Die boodskapdiens WhatsApp het aan sy sowat twee miljard gebruikers gevra om nuwe voorwaardes te aanvaar wat hom toelaat om inligting met sy moedermaatskappy, Facebook, te deel as hulle steeds WhatsApp wil gebruik.
Duisende gebruikers is reeds oor die verandering ingelig deur ’n kennisgewing wat opduik as hulle die app gebruik.
“As jy op die aanvaar-knoppie klik, aanvaar jy die nuwe voorwaardes wat van 8 Februarie in werking tree. Jy kan ook die hulpsentrum besoek as jy sou verkies om jou profiel uit te wis,” lui die kennisgewing.
Facebook beoog om WhatsApp te gebruik om inkomste te verdien deur ondernemings toe te laat om sy gebruikers via die platform te kontak en produkte regstreeks aan hulle te verkoop.
Inligting wat onder die nuwe voorwaardes met Facebook gedeel sal word, sluit in jou selfoonnommer, battery-persentasie, jou diensverskaffer, jou konneksie-inligting, jou taal, tydsone en IP-adresse.
Die inhoud van boodskappe bly egter privaat.
Diegene wat nie die regulasies aanvaar nie, sal teen 8 Februarie nie meer toegang tot die boodskapdiens hê nie.
Volgens ’n WhatsApp-woordvoerder is daar geen veranderinge aan die boodskapdiens se datadelingspraktyke in die Europese Unie (insluitend die Verenigde Koninkryk) wat spruit uit die opgedateerde voorwaardes nie.
Facebook het WhatsApp in 2014 vir $19 miljard gekoop.
– The Sun, Forbes, AFP en The Irish Times