Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Aikôna, dié dataplanne is ‘verwarrend’, sê raad
Standard Bank Mobile se advertensies vir sy dataplanne is te verwarrend. Foto: Publicdomainpictures

Nadat ’n verbruiker gekla het, was die Advertensiebeheerraad (ABR) net so verward oor Standard Bank Mobile se prysstrukture.

Die ABR het op 11 Oktober beslis dat Standard Bank Mobile sy advertensies vir hoe sy dataplanne werk, moet verwyder en wysig, want in die huidige formaat is dit “dubbelsinnig”, “onduidelik” en “verwarrend”.

Standard Bank het in November 2018 sy eie virtuele selfoonnetwerk, soortgelyk aan dié van ander soos FNB, bekend gestel.

Die prysstrukture is egter anders. Verbruikers kry lugtyd gegrond op watter bankrekening of kredietkaart hulle by Standard Bank het, dan kies hulle boonop pakkette om by te voeg wat die tariewe van die lugtyd en data bepaal. Transaksies met kaarte wat aan die betrokke rekeninge geskakel is en dus lugtydpakkette verander ook jou koste en die hoeveelheid lugtyd wat toegeken word.

Garron Dace het die aanvanklike klagte by die ABR ingedien. Hy het veral beklemtoon dat die prys van data op Standard Bank se webwerf erg verwarrend is.

Selfs die ABR sê in sy verslag dat die volgende bewoording van die datapakket nie deur ’n redelike persoon korrek verstaan sal word nie: “Betaal R149 per maand en jou lugtyd word teen 7c per megagreep gebruik.”

Dace het aangevoer dat dit vir hom gelyk het asof hy dan R149 se data sou hê wat teen 7c per megagreep (MB) gebruik sou word.

Die ABR stem saam, en sê boonop maak die voorbeeld elders op die webwerf oor hoe die ingewikkelde prysstrukture werk, dit net nog meer verwarrend.

Só lui die voorbeeld op Standard Bank Mobile se webwerf: “John Smith het ’n private bankrekening. Hy kwalifiseer vir die Private Account Flexi-aanbod, wat hom op R369 GRATIS (sic) lugtyd (die ekwivalent van sy bankkoste) geregtig maak teen ’n intekentarief van R39 per maand. John is ’n slimfoon-foendi en het ’n dataplan van R0,12 per MB gekies teen R69 en ’n belplan van R0,79 per minuut teen R79 bygevoeg. Sy R369 GRATIS (sic) lugtyd sal nou teen R0,12 per MB en op R0,79 per minuut gebruik word. John word ook beloon in data vir sy krediet-, debiet- en tjekkaart-besteding.”

Standard Bank voer aan dat dit eenvoudig is om tot die gevolgtrekking te kom dat die koste wat jy vir die datapakket betaal, jou slegs toegang gee tot ’n tarief vir elke MB, wat dan van jou aparte “gratis” lugtyd afgetrek word, maar niks met die koste van die datapakket self te doen het nie.

Die ABR sê dié interpretasie is onwaarskynlik. ’n Verbruiker sou moes uitwerk hoeveel data hy kan kry gegrond op sy bankkoste en dit vergelyk met hoeveel data hy sou kon gebruik sonder die pakket se koste.

“Dié ingewikkelde wiskundige redenering sou die verbruiker waarskynlik dwing om dié interpretasie as die waarskynlikste betekenis van die advertensie te verwerp.”

Die voorbeeld, sê die ABR, “verskaf hoegenaamd geen duidelikheid nie”.

“Die ABR is van die mening dat die advertensie op sy beste dubbelsinnig uiteengesit is.”

Meer oor:  Standard Bank  |  Datakoste  |  Tegnologie  |  Datapryse  |  Data  |  Selfoon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.