Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Amerika verbied nóg ’n Chinese firma

Die regering van Amerika se pres. Donald Trump is oorgehaal om nóg ’n Chinese tegnologievervaardiger te verbied om sake met enige Amerikaanse onderneming te doen.

Amptenare in die handelsdepartement het volgens bronne verskeie Chinese ondernemings, waaronder ’n vervaardiger van mikroskyfies vir rekenaars en selfone, by sy “swartlys” van maatskappye gevoeg, wat reeds die Chinese tegnologievervaardiger Huawei bevat.

Semiconductor Manufacturing International Corp (SMIC) steun swaar op Amerikaanse maatskappye om hom van sekere onderdele te voorsien.

Die Amerikaanse departement van verdediging het intussen vier ander Chinese maatskappye geïdentifiseer wat volgens hom deur die Chinese weermag bedryf word.

Dié maatskappye is nou ook tot die swartlys gevoeg wat reeds die name van 35 ondernemings bevat.

Trump het onlangs ’n uitvoerende bevel onderteken wat Amerikaanse beleggers van aanstaande jaar af sal verbied om aandele in enige van dié ondernemings te bekom.

In die lig van die verbod het SMIC in ’n verklaring gesê hy sal voortgaan om “konstruktief en openlik met die Amerikaanse regering te skakel” en bygevoeg sy produkte en dienste is uitsluitlik vir burgerlike en kommersiële gebruik.

“Die maatskappy het geen verhouding met die Chinese regering nie en vervaardig nie toerusting vir enige militêre produk nie.”

Huawei se 5G-toerusting word in verskeie lande verbied op grond van veiligheidskwessies. Foto: Getty Images

Huawei, China se grootste vervaardiger van onder meer selfone en netwerktoerusting, is reeds sedert Mei 2019 verbied om sake met Amerikaanse ondernemings te doen.

Dit het Huawei se inkomste en vermoë om nuwe toestelle te vervaardig, reeds ernstig geknou.

In nóg ’n terugslag het die Britse regering gelas telekommunikasiemaatskappye daar mag ná September 2021 geen toerusting van Huawei vir die uitbreiding van hul selfoonnetwerke gebruik nie.

Brittanje het reeds vroeër gesê alle 5G-toerusting van Huawei moet teen die einde van 2027 van selfoonnetwerke daar verwyder word.

Kwessies is geopper rakende die veiligheid van hierdie toerusting ten opsigte van nasionale sekuriteit.

China het die besluit gekritiseer terwyl Huawei ’n week gelede aangedui het hy is “teleurgesteld” dat Brittanje sy toerusting wil uitsluit in die uitbreiding van sy 5G-selfoonnewerk.

Plaaslike telekommunikasiemaatskappye kan met tot £100 000 (meer as R2 miljoen) beboet word sou hulle die verbod verontagsaam.

Die verbod raak wel nie Huawei se bedrywighede in ander lande nie, waaronder Suid-Afrika.

Huawei is een van MTN se strategiese vennote in Suid-Afrika wat betref die verskaffing van 5G-tegnologie.

MTN het vroeër aan Netwerk24 hieroor gesê hy is bewus van die veiligheidskwessies rondom die gebruik van Huawei se toerusting in die ontplooiing van 5G-netwerke, maar dat hy die veiligheid van sy netwerke “deurlopend beoordeel”.

Afgesien van Brittanje en Amerika, het Australië, Kanada en Nieu-Seeland ook al hul kommer uitgespreek oor die gebruik van Huawei-toerusting vir die uitbreiding van 5G-netwerke daar.

Marknavorsers reken Huawei se wêreldwye aandeel in die mark vir selfone gaan in 2021 na verwagting tot net 4% daal. Dis ’n massiewe terugslag vir ’n maatskappy wat eens op ’n tyd oorgehaal was om die wêreldleier in slimfoonverkope te word.

Huawei se verkope beloop tans sowat 14% van totale verkope.

Meer oor:  Huawei  |  Tegnologie  |  Verbod  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.