Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Stel jou testament vir sosiale media op
Facebook, selfs al is jy dood
’n Werknemer van Facebook stap verby die sosiale netwerk se logo by die maatskappy se hoofkantoor in Menlo Park, Kalifornië. Facebook gee gebruikers nou meer opsies oor hul rekeninge vir as hulle doodgaan. Foto: AP Photo, Jeff Chiu

Facebook maak dit nou vir mense makliker om hul lewe aanlyn te beplan vir ná hul dood.

Die wêreld se grootste sosiale netwerk het Donderdag gesê gebruikers kan nou iemand kies om hul Facebook-rekening te bestuur nadat hulle doodgaan.

Voorheen is rekeninge in ’n status van “herdenking” geplaas of gesluit sodat niemand toegang kon kry nie.

Volgens Facebook wil sy gebruikers egter ’n groter keuse hê. Daarom kan gebruikers, vir eers net in Amerika, ’n “nalatenskap kontak” kies om hul Facebook-blad op te dateer nadat hulle dood is, nuwe vriende te aanvaar en foto’s op te laai.

Gebruikers kan ook na hulle dood die rekening laat verwyder, wat nie voorheen moontlik was nie.

Die persoon wat jy kies om jou rekening te bestuur, sal eers in kennis gestel word van jou keuse ná jou dood, maar die gebruiker kan hulle wel self vroeër in kennis stel. Facebook sê hy sal ook elke jaar mense herinner wie hulle gekies het vir die rol, sodat mens dit kan verander indien nodig.

Die gebruiker sal onder meer jou foto’s kan aflaai, maar geen boodskappe kan sien nie.

Om toegang te kry, sal die benoemde gebruiker sy of haar eie Facebook-besonderhede moet gebruik – gebruikers sal nie nadoods as jy kan inteken nie.

Facebook-rekeninge word in herdenking geplaas op versoek van familielede of vriende, maar daar moet bewys word die persoon is wel dood, soos met ’n doodsertifikaat.

Die sosiale netwerk probeer ook dat die rekeninge van gebruikers wat dood is, nie as “voorgestelde vriend” of op ander maniere verskyn wat mense kan ontstel nie.

Facebook het sowat 1,4 miljard gebruikers, maar wil nie sê hoeveel rekeninge al in herdenking geplaas is nie.

- Sapa-AP

Wat Google, Twitter doen

Ander internetmaatskappye bied ook maniere om rekeninge te bestuur na iemand dood is.

Google laat jou toe om ’n funksie genaamd “inactive account manager” te kies om data ná 3, 6 of 12 maande sonder aktiwiteit op die rekening te verwyder.

Jy kan ook iemand kies om jou data te ontvang. Dit sluit nie slegs e-posse in nie, maar ander Google-dienste soos Google Plus en YouTube.

Twitter verwyder ook rekeninge ná iemand se dood indien hulle deur familielede of gemagtigde persone gekontak word en wat die afsterwe kan bevestig.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.