die goedkoper weergawe, het die maatskappy dié benadering nou op sy kop gedraai.

Nou is daar eerder die iPhone 11 as die goedkoopste weergawe, met spesiale name vir die duurder modelle.

So wat kos die goed?

Die iPhone 11 het bykans presies dieselfde binnegoed as sy duurder boeties, maar is kleiner en het minder kameras. In die VSA sal sy prys begin by $699. In 2018 het die iPhone XR, wat sy goedkoper en beperkte voorganger was, aanvanklik vir $749 verkoop.

Nou kry jy ’n “volle” iPhone vir nog minder, soos Apple dalende verkope van sy brood-en-botter-produk probeer teenstaan.

Só lyk die pryse van vanjaar se groter iPhones:

  • iPhone 11 Pro: Vanaf $999
  • iPhone 11 Pro Max: Vanaf $1 099

Maar die goeie nuus oor pryspunte hou nie daar op nie.

Die iStore in Suid-Afrika sal ook vir die eerste keer verbruikers toelaat om hul ouer iPhones in te ruil om die prys van hul nuwe model nog verder af te bring.

Die iPhone 11 is die nuwe basis-model van Apple se iPhone-reeks. Hy beskik oor meeste van dieselfde hardeware as sy groter broers, die iPhone 11 Pro en 11 Pro Max, maar verwyder onnodige toerusting om sy pryspunt beduidend te verlaag. Maar die slimfoon is beslis nie ’n goedkoper of eenvoudiger iPhone nie. Foto: Apple

Op die Vodacom-kontrakte wat by die iStore beskikbaar is, kan die waarde van ’n ingeruilde iPhone jou kontrak-betalings met tot R330 per maand verminder, berig MyBroadband.

Suid-Afrikaners sal enige iPhone vanaf die iPhone 7 tot verlede jaar se iPhone X-reeks vir die afslag kan inruil, na gelang van die toestand van die toestel.

As die nuwe iPhones steeds buite jou prysklas is, moenie huil nie. Apple het ook die pryse van sy ouer iPhones met die grootste hoeveelheid tot dusver gesny:

  • iPhone XR (2018): $599 (was $749)
  • iPhone 8 (2017): $449 (was in 2018 $699)

Die nuutste iPhones sal vanaf 27 September in Suid-Afrika beskikbaar wees, slegs ’n week nadat verkope in die VSA begin.

Wat is nuut?

Só lyk die hooftrekke van elk van die nuwe slimfone se funksies:

  • iPhone 11: Dié iPhone van 6,1 duim spog met ’n dubbele hoofkamera agter met ’n vergrote lens en sensor wat die kroon vir beste kameras van Samsung se 2019-vlagskepe verhaal. Die iPhone 11 het ook nou ’n IP68-waterdigtheidsgradering wat hom dompelbaar maak. Apple het ook dié kleinste iPhone se battery verbeter, wat nou ’n uur langer as sy voorganger, die iPhone XR, sal hou. Benewens die een minder kamera, is die iPhone 11 goedkoper danksy sy vereenvoudigde, gewone LCD-skerm wat beeld van ’n effens laer gehalte as sy groot broers se OLED-skerms verskaf. Hy kom in drie geheueformate: 64 gigagrepe (GB), 128 GB of 256 GB.
  • iPhone 11 Pro: Die Pro-weergawe van die iPhone 11 het ’n ietwat kleiner skerm van 5,8 duim, maar met baie hoër beeldgehalte vanweë die OLED-tegnologie wat hiervoor gebruik word. Waar die groot verskil inkom, is in die kameras: die Pro het drie enorme kameras agterop die toestel wat met sowel telefoto- as wyehoeklense spog. Hy het ook die waterdigtheid van die basismodel, maar sy battery verskaf vier ure meer krag as sy voorganger, die iPhone XS. Hy kom in drie geheueformate: 64 GB, 256 GB of 512 GB.
  • iPhone 11 Pro Max: Die grootboet-iPhone van 2019 het ’n enorme 6,5 duim- OLED-skerm. Dié verskil in grootte is die hoofverskil tussen die twee Pro-modelle, maar stel hom ook in staat om onder meer sy batterylewe te verbeter. Die Pro Max spog met vyf ure meer krag as sy voorganger, die iPhone XS Max van 2018. Hy kom in drie geheueformate: 64 GB, 256 GB of 512 GB.
Meer oor:  Apple  |  Selfone  |  Iphone 11 Pro Max  |  Iphone 11
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.