Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
5 tegnologie-wonders op CES 2019

Die jaarlikse vier dae lange CES-tegnologieskou in Las Vegas, Amerika, is ’n toonvenster vir baanbrekende tegnologie waar jy van die lafste tot die mees praktiese uitvindsels kan sien.

hyundai, CES
Uber beoog om ‘n vloot vlieënde karre te ontplooi in die 2020’s om toenemende verkeersknope in die wêreld se grootste stede teen te werk. Foto: Verskaf

Halfpad deur vanjaar se skou is daar al klaar ’n paar dinge wat jou ouma en oupa se oë – en sommer joune ook – sal laat rek.

Ons kyk na vyf hiervan:

LG se ‘oprol’-TV

Die LG Signature OLED TV R is ’n 65 duim- 4K-televisie met HDR wat kan oprol.

Die LG Signature OLED TV R benut buigbare skerm-tegnologie om te kan oprol binne 'n klein voetstuk. Foto: LG

The Verge berig die Suid-Koreaanse tegnologie-reus het op CES 2018 ’n prototipe hiervan bekend gestel en het op vanjaar se skou die finale produk gewys. Dit sal van die tweede kwartaal van 2019 beskikbaar wees.

TV-vervaardigers besef die enorme televisies wat gebruik word vir die hedendaagse hoë-kwaliteit-inhoud is ’n oogseer in mense se leefruimte. LG se TV rol heeltemal op in sy voetstuk danksy sy buigbare-skerm-tegnologie wanneer dit nie in gebruik is nie.

Hyundai se kar wat ‘stap’

Die wiel word dikwels beskryf as die belangrikste ontdekking in die mens se geskiedenis, maar dit het ook sy beperkinge . . .

Die Hyundai konsep-kar kan ook gebruik word vir alledaagse toepassings buiten sy beoogde fokus op noodgevalle en rampe. Foto: Hyundai

Hyundai se konsep-voertuig met “bene” oorkom hierdie beperking op terreine wat nie vir wiele geskik is nie.

Die Elevate kan wel ry, maar sy wiele sit aan die punt van lang bene waarmee hy oor struikelblokke kan klim. Hyundai sê dit is die ideale ontwerp vir veral noodgevalle.

“Ná ’n tsoenami of aardbewing kan reddingsvoertuie noodpersoneel net tot op die rand van die rampgebied bring. Daarvandaan moet hulle voetslaan,” het John Soeh, Hyundai se visepresident, aan die BBC gesê.

“Elevate ry na die ramptoneel en kan dan deur vloedwater of oor betonblokke klim.”

Volgens Hyundai kan die Elevate ook mense in rolstoele by hul voordeur optel as daar slegs trappe vir toegang beskikbaar is.

Die mode-adviserende spieël wat jou digitaal aantrek

LG se jongste slim-spieël haal die raai uit klere wat jy aanlyn bestel.

Techradar berig dat die spieël is toegerus met gevorderde skanderingtegnologie wat jou afmetings akkuraat neem sonder dat jy ’n vinger hoef te lig.

Dit “trek jou dan aan” sodat jy kan sien hoe jy in ’n spesifieke uitrusting sal lyk.

Whirlpool se oond met aangevulde werklikheid

Die Connected Hub Wall Oven is ’n slim-oond met ’n glasvenster wat eintlik ’n deurskynende LCD-skerm is.

Die skerm word geïntegreer met die hele gesin se dagboeke en bepaal hoeveel tyd daar vir aandete is. Dit stel dan ’n resep voor wat in dié tydgleuf gereed sal wees.

Jy lees die resep sommer so van die skerm af. As jy twee geregte maak wat jy tegelyke tyd op die tafel wil hê, koördineer die oond die voorbereidings- en baktye sodat jy net die instruksies hoef te volg.

Daar is selfs ’n kamera in die oond sodat jy presies kan sien hoe jou gereg vorder sonder dat jy die oonddeur oop hoef te maak.

Jou Uber-rit sal binne vyf jaar kan vlieg

Uber het in 2016 gesê sy meesterplan is om in die 2020’s ’n hele netwerk van “lug-taxis” tussen stede te skep. Bell is nou die hoofvennoot van Uber om dié plan te realiseer.

Uber beoog om ‘n vloot vlieënde karre te ontplooi in die 2020’s om toenemende verkeersknope in die wêreld se grootste stede teen te werk. Foto: Verskaf

Die Bell Nexus is die werkende konsep wat die voormalige vervaardiger van militêre vertikale-opstyg-en-land- (VTOL) lugvaartuie vir Uber bou.

Die lugtaxi het vier hibried-elektriese-skroefturbines wat kan draai sodat die lugvaartuig vertikaal kan opstyg en land van die dakke van geboue af, en dan soos ’n vliegtuig teen hoë spoed deur die lug kan vlieg wanneer die skroefturbines vorentoe draai.

Meer oor:  Uber  |  Hyundai  |  Lg  |  Tegnologiemaatskappye  |  Ces
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.