Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Al die grootste Zoom-flaters tot nou toe
Meer as 700 000 ondernemings wat meer as tien werknemers het, betaal nou vir Zoom se diens. Foto: Reuters

Terwyl konferensiedienste soos Zoom bykans sinoniem geraak het met die koronavirus-pandemie, het dié dienste verbruikers ook al in ’n verleentheid laat beland.

Hoewel Zoom juis gedurende die pandemie gebruik word om met kollegas en familie in kontak te bly, het sommiges onwetend die kuberruim toegang tot hul privaatheid gebied wanneer daardie uiters belangrike kameraknoppie nie afgeskakel word nie.

Een van die mees onlangse gevalle wat ’n opskudding veroorsaak het, was toe Jeffrey Toobin, ’n bekende mediapersoonlikheid in Amerika, glo vroeër die maand gemasturbeer het terwyl die kamera aan was. Sy werkgewer, die New Yorker, het hom tydelik geskors.

In nog ’n voorval wat vroeër vanjaar soos ’n veldbrand op sosiale media versprei en tot die hutsmerk #poorjennifer gelei het, het ’n vrou, slegs bekend as Jennifer, haar skootrekenaar se kamera aan vergeet toe sy op die toilet gaan sit het.

Talle spotprente het ook uit die voorval ontstaan, met Zoom-gebruikers wat dié soort oomblik as hul grootste vrees bestempel.


Net soos sakelui aanlyn met hul bedrywighede voortgegaan het gedurende die pandemie, het geloofsleiers ook hul dienste aanlyn gehou. In Italië het ’n priester per ongeluk sy diens ietwat opgekikker deur die kleurvolle filterfunksie aan te skakel.

In ’n video wat deur die Daily Mail gepubliseer is, word gesien hoe priester Paolo Longo in sy gewaad langs ’n kruis staan en sy diens lewer, voordat virtuele konfetti rondom hom skiet en ’n verskeidenheid van hoede en brille oor sy gesig geplaas word.

Maar selfs in ’n tyd voor die pandemie het sake nie altyd seepglad verloop vir mense wat aanlyn vergaderings hou nie.

Robert Kelly, ’n politieke wetenskaplike, het die bynaam “BBC Dad” gekry nadat sy twee jong kinders in 2017 ten tyde van ’n regstreekse televisie-onderhoud met BBC by sy kantoor ingebars en ’n chaos veroorsaak het.

Kelly, wat in Suid-Korea woon, het gedurende die inperking weens die koronavirus weer met die BBC gepraat oor hoe dit is om tuis te werk.

Ook op eie bodem het die Suid-Afrikaanse parlementslede (LP’s) kort ná die aankondiging van die nasionale inperking in ’n aanlyn vergadering presies geleer wat ’n Zoom-bom is toe pornografiese materiaal op deelnemers se rekenaarskerms verskyn.

Kuberkrakers wat ’n vergadering kaap deur onregmatige toegang tot ’n vergadering te verkry en die verrigtinge te ontwrig, word as Zoom-bomme bestempel, iets waaroor dié konferensiedienste vroeër die jaar gekap is toe vrae oor veiligheidskwessies ontstaan het.

Ondanks dié kritici het Zoom se inkomste in sy tweede kwartaal op ’n jaargrondslag met 355% toegeneem.

Netwerk24 het verlede maand berig Zoom se totale inkomste vir die kwartaal onder oorsig beloop sowat $663,5 miljoen, terwyl meer as 370 000 ondernemings met meer as tien werknemers elk, nou vir Zoom se dienste betaal

Meer oor:  Zoom  |  Sosiale Media  |  Tegnologie  |  Video
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.