Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Aandeelhouers sê aikôna vir EOH-base se hoë lone
EOH is die grootste verskaffer van tegnologieprodukte in Afrika. Foto: EOH

’n Oorweldigende meerderheid van EOH se aandeelhouers het teen die maatskappy se beplande vergoeding van sy topbestuur gestem.

EOH se algemene jaarvergadering is Donderdag gehou.

Altesaam 65,3% van aandeelhouers het teen EOH se vergoedingsbeleid en die implementering daarvan gestem. Dié syfer was 25% die vorige jaar.

Die maatskappy is egter onder geen wetlike verpligting om sy vergoedingsbeleid te wysig nie.

Tog stuur aandeelhouers ’n duidelike boodskap dat hulle ontevrede is met Stephen van Coller, EOH se betreklik nuwe uitvoerende hoof, se totale vergoedingspakket van meer as R19 miljoen per jaar.

Van Coller moes in September tydens die bekendmaking van die maatskappy se resultate vir die jaar tot einde Julie pa staan vir grootskaalse bedrog wat oor etlike jare by EOH plaasgevind het.

Gebrekkige bestuur en wanbesteding is as die vernaamste redes aangevoer oor waarom die bedrog van byna R1 miljard onder sy voorgangers se leierskap gepleeg is.

LEES OOK: Dié 5 foute kos EOH R3,7 miljard, erken hoof

Van Coller is sedert 1 September 2018 die uitvoerende hoof van EOH en probeer sedertdien die maatskappy weer winsgewend maak.

EOH se bedryfsverlies vir die afgelope boekjaar beloop R3,373 miljard, 152% meer as die vorige jaar.

Die totale verlies vir die tydperk onder oorsig beloop R4,8 miljard.

Stephen van Coller, uitvoerende hoof van EOH.Foto: EOH

Nietemin het die maatskappy se direksie ’n basiese salaris van R5 miljoen per jaar vir Van Coller en R2,2 miljoen per jaar vir Megan Pydigadu, finansiële hoof, goedgekeur.

Die topbestuur se vergoeding sluit wel koste verbonde aan ’n mediese fonds, ongeskiktheidsversekering en ander byvoordele in.

Fatima Newman, EOH se nuwe risikobestuurder, het ’n goue handdruk van R3 miljoen ontvang toe sy einde Julie in die pos aangestel is.

Sy gaan deur die loop van die huidige boekjaar nog R4 miljoen in bonusse ontvang.

Van Coller is aanvanklik met ’n bonus van R5 miljoen beloon kort ná sy aanstelling in September verlede jaar. Hy het in Oktober vanjaar nóg R5 miljoen ontvang.

EOH gaan hom in die komende boekjaar nóg R4 miljoen in bonusse betaal.

Sowel Van Coller as Newman moes uit bestaande kontrakte by ander maatskappye uitgekoop word, vandaar die hoë aansluitingsbonusse wat hulle ontvang het, verduidelik EOH in sy geïntrigeerde jaarverslag.

Die uitbetaling van toekomstige bonusse is wel gemeet aan individuele prestasie en hoe die maatskappy as ’n geheel presteer.

Van Coller het in September bevestig dat bedrog van R935 miljoen oor etlike jare by die tegnologiefirma gepleeg is.

LEES OOK: Só is bedrog van bykans R1 mjd. by EOH gepleeg

R665 miljoen daarvan is betalings vir werk wat nooit gedoen is nie.

R180 miljoen was weens oordrewe fakture vir werk verrig terwyl die laaste R90 miljoen afgeskrewe lenings behels.

Die maatskappy het 16 werknemers in verband met die bedrog afgedank en daar is begin met regstappe teen hulle.

EOH hoop ook om van die verlore geld terug te win by die sowat 50 sakeondernemings wat uit die bedrog voordeel getrek het.

Die name van die betrokke maatskappye is nie bekend gemaak nie.

In ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, sê EOH hy het reeds begin uitreik na die “ontevrede aandeelhouers” wat teen sy beplande vergoedingspakket gestem het.

Hy nooi ook enige aandeelhouer uit om hul griewe in hierdie verband voor die einde van Januarie aan die maatskappy se sekretaris te stuur.

“EOH sal alle kommer oor die kwessie oorweeg en stappe doen om redelike besware en bekommernisse aan te pak.”

Die maatskappy se aandeelprys was Vrydag 2,5% laer op R12,39.

Meer oor:  Eoh  |  Eoh Holdings  |  Tegnologie  |  Vergoeding  |  Tegnologiemaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.