Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Leefstylreeks
Voetspore: Van een reeks tot sakesukses
Johan Badenhorst van die reisprogram Voetspore. Foto: Mari Blumenthal

Van die Kaap tot Kilimandjaro, van Casablanca tot die Kaap en nou tot in die sakewêreld.

Johan Badenhorst het tydens die vervaardiging van die gewilde reisprogram Voetspore al meer as 200 000 km deur Afrika afgelê en 40 lande op die vasteland besoek. Sy grootste avontuur tot nog toe ontvou egter in ’n winkelsentrum in die ooste van Pretoria.

Die Voetspore-leefstylwinkel en 4x4-monteringsentrum het in April 2013 hier oopgemaak. Op die rakke is alles wat jy op safari kan benodig, van braairoosters, blikbekers en brandblussers tot ’n nuwe bulstaaf vir jou 4x4. In die monteringsentrum kan jy ook jou voertuig volledig toerus vir ’n reis deur Afrika, soos met ekstra water- en petroltenke of spesiale vering.

“Ons wou dit wat mense in die program sien ten volle in die winkel uitbeeld. Dit is ’n leefstyl en daarom is Voetspore ook ’n leefstylwinkel,” sê Badenhorst.

Toe die eerste Voetspore-reeks in 2000 op kykNET uitgesaai is, sou dit ’n enkele reeks wees. Dit was egter so gewild dat Badenhorst en sy span uiteindelik die hele Afrika deurkruis het. Die jongste Voetspore-reis deur Afrika se Groot Skeurvallei sal in Augustus vanjaar uitgesaai word. Johan het met die vyfde reeks eienaarskap van Voetspore oorgeneem en dit het na SABC2 verskuif.

“Ons het met ’n klein aanlyn winkel begin wat net ons DVD’s van die reekse en ’n paar hemde en so verkoop het. Die sukses van dié verkope het my laat besef Voetspore kan dalk regtig as ’n handelsnaam werk.”

Hy sê die reklame van ’n TV-program het beslis gehelp om die onderneming vinniger op dreef te kry, maar dit het nie die proses vereenvoudig nie.

“Ek het aandeelhouers en ons het ’n klomp geld uitgegee om die winkel reg te ontwerp en uit te lê. Ons kon nie bekostig om te verloor wat ons hierin gesteek het nie.”

Hy sê dit was in die eerste paar maande maar stil in die splinternuwe winkel. “Jy maak die plek oop en jy weet nie of iemand gaan kom nie. Aan die begin het ons gesit en wag en niemand het opgedaag nie. Die ouens het in die werkswinkel gesit en niks gehad om te doen nie. Dit was moeilike tye.”

Badenhorst sê Voetspore se uiteindelik sukses het daarop berus om hul kliënte se vertroue ten volle te wen en hulle te oortuig om die produkte by hul vriende aan te beveel. Die grootste deel van Voetspore se omset word in die 4x4-werkswinkel gegenereer en dit is daarom nie altyd so maklik om nuwe kliënte oor te wen nie.

“Dis maklik vir ons om te sê ons het al deur die hele Afrika getoer, maar mense kan vra hoekom beteken dit ek kan julle met my voertuig vertrou?”

Vandag is die werkswinkel amper altyd besig en selfs in Februarie is daar nie ’n tekort aan werk nie. “Werk stroom nie net vanself by die deur in nie. Ons het ’n span verkoopsmense wat sit en bel en die werk gaan haal.”

Badenhorst sê Voetspore konsentreer daarom hard daarop om ’n besonder professionele diens te lewer en ’n atmosfeer te skep waar mense welkom en gemaklik voel.

“Die soort ou wat hier instap, het reeds ’n paar honderdduisend rand vir sy kar betaal. Hy is gewoond aan ’n sekere vlak van diens en om as kliënt op ’n sekere wyse behandel te word.”

Dit sluit dinge soos ’n skoon werkswinkel en ’n koppie moerkoffie in.

“Ons vat eintlik ’n groot kans hier,” skerts hy oor die glasafskorting tussen die winkel en die werkswinkel. “Jy kan hier kom sit en kyk hoe werk ons aan jou kar.”

Voetspore kan ook nie bekostig om swak werk te verrig nie, want die voertuie waaraan hulle werk, moet veilig na afgeleë plekke kan reis.

“As ons ’n fout begaan en jou ekstra petroltenk lek, gaan jy dalk in die middel van nêrens in Botswana sonder petrol gaan staan. Dan gaan jy baie kwaad wees vir my.”

Hy voeg by: “Ons pryse moet mededingend wees. Anders staan mense lekker met ons en gesels oor ons reise en vra watter produk die beste is, maar gaan koop dit eerder by iemand wat minder vra.”

Hy moes ook vinnig ander sakelesse leer, soos hoe om kontantvloei en voorraad te bestuur. “Ek is ’n TV-vervaardiger en ’n joernalis. Ek het niks van hierdie goed af geweet nie. Ons bestuur Voetspore soos enige ander winkel, maar ons het ook geleer dit help nie om net dadelik iets aan iemand te wil verkoop nie.”

Die Voetspore-blad op Facebook het meer as 76 000 volgelinge en Badenhorst sê dit is omdat die blad werklik ’n sosiale netwerk skep, in plaas van net bemarking doen. “Mense wil nie lees oor jou nuwe produkte nie. As iemand egter vir hom ’n nuwe daktent kom opsit en ons deel die foto’s waar hy nou lekker daarmee kamp, is almal gaande daaroor.”

Facebook dien ook as ’n reisdagboek waar aanhangers elke dag die nuwe foto’s kan sien van die Voetspore-span se avonture in Afrika.

Dit is uiteindelik wat Voetspore (die program én die winkel) bied: die kans om jou eie reis en avontuur te kan aandurf.

“Ons reis al vir 15 jaar deur Afrika, maar my mond hang nog elke keer oop vir die dinge wat ons op ons reise sien. Voetspore bly ’n ontdekkingsreis.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.