Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Al hoe meer ouer mense gebruik Facebook
’n Nuwe verslag voorspel dat 2018 die eerste jaar gaan wees dat die getal jong mense op Facebook beduidend daal, terwyl die hoeveelheid ouer mense skerp styg. Foto: Pixabay

Dis amptelik: Facebook is die voorkeur-sosialemediaplatform vir ou(er) mense.

Luidens ’n nuwe verslag deur die Amerikaanse navorsingsmaatskappy eMarketer verloor Mark Zuckerberg se sosiale netwerk jong mense teen ’n snelle pas terwyl gebruikers ouer as 55 skerp toeneem.

Volgens die studie gaan 2018 die eerste jaar wees dat minder as die helfte van Amerikaners tussen 12 en 17 jaar oud Facebook minstens een keer ’n maand gaan besoek.

Die oorgrote meerderheid tieners en jong volwassenes tot so oud as 24 verkies Instagram en veral Snapchat, aldus die studie.

Daar word voorspel dat die getal 12- tot 17-jariges en 18- tot 24-jariges op Facebook met onderskeidelik 5,6% en 5,8% deur die loop van die jaar gaan daal. Dis die eerste keer dat eMarketer, wat elke jaar ’n soortgelyke verslag uitreik, só ’n daling voorspel.

Die verwagting is dat tot 2 miljoen gebruikers jonger as 24 Facebook vanjaar permanent gaan verlaat.

eMarketer voorspel wel dat nie al dié gebruikers outomaties na Instagram gaan migreer nie.

Dié gewilde foto-platform sal vanjaar minstens 1,6 miljoen nuwe gebruikers jonger as 25 bykry, terwyl Snapchat na verwagting byna 2 miljoen nuwe lede in dieselfde ouderdomsgroep gaan werf.

Fassinerende Facebook-feite:
  • Byna 30% van Suid-Afrikaners gebruik Facebook op ’n gereelde grondslag. Dit kom neer op sowat 16 miljoen mense.
  • In Amerika styg dié persentasie tot 79% van die totale bevolking wat Facebook gebruik.
  • Wêreldwyd is daar meer as 2,13 miljard aktiewe Facebook-gebruikers, van wie minstens 1,4 miljard dit daagliks gebruik.
  • 22% van die wêreldbevolking het ’n Facebook-profiel.
  • 400 nuwe profiele word elke minuut geskep.
  • Minstens 83 miljoen Facebook-profiele is vals, of duplikate van ander profiele, berig Forbes.
  • Meer as 300 miljoen foto’s word elke dag gelaai.
  • Facebook-gebruikers besoek die platform ’n gemiddeld van agt keer per dag.
  • 83% van ouers met tieners tussen die ouderdomme van 13 en 17 is vriende met hul kinders op Facebook.
  • Die gemiddelde Facebook-gebruiker het 155 “vriende” op die platform.

Danksy die gesonde groei wat vir Instagram voorspel word, is Facebook waarskynlik nie te bekommerd oor sy verlies aan jong mense nie. Dié platform het Instagram in 2012 vir nagenoeg $1 miljard gekoop.

Meer as net 'n teorie

“Facebook het ’n tienerprobleem,” sê Bill Fisher, ’n senior ontleder by eMarketer. “Hierdie jongste voorspelling wys dis meer as net ’n teorie. Tot dusver kon die netwerk daarop staatmaak dat gebruikers wat migreer deur Instagram opgeslurp word. Maar nou verkies jonger gebruikers Snapchat.”

Snapchat, wat in 2011 begin is, laat gebruikers toe om foto’s, boodskappe en video’s wat binne 24 uur verdwyn aan vriende en volgelinge te stuur. Ondanks die platform se gewildheid in lande soos Amerika, Kanada en Engeland, was dit nog nooit baie gewild in Suid-Afrika nie. Minder as 2% van die bevolking gebruik dit hier, luidens navorsing deur Carablu, ’n digitale bemarkingsagentskap.

Intussen raak die gemiddelde gebruiker van Facebook al hoe ouer. Diegene bo 55 verteenwoordig reeds die naasgrootste demografie op die netwerk, net minder as die getal 16- tot 34-jariges, berig The Guardian.

eMarketer voorspel dat nog ’n halfmiljoen gebruikers ouer as 55 hulle vanjaar by die platform gaan aansluit.

“Daar is verskeie faktore wat hier ’n rol speel,” sê Richard Broughton, ’n ontleder by Ampere.

Volgens hom skrik ouer mense dikwels eers later wakker as dit kom by internetneigings. “En met Facebook se nuwe voorkeur vir video’s en foto’s is dit die ideale platform vir ouer mense om op die hoogte te bly van hul kinders en kleinkinders se sosiale lewe.”

Facebook se uitvoerende hoof, Zuckerberg, het juis verlede maand aangekondig dat plasings deur families en vriende voortaan voorkeur gaan geniet in gebruikers se nuusstrome.

Snapchat het ook in die afgelope paar weke groot veranderinge aan die uitleg van sy platform aangebring, ondanks ontevredenheid en heftige teenkanting deur talle van sy gebruikers.

Die platform tref nou ’n duidelike onderskeid tussen inhoud van familie en vriende en dié van nuusagentskappe en bekendes.

Bronne: The Guardian, eMarketer, Businesstech, Facebook Newsroom

Meer oor:  Facebook  |  Instagram  |  Snapchat  |  Tegnologie  |  Slimfone  |  Internet  |  Ouderdom  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.