Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Airbnb's kry weer gaste, maar nie noodwendig in SA

Airbnb het vir die eerste keer in meer as vier maande meer as ’n miljoen besprekings op een enkele dag aangeteken.

airbnb,
Airbnb het op 8 Julie weer vir die eerste keer in vier maande meer as 1 miljoen besprekings op een dag gesien.

Op 8 Julie is meer as ’n miljoen nagte in bestemmings oor die wêreld heen op Airbnb bespreek. Die laaste keer dat Airbnb soveel besprekings op een dag gehad het, was op 3 Maart, sê die maatskappy in ’n inskrywing op sy korporatiewe blog.

Die helfte van die besprekings wat op 8 Julie gemaak is, is vir bestemmings verder as 500 km van die persoon af wat die bespreking gemaak het.

’n Groot aantal besprekings is vir die landelike gebiede van die VSA, waar daar nie juis enige streng inperkingsmaatreëls geld nie.

Airbnb se verteenwoordigers in Suid-Afrika kon egter nie besonderhede verskaf oor of plaaslike besprekings ook weer besig is om kop op te tel nie.

Kragtens die regulasies op vlak 3 van die staat van inperking mag hotelle en ander gelisensieerde verblyfplekke weer in bedryf wees.

Pres. Cyril Ramaphosa het egter verlede maand “gedeelde akkommodasie soos Airbnb” uitgesonder as verblyf wat nog nie mag heropen nie.

Verskeie hotelle en gastehuise lys wel ook verblyf op platforms soos Airbnb, Booking.com en Lekkeslaap.

Suid-Afrikaners mag op vlak 3 van die inperking ook net vir sakedoeleindes reis, wat ’n verdere demper op moontlike besprekings vir ontspanningsdoeleindes plaas.

Die maatskappy het wel begin om ’n omvattende handleiding vir huiseienaars op te stel oor die protokolle wat gevolg moet word om te verseker dat die eenhede veilig is.

Airbnb het onder meer ’n vennootskap met SweepSouth, alombekend as die “Uber van huiswerkers”, aangegaan om huiseienaars in behoorlike skoonmaakmetodes op te lei.

Huiseienaars kan die volledige skoonmaakgids op Airbnb se webwerf bekom.

Intussen sê Velma Corcoran, bestuurder van Airbnb in Afrika suid van die Sahara, die eienaars van private wonings op Airbnb is nog baie verward oor of hulle gaste mag ontvang of nie.

“Plaaslike eienaars staan gereed om weer gaste te verwelkom, maar hulle is verward oor die regering se aankondiging dat net hotelle en ander gelisensieerde verblyfplekke mag heropen,” sê sy.

In ander lande word private wonings as plekke van verblyf juis voor hotelle heropen omdat dit as veiliger beskou word.

Daar word aangevoer dat groot groepe mense rondmaal in die ontvangsgebiede van hotelle, wat tot die moontlike verspreiding van die koronavirus kan lei.

In die geval van private akkommodasie is dit nie die geval nie en kan ’n veilige afstand te alle tye tussen die eienaars en gaste gehandhaaf word.

Volgens Airbnb is verreweg die meeste van die 1 miljoen besprekings wat op 8 Julie gemaak is, vir reise wat binne ’n maand gaan plaasvind.

Volgens die maatskappy dui dit waarskynlik daarop dat mense nou meer as ooit tevore gretig is om net ’n bietjie weg te kom.

Meer oor:  Airbnb  |  Hotel  |  Staat Van Inperking  |  Toerisme  |  Verblyf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.