Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
5 mites oor Covid-19-app
Die regering moedig almal aan om die Covid Alert SA-app te gebruik. Foto: Unsplash

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand opnuut gevra Suid-Afrikaners moet die departement van gesondheid se Covid-19-app installeer.

Die app, Covid Alert SA, kan help om nuwe infeksies te bespeur deur gebruikers in te lig sou hulle in kontak gekom het met iemand wat onlangs positief vir die koronavirus getoets is.

“Nasporing is ’n belangrike voorkomingsmaatreël om jouself en jou familie en vriende te beskerm,” het Ramaphosa gesê tydens sy aankondiging dat Suid-Afrika eersdaags na vlak 1 van die inperking beweeg.

Besoekers aan Suid-Afrika sal die Covid-19-app moet installeer as hulle in die land aankom, het Ramaphosa gesê.

Verskeie mites en onwaarhede oor die app word op sosiale media en WhatsApp-groepies versprei. Hier is die vyf vernaamstes:

1. Die regering en diensverskaffers monitor reeds my bewegings

Daar is ’n gerug dat die regering reeds almal se bewegings dophou, of jy nou die Covid-19-app geïnstalleer het, of nie.

Dit is nie waar nie.

Jou diensverskaffer kan wel jou ligging monitor volgens die selfoontorings waaraan jou toestel verbind, maar hulle is nie aktief besig om dit te doen nie.

Sulke inligting oor wanneer jy waar was, kom normaalweg net ter sprake in strafregtelike sake waartydens die inligting met ’n hofbevel bekom word. Andersins mag diensverskaffers dit aan niemand verklap nie.

Gewilde apps soos Google Maps, Waze, Uber en Airbnb gebruik en monitor gebruikers se ligging en bewegings, maar eers nadat toestemming verleen is.

Dié inligting word wel nie met die regering gedeel nie.

2. Die app benodig my persoonlike inligting en ligging om te werk

Hoewel die Covid-19-app gebruik word om moontlike infeksies na te spoor, benodig dit nie jou foon se ligging nie.

Die app werk dus sonder om te weet waar jy is.

Trouens, dit werk sonder om eens te weet wie jy is. Geen persoonlike inligting soos jou naam, adres of telefoonnommer word benodig nie.

Die app vra ook nie jou kredietkaartbesonderhede, bloedgroep of die naam van ’n familielid nie.

Die enigste vereistes is dat jy jou foon se Bluetooth aangeskakel hou en dat jy die app toestemming gee om kennisgewings aan jou te stuur.

Jy gee ook toestemming dat Google en Apple se onderliggende “exposure notification system” geaktiveer word.

Dit is die onderliggende tegnologie ingebou in jou foon se bedryfstelsel wat die nasporingsapp laat werk.

Dié tegnologie is nie outomaties geaktiveer nie en benodig jou toestemming om te kan werk.

3. Android-gebruikers se bewegings word dopgehou, maar nie iPhone-gebruikers s’n nie

Nog ’n gerug is dat weens die aard van die Android-bedryfstelsel gebruikers van die Covid-19-app met ’n Android-foon se bewegings gemonitor word, maar nie diegene met ’n iPhone nie.

Dit is onwaar.

Kort nadat die Covid-19-app aan die begin van September uitgereik is, moes Android-gebruikers dit toegang gee tot die toestel se ligging kort ná installasie.

Dit was nodig om die “exposure notification system” te aktiveer, sowel as die Bluetooth.

Google het intussen dié noodsaaklikheid verwyder, wat beteken enigeen wat nou die app op ’n Android-foon installeer, sal nie gevra word om toestemming te gee dat die app sy ligging gebruik nie.

Selfs al is toestemming vroeër verleen, sal die app steeds nie jou ligging gebruik of monitor nie, want dit het dit nie nodig nie.

4. Ander mense gaan weet ek is siek

Die app stuur anonieme kodes tussen gebruikers deur middel van Bluetooth.

Vir Bluetooth om behoorlik te funksioneer moet die mense 10 m of minder van mekaar af wees.

Fone stoor die anonieme data wat hulle vanaf die ander fone ontvang het.

Sou iemand positief toets vir die virus en daartoe instem, sal die app ander gebruikers daaroor inlig as hulle in die laaste twee weke in kontak was met die siek persoon.

Geen identifiseerbare inligting word tussen gebruikers gedeel nie.

Gestel Sarie en Lana eet toevallig dieselfde tyd aandete by ’n restaurant. Hulle ken mekaar nie. Hulle het by tafels langs mekaar geëet. Albei het die Covid-19-app op hul fone geïnstalleer. Hul toestelle het – op die agtergrond en sonder dat hulle daarvan bewus is – anonieme kodes via Bluetooth uitgeruil.

Drie dae later vind Sarie uit sy het Covid-19. Haar diagnose word deur die departement van gesondheid bevestig.

Sarie neem die vrywillige keuse om haar diagnose op die Covid-19-app te deel.

Alle gebruikers van die app wat in die laaste twee weke die anonieme kode van Sarie se foon ontvang het, sal dan ’n kennisgewing ontvang wat sê hulle is moontlik aan die virus blootgestel.

In dié scenario sal Lana se app haar dus inlig sy was in nabye kontak met iemand wat positief getoets is.

Die kennisgewing word as ’n “possible exposure” aangedui en bevat geen inligting wat Sarie se identiteit aan Lana kan verklap nie.

Lana sal dus nooit weet dit is Sarie wat siek is nie. En Sarie sal nooit weet dit was Lana wat daardie dag naby aan haar gesit het nie.

Al inligting wat Lana sal ontvang, is die datum waarop die moontlike blootstelling was en watter stappe sy kan doen.

Lana sal ook nie weet waar die moontlike blootstelling was nie, want die app versamel nie inligting rondom gebruikers se ligging nie.

5. Jy kan in die moeilikheid beland as jy nie die app aflaai of gebruik nie

Die gebruik van die Covid-19-app is op ’n vrywillige grondslag, hoewel die regering dit aanmoedig.

Besoekers aan Suid-Afrika sal wel gevra word om dit te installeer as hulle die land wil binnekom.

Niemand sal egter gedwing word om ’n positiewe diagnose daarop aan te meld nie.

Jy hoef ook geen van die voorgestelde stappe te doen sou jy ’n kennisgewing ontvang van ’n moontlike blootstelling aan die virus nie.

Jou moontlike blootstelling aan die virus bly jou geheim en jy kan kies of jy daarna wil self-isoleer of nie.

Vir nog inligting, besoek die departement van gesondheid se webtuiste met meer besonderhede oor die app. 

Meer oor:  Google  |  Apple  |  App  |  Privaatheid  |  Covid-19  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.