Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Al meer kuberaanvalle soos Covid-19-getalle styg

Daar blyk ’n duidelike verband tussen die toename in Covid-19-gevalle en die aantal kuberaanvalle wêreldwyd te wees.

Dit ooreenkoms is duidelik as die aantal kuberaanvalle en Covid-19-infeksies sedert Januarie op ’n lyngrafiek vergelyk word.

kuberaanval

Kuberkrakers steun veral swaar op vervalste e-posse om niksvermoedende internetgebruikers met ’n slap riem te probeer vang.

Volgens die plaaslike sekerheidsmaatskappy Sendmarc, wat juis e-posstelsels probeer beveilig, het die aantal uitvissing-e-posse tussen Januarie en Maart vanjaar met meer as 600% toegeneem.

Die meeste van die aanvalle was boonop op gesondheidswerkers en hospitale oor die wêreld heen.

Op eie bodem is die hospitaalgroep Life Healtcare in Junie deur kuberkrakers geteiken en was sy stelsels dae lank van lyn af.

Volgens data van Kaspersky is bykans 617 000 sulke e-posslenters in die tweede kwartaal vanjaar op Suid-Afrikaners geloods.

LEES OOK: Pasop! Skelms gebruik graag dié truuk

“Uitvissing is een van die oudste, en mees buigbare tipes aanvalle,” sê die onderneming wat spesialiseer in antivirusprogrammatuur.

Die aanvaller hoop gewoonlik die slagoffer sal persoonlike inligting, soos aanmeldbesonderhede, op ’n webwerf invoeg wat vervals is om soos dié van ’n gerekende onderneming soos ’n bank te lyk.

Suid-Afrikaners loop die meeste deur onder dié tipe aanvalle op die vasteland, het Kaspersky bevind.

Kuberkrakers buit die wêreldwye pandemie uit deur meer aanvalle te loods. Foto: Unsplash

Booswigte het ook begin om die pandemie uit te buit en met nuwe slinkse planne vorendag gekom om slagoffers te probeer vang.

Dit sluit in ’n groot toename in vals e-posse van maatskappye soos koerierdienste wat tydens die pandemie besonder besig was.

Skelms vervals die e-pos van ’n koerierdiens en heg ’n aanhangsel aan wat glo die aanwysings bevat na ’n pakhuis waar ’n pakkie vir die slagoffer wag.

Die aanhangsel bevat indringerware wat die kuberkraker toegang tot die slagoffer se rekenaar gee.

Vervalste e-posse van banke en ander finansiële instansies was ook volop.

Suid-Afrikaners is oorval met vervalste e-posse van banke wat skuldverligting of krediet beloof, maar dit was alles ’n leuen en net skelms wat probeer het om mense se aanmeldbesonderhede vir hul bankdienste te bekom.

Wêreldwyd het die aanvalle op hospitale en gesondheidswerkers so erg geword dat Interpol in April ’n waarskuwing uitgereik het dat mediese personeel nie e-posse van enige bron moet oopmaak wat hulle nie herken nie.

Volgens Sacha Matulovich, medestigter van Sendmarc, is Suid-Afrikaanse hospitale veral kwesbaar vir sulke aanvalle omdat die nodige veiligheidsmaatreëls nie in plek is nie.

Die meeste hospitale se webwerwe en rekenaarstelsels word as “onveilig” beskou en loop die risiko om maklik binnegedring te word, het Sendmarc bevind.

Meer oor:  Bedrog  |  Kuberaanval  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.