Bill Gates.
Bill Gates het in November $1,5 miljard se
aandele in Microsoft aan die Gates Foundation Asset Trust geskenk, die entiteit
wat sy stigting se skenkings bestuur.
Die wêreld se rykste mens het 31 miljoen
aandele in Microsoft geskenk.
Die oordrag het Gates se belang in die
maatskappy waarvan hy medestigter is, verminder na 3%.
Volgens Bloomberg se miljardêrsindeks word Gates se rykdom op sowat $82,9 miljard geskat.
Gavi (die alliansie vir entstowwe), die wêreld
se grootste finansier van entstowwe vir ontwikkelende lande, het op 27
Januarie gesê hy het $7,5 miljard in nuwe skenkings ontvang, insluitend $1,55
miljard van die Bill & Melinda Gates Foundation.
Die skenking aan Gavi hou nie verband met die skenking
van die aandele nie, sê Wendy Walker, ’n woordvoerder van die Gates Foundation.
Gates behartig al sy filantropie
deur die organisasie en dit werk onder meer aan die stryd teen polio, MIV/vigs, tuberkulose en malaria.
Die Bill & Melinda Gates Foundation het
teen einde September bates van $42,3 miljard gehad en $31,6 miljard in
skenkings al versprei, volgens sy webwerf.
- Bloomberg