Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Weghol-reaksie op Tesla se nuwe batterye
Tesla se Powerwall-battery vir tuisgebruik word teen die muur gemonteer en is in verskillende kleure te koop. Hierdie een is in eenvoudige wit. Foto: Ringo HW Chiu, AP

Tesla se reeks van batterye vir huise – bekend as Powerwall – en waarmee Elon Musk, die Suid-Afrikaans gebore uitvoerende hoof van die maatskappy, die sonkragbedryf op sy kop wil keer, is reeds uitverkoop tot die middel van 2016, slegs dae nadat hy dit bekend gestel het.

Lees ook: ​Elon Musk onthul Tesla se ‘muurskildery’

“Die reaksie was oorweldigend. Soos in mal,” het Musk met die aankondiging van die maatskappy se resultate gesê, berig ​thenextweb.

“Ons is basies uitverkoop tot die eerste helfte van volgende jaar.”

Die reeks batterye wat Tesla verlede week bekend gestel het, is daarop gemik om son- en windkrag te berg om ’n betroubare bron van elektrisiteit te skep, selfs wanneer die wind nie waai of die son nie skyn nie.

Die batterye sal teen die einde van 2016 wêreldwyd beskikbaar wees – ook in Suid-Afrika, berig ​MyBroadband.

Die battery is ’n herlaaibare litiumioonbattery wat teen die muur gemonteer word. Dit sal laai wanneer kragpryse laer is vanweë laer vraag sodat jy die gebergde krag kan gebruik wanneer tariewe hoër is. Dit kan ook met sonkrag gelaai word en kan met kragonderbrekings as jou rugsteunkrag dien.

Tesla het Woensdag aangekondig dat sy verkope vir die eerste kwartaal met sowat 52% tot $939,9 miljoen toegeneem het.

Hy het egter ’n verlies van $154 miljoen in die kwartaal gely – meer as drie keer so groot as die verlies in die ooreenstemmende kwartaal ’n jaar gelede, berig Fortune.com.

Hy het 10 045 van sy Model S- elektriese motor in die kwartaal verkoop, of 55% meer as ’n jaar gelede.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.