Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Alles wat jy oor die nuwe Android 9 moet weet
Android se jongste bedryfstelsel staan as Android Pie bekend.Foto: Google

Die jongste weergawe van die Android-bedryfstelsel is hier en dis propvol prettige nuwe funksies.

Google, die skepper van Android, het aangekondig die negende weergawe van Android is van vandeesweek beskikbaar vir sy nuwe Pixel slimfoon.

Oudergewoonte het die nuwe bedryfstelsel ook ’n oulike naam: Android Pie.

Watter funksies is nuut?

Pie kom met ’n aantal verbeteringe op sy voorgangers, insluitende die gebruik van kunsmatige intelligensie om gebruikers se gewoontes te leer en outomaties verstellings daarvolgens aan te pas.

“Android 9 pas aan by jou lewe en die maniere waarop jy jou foon gebruik,” sê Google in ’n verklaring op sy korporatiewe blog.

“Dit voorspel jou volgende taak en prioritiseer batterykrag vir die apps wat jy die meeste gebruik.”

Nóg ’n opwindende nuwe funksie is die sogenaamde “Digital Wellbeing”-platform, waarop gebruikers beperkings kan stel vir hoe lank hulle bedags op hul slimfone wil bestee. Dis Google se teenvoeter vir die algemene kritiek dat slimfone vandag te verslawend geword het.

Die platform sal ’n oorsig bied van hoe baie tyd die gebruiker op sy toestel bestee, sowel as ’n ontleding van watter apps die meeste aandag geniet.

Sodra gebruikers naby aan die perk kom wat hulle self per app instel, sal ’n alarm loei wat vra dat jy nou eers die foon bêre.

Gebruikers sal ook anders tussen apps beweeg. Die bekende regterkantste knoppie verdwyn en soortgelyk aan iPhone X sal gebruikers tussen apps “vee”. Die “Home”- en “Back”-knoppies word wel behou.

Waarom Pie?

Die verskillende weergawes van Android se bedryfstelsel word altyd na ’n nagereg of soetdingetjie vernoem.

Derhalwe het ons reeds Jelly Bean, KitKat, Lollipop, Marshmallow en Oreo gehad.

Volgens die BBC was daar eers gegis dat die nuwe bedryfstelsel Pistachio Ice Cream sou heet, maar ’n ontwikkelaar daarvan het verduidelik Google wou dinge doelbewus eenvoudig hou.

“Dit dui op ons mikpunt met Android in die algemeen. Ons wil ’n eenvoudige gebruikerservaring skep wat meer intuïtief is,” sê Andrei Popescu, hoofingenieur vir Android in Londen.

Wanneer is dit hier beskikbaar?

Oudergewoonte maak Google die nuwe Android-bedryfstelsel eerste beskikbaar op sy eie Pixel-slimfoon.

Dié fone is nie algemeen in Suid-Afrika beskikbaar nie.

Android Pie is wel reeds getoets op Sony- en Xiaomi-toestelle, wat gewild in Suid-Afrika is.

Volgens Google sal nuwe toestelle van dié vervaardigers reeds voor die einde van die jaar met Android Pie verskeep word.

Bronne: Google Blog, Mashable, The Verge, BBC

Meer oor:  Google  |  Android  |  Slimfone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.