Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
5 wenke om jou ou, moeë selfoon te verfris
Is jou foon oud en ietwat afgemat? Moenie bekommerd wees nie! Daar is maniere om dit weer te verfris. Foto: Getty Images

Is jy steeds verknog aan jou getroue ou iPhone of Samsung wat jy bykans ’n dekade gelede aangeskaf het? Sien jy geen werklike rede om ’n nuwe foon ten duurste aan te skaf nie, maar in jou agterkop is daar tog iets wat pla: jou geliefde foon is besig om sy fut te verloor.

Daar is konstant geen beskikbare bergplek; apps vat vir ewig om oop te maak en elke dan en wan sny die foon net heeltemal uit.

Gelukkig is daar ’n paar maklike stappe wat elke Jan Rap en sy maat sal kan doen om ’n ou, moeë foon weer bietjie te verfris.

  

1. Vee onnodige apps uit

  

Een van die maklikste stappe om jou ouer slimfoon te verfris, is deur onnodige apps uit te wis.

Jy mag dalk verknog voel aan die BBC se nuusapp of die apps vir elkeen van Google se vele dienste, maar het jy dit werklik op ’n gereelde grondslag nodig?

Dit is dalk tyd om deur jou lys van geïnstalleerde apps te gaan en wild en wakker onnodige apps uit te vee.

Ja, dit is handig om toegang tot LinkedIn op jou foon te hê, maar hoe gereeld gebruik jy dit werklik?

Stuur jy net boodskappe op Facebook vanaf jou rekenaar? Waarom het jy dan nog die Messenger-app nodig?

Onthou ook dat enige app wat jy nou uitvee, steeds in Google en Apple se app-winkels beskikbaar sal wees. Jy kan dit altyd weer gaan aflaai as jy dit skielik nodig het.

Die maklikste manier om ’n onnodige app uit te vee, is deur eenvoudig jou vinger op die app se ikoon te hou totdat ’n opsielys verskyn. Kies daar om dit te deïnstalleer.

  

Groepeer soortgelyke apps saam. Foto: Unsplash
2. Groepeer jou apps

     

Nadat jy van al jou onnodige apps ontslae geraak het, is dit tyd om jou foon se linnekas as’t ware reg te pak.

Let mooi na watter apps tans op jou foon se tuisskerm verskyn. Jou foon sal reeds beduidend “skoner” voel as jy nie al wat ’n app is op sy tuisskerm probeer indruk nie; dis waarvoor die “menu”-opsie daar is.

Beperk dus die apps op jou tuisskerm tot net dies wat jy regtig gereeld gebruik, soos jou kamera, WhatsApp en jou e-posbediener.

Die res kan jy soos nodig gaan haal.

  

3. Verander die uitleg van jou foon

    

Huawei en Samsung vervaardig hul eie bedryfstelsel wat bo-op die Android-bedryfstelsel werk. Dit beteken dat die uitleg van jou foon grootliks deur dié bedryfstelsels gedikteer word.

Daar bestaan apps, bekend as “launchers” wat jou foon se uitleg kan aanpas en waarskynlik jou lewe terselfdertyd verbeter.

My gunsteling is Evie, ’n gratis “launcher” wat eerstens silwerskoon is (met ander woorde géén advertensies) en al jou apps alfabeties sorteer en jou tuisskerm al te pragtig laat lyk.

Ander opsies is Microsoft s’n (wat ander, lekker funksies het soos ’n ingeboude weervoorspeller) of selfs Google s’n.

LEES OOK: 5 'geheime' funksies van Microsoft Office

Die keuse van “launcher” bly maar om’t ewe, maar laai gerus een af sodat jou foon minder deurmekaar en bedremmeld lyk.

  

Facebook icon.
Wis apps uit wat jy nooit gebruik nie. Foto: Getty Images
4. Stuur jou foto’s wolk toe

     

As jou foon die heeltyd kla daar is te min bergplek, stuur gerus jou foto’s na die wolk en wis die weergawes op die foon uit.

Google se Photos-app is gratis en bied onbeperkte bergplek in die wolk. Dit kopieer boonop outomaties jou foto’s na jou Google-rekening en bied ook aan om die weergawes in jou foon se geheue uit te vee.

Jy kan só etlike gigagrepe bergplek bekom, wat nie net jou foon sal vinniger maak nie, maar ook plek laat vir ander apps of speletjies waarvoor jy nooit plek gehad het nie.

Let wel daarop dat Google Photos ’n sterk internetverbinding benodig om enersyds foto’s na die wolk te stuur en andersyds weer die foto’s af te laai as jy dit vir ’n vriend of familielid wil wys.

Jy kan wel maklik vanuit die app ’n foto regstreeks na iemand stuur sonder dat jy dit hoef af te laai.

  

5. Kies eerder die ligter weergawes van jou gunsteling-apps

     

Gewilde apps soos Facebook, Twitter en YouTube het almal “ligter” weergawes wat minder van jou foon se hulpbronne benodig om te funksioneer.

Facebook se hoofapp neem byvoorbeeld ongelooflik baie bergplek in beslag en maak toestelle merkbaar stadiger. As jy nie kan leef sonder toegang tot dié sosiale netwerk op jou foon nie, vervang die Facebook-app met Facebook Lite wat presies dieselfde funksies bied, hoewel vereenvoudig.

Jy kan selfs boodskappe met Messenger stuur sonder om dié app afsonderlik af te laai.

LEES OOK: Ken jy dié 5 'geheime' funksies van Google Maps?

Twitter, Google Maps en Skype het soortgelyke “ligter” weergawes.

Let wel dié ligter weergawes van gewilde apps is net op Android beskikbaar, nie enige Apple-toestel.

Meer oor:  Samsung  |  Apple  |  Wenke  |  Tegnologie  |  Selfoon  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.