Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Slimhorlosies bring omwenteling in bemarking
Met ’n skerm wat piepklein is en net plek het vir een boodskap op ’n slag, vereis drabare tegnologie kort maar kragtige boodskappe soos nog nooit voorheen gebruik is nie.
Juanita Vorster van die skakelmaatskappy At that Point.

As maatskappye dink hul bemarking gaan nie geraak word deur die Apple Watch nie, wag ’n verrassing op hulle.

Die impak van drabare tegnologie is veel groter as mode en digitale ontwerp, sê Juanita Vorster, eienaar van die skakelmaatskappy At that Point.

Selfs al is slimhorlosies nie so gewild soos wat voorspel word nie, “sal die nuwe neiging soos ’n warrelwind deur bemarkingskantore wêreldwyd trek”.

Sy voorspel dat die tegnologie ’n groot verandering sal veroorsaak in die wyse waarop mense inligting inneem.

Navorsers het reeds bewys dat inligtinginname binne ’n betreklik kort tydperk aansienlik verander het.

“Die gewildste (langer) geskrewe stukke word deesdae onder sub-opskrifte ingedeel omdat dit lesers help wat geleer het om kort stukkies inligting blitsvinnig te verwerk.”

Selfs die besluit om ’n lang geskrewe stuk deur te lees, berus op die waarde van die inligting wat die leser in die opskrifte kry, sê sy.

“Daar sal altyd ’n plek vir hierdie formaat wees, want mense het ’n behoefte aan inligting – maar die formate waarin dit aangebied word, verander voortdurend.”

Die Apple Watch, wat verlede week bekend gestel is, gaan 'n impak hê op maatskappye se bemarking. Foto: David Paul Morris, Bloomberg

Inhoudskeppers soos skrywers, joernaliste, kopieskrywers, bemarkers en skakelpraktisyns moes die afgelope jaar groot omwentelinge trotseer.

Dit sluit in:

  • E-pos, waarin die aanslag minder formeel is as in handgeskrewe briewe en wat visueel treffender kommunikasie tot gevolg gehad het.
  • SMS’e, wat spelling en taalgebruik minder belangrik gemaak het en advertensieboodskappe tot 160 karakters laat afneem het.
  • Facebook, Pinterest, Instagram en ander sosiale media, wat maatskappye genoop het om die deurslaggewende rol van sosiale media in kommunikasie te erken.
  • Twitter, wat die hutsteken (#) nuwe lewe gegee het en boodskaplengtes tot ’n bondige 140 karakters verkort het.

Drabare tegnologie, of dit nou ’n slimhorlosie of ’n slimbril is, is die begin van nuwe ontwrigting, sê Vorster.

“Met ’n skerm wat piepklein is en net plek het vir een boodskap op ’n slag, vereis drabare tegnologie kort maar kragtige boodskappe soos nog nooit voorheen gebruik is nie.”

Vir inhoudskeppers, wat ure daaraan bestee om perfekte geskrewe stukke te produseer, is dié omwenteling ’n skrikwekkende vooruitsig, sê Vorster.

“Wat baie kliënte nie besef nie, is dat dit net so lank, indien nie langer nie, neem om ’n stuk inhoud te skep wat gepas is vir die kort formaat van nuwe tegnologie as wat dit neem om ’n langer stuk vir die rekenaarskerm of die gedrukte media te skep,” sê sy.

Vorster raai inhoudskeppers aan om hul vaardigheid te verskerp in formate wat kort boodskappe vereis.

“Hulle sal ook hul kliënte moet onderrig oor die noodsaak om ’n reeks boodskappe vir ’n verskeidenheid formate voor te berei.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.