Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Afleggings by Telkom ‘dringend nodig’, sê hoof

Telkom se bestuur moes “dringend” die maatskappy se bedryfsmodel hersien, en daarom is daar besluit om onmiddellik met die proses te begin om ’n derde van sy arbeidsmag by sekere van sy afdelings af te lê.

Sipho Maseko, Telkom se uitvoerende hoof. Foto: Cornel van Heerden

“Dié besluit is betreurenswaardig, maar moet geneem word om die volhoubaarheid van ons besigheid deur hierdie moeilike tye te verseker,” skryf Sipho Maseko, uitvoerende hoof, in ’n brief wat Donderdagoggend aan Telkom-werknemers gestuur is.

’n Bron het die brief op voorwaarde van anonimiteit aan Netwerk24 gestuur.

Netwerk24 het Telkom ook om kommentaar op die beplande afleggings genader. 'n Woordvoerder het bevestig daar is met die proses begin, maar wou nie verder daaroor uitwei nie omdat onderhandelinge nog moet plaasvind.

Dit het Woensdag aan die lig gekom Telkom beplan om tot 3 000 personeellede af te lê by vier van sy afdelings of filiale.

Volgens Maseko gaan die afleggings in twee rondes plaasvind met die eerste ronde wat op personeel by OpenServe, verbruikersdienste en Trudon (voorheen bekend as Yellow Pages) fokus. By hierdie afdelings werk 9 199 mense.

Die tweede ronde afleggings gaan op Telkom se korporatiewe afdeling fokus, waar 310 mense werk. Dit sluit in mensehulpbronne.

Altesame 9 509 personeellede word dus deur moontlike aflegging in die gesig gestaar. Baie van hulle sal heraansoek moet doen vir nuwe poste.

Telkom se totale arbeidsmag beloop meer as 15 197, volgens sy halfjaarresultate tot einde September 2019.

Ons moet nader aan die kliënt beweeg en sorg dat ons toepaslik reageer.
Sipho Maseko, Telkom se uitvoerende hoof

Telkom hoop om die eerste ronde afleggings teen einde April af te handel en die tweede ronde teen einde Augustus.

Hoekom wil Telkom mense afdank?

Volgens Maseko is die herstrukturering ’n “regstreekse reaksie op kliënte se verwagtinge om beter diens en meer waarde vir minder geld te ontvang.

“Ons moet nader aan die kliënt beweeg en sorg dat ons toepaslik reageer.”

Telkom is dikwels in die nuus weens sy skynbaar swak kliëntediens wat Suid-Afrikaners die harnas in jaag.

Telkom beplan om tot 3 000 werknemers af te lê.Foto: Getty Images

Netwerk24 het byvoorbeeld in Februarie 2019 berig van twee Telkom-kliënte se nagmerrie-ervaring om hul kontrakte by die diensverskaffer te kanselleer. Etlike lesers het soortgelyke verhale gedeel.

Volgens Maseko wil Telkom nou daarop fokus om beter kliëntediens te lewer en sy besigheid te groei terwyl hy steeds die koste daaraan verbonde “aansienlik verminder”.

Die maatskappy bly terselfdertyd daarop gefokus om in alle gebiede koste te verlaag, iets wat “almal se verantwoordelikheid” is, sê Maseko.

“Sommige van julle het reeds goeie voorstelle gemaak oor hoe ons dit kan doen, en ons moet almal ywerig wees om die planne op elke gebied in werking te stel.”

Is Telkom werklik in só ’n finansiële verknorsing?

Telkom se mobiele afdeling is verreweg die diensverskaffer wat die vinnigste groei. In die ses maande tot einde September het Telkom se inkomste uit mobiele dienste met ’n enorme 56,6% tot R5,6 miljard opgeskiet, grootliks danksy die styging in sy aantal kliënte.

Telkom bloei egter steeds intekenare van sy vastelyn- en internetdienste.

Sy bedryfsinkomste het in dieselfde tydperk met 4,7% tot R21,5 miljard toegeneem.

Kapitaaluitgawes het met bykans 30% tot R4,2 miljard toegeneem soos wat Telkom in mobiele en veselinfrastruktuur belê. 

Sy aandeelprys het ’n loesing oor die laaste ses maande ontvang en van net onder R100 in Junie tot so min as R30 per aandeel vroeg in Januarie gedaal.

Beleggers blyk vertroue te verloor het in Telkom se vermoë om alleenlik uit mobiele dienste ’n winsgewende onderneming te word, siende dat dit steeds verreweg Suid-Afrika se kleinste selfoonnetwerk is gegrond op aantal intekenare.

’n Poging om die sukkelende Cell C vir ’n onbekende bedrag te koop, het einde verlede jaar misluk.

OpenServe, sy afdeling vir groothandeldienste insluitende vastelyndienste en vesel, boer ook agteruit.

Telkom se inkomste uit vastelyndienste het in die halfjaar tot einde September met meer as 21% gedaal soos wat al meer mense na mobiele tegnologie, maar nie noodwendig Telkom s’n nie, oorskakel.

Kapitaalbeleggings in hierdie en ander afdelings het ook die maatskappy se winste geknou.

Sy korttermynskuld beloop meer as R15,5 miljard.

Daarbenewens blameer Telkom kwaai mededinging vir goedkoop data, ’n gesloer met die toekenning van bykomende hoëfrekwensiespektrum en probleme met reguleerders as van die vernaamste redes oor waarom hy personeel moet aflê.

Maseko sê Donderdag aan personeel dat hy eintlik reeds in September in sy brief aan beleggers gewaarsku het dat moeilike tye by Telkom voorlê weens “veranderinge in die struktuur van die telekommunikasiemark”.

“Ons gaan voort om alles wat ons doen te hersien om maniere te vind om dit doeltreffender te doen,” sê hy.

Telkom se aandeelprys het gunstig op die nuus van moontlike afleggings gereageer en was Donderdag deur die loop van die oggend meer as 6% hoër op R36,71.

Meer oor:  Telkom  |  Sipho Maseko  |  Selfoonmaatskappye  |  Internet  |  Telekommunikasie  |  Data  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.