Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
5G is hier! Maar net in dié stede
Inwoners van Pretoria en Johannesburg kan nou aan rain se 5G-netwerk verbind. Foto: Unsplash

Suid-Afrika se eerste kommersiële 5G-netwerk is aktief, maar net in sekere dele van Pretoria en Johannesburg.

Sogenaamde vyfdegenerasie- (5G) tegnologie bied ’n internetspoed wat tot 100 keer vinniger as bestaande 4G-tegnologie is.

Rain, Suid-Afrika se jongste selfoonnetwerk wat uitsluitlik op data fokus, het Woensdag aangekondig dat sy 5G-netwerk aktief is en dat inwoners van Johannesburg en Pretoria hulle daarby kan aansluit. Jy moet egter ’n 5G-toestel ook hê. Dit sluit sekere nuwe slimfone in.

In “ideale” toestande bied Rain se 5G-verbinding ’n internetspoed van 700 megabis per sekonde, hoewel gebruikers ’n gemiddelde spoed van 200 megabis per sekonde kan verwag.

Rain bied onbeperkte internettoegang op sy 5G-netwerk teen R1 000 per maand.

Al wat gebruikers nodig het, is ’n spesiale herleier wat die diensverskaffer sal kom installeer waarna verskeie toestelle daaraan aan die internet kan verbind.

Hoewel Rain sy 5G-netwerk geaktiveer het, beteken dit nie dat dié ontluikende tegnologie gou landwyd beskikbaar gaan wees nie.

Om 5G-verbindings te bewerkstellig benodig selfoonnetwerke eerstens heelparty meer selfoontorings wat naby mekaar geleë is, sowel as meer beskikbare radiofrekwensiespektrum.

Rain het sy 5G-netwerk op sy bestaande 4G-infrastruktuur geïmplementeer en maak ook van dieselfde spektrumband vir albei tipe verbindings gebruik.

Volgens Rain is dié stap gedoen om koste te bespaar en toegang tot die 5G-netwerk meer bekostigbaar vir die verbruiker te maak.

Suid-Afrika het wel ’n voortdurende tekort aan bykomende hoëfrekwensiespektrum – ’n broodnodige komponent om 5G-verbindings aan die massas beskikbaar te stel.

Meer spektrum sal ook die koste van data op bestaande netwerke verlaag, sê diensverskaffers.

Die kabinet het in Julie ’n beleidsrigtingwyser oor die lisensiëring van bykomende spektrum goedgekeur.

Die inhoud van die beleidsrigtingwyser is nog onbekend en word tans deur Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, hersien voordat dit aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) oorhandig word om te implementeer.

In ’n verklaring sê Rain hy beskou 5G as noodsaaklik vir die toekoms aangesien dit die mag het om etlike miljoene toestelle aan blitsvinnige internet te verbind.

Die diensverskaffer hoop om sy 5G-aanbod aanstaande jaar na ander groot metro’s, waaronder Kaapstad, uit te brei.

Meer oor:  Rain  |  Internet  |  Slimfone  |  5G
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.